SuperSport Schools Plus

Pelzer en Du Preez aan die spits van Montana-sege in Jubilee-liga

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Netball | Featured Netball | News , at 2024-05-09 Tags: , , , , ,

AMORÉ PRETORIUS, aanvallende vleuel van Waterkloof. FOTO: Hannes Nienaber

Die eerste netbalspanne van Hoërskool Montana en Hoërskool Zwartkop was in ‘n hewige tweestryd Donderdag in die Jubilee-liga gewikkel.

Montana het naelskraaps met 30-29 as oorwinnaars van die veld op die bane van Zwarries in Centurion gestap.

Die tuisspan het na die derde kwart ‘n skrale voorsprong van 22-20 geniet, voordat Montana in die laaste kwart diep gedelf het om tien doele teenoor Zwarries se sewe aan te teken.

Zwartkop se Rolaine Lubbe wat as plaasvervanger as doel opgekom het, was een van haar span se staatmakers. Dit was Lubbe se terugkeer na ‘n besering. Die hulpdoel, Danica Laas, verdien ook ‘n klop op die skouer vir haar vertoning op die dag.

Daar was niks tussen die twee spanne in die eerste twee kwarte van die kragmeting nie. Die spanne was 6-elk gelykop na die eerste kwart en teen rustyd het sake op 13-elk steeds gelyk gestaan.

Montana se Catthlene du Preez (hulpverdediger) asook die doel, Anjé Pelzer, was uitmuntend op die dag.

Montana kom Vrydag teen die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria in hul volgende wedstryd in dié liga te staan. Affies het verlede week sy titel as kampioen van die Wildeklawer-toernooi suksesvol teen Oranje van Bloemfontein (26-14) verdedig.

Hoërskool Garsfontein het self ‘n moeilike tameletjie oorkom deur met 27-23 oor Oos-Moot baas te wees. Die Garsies se een oog sou ongetwyfeld reeds op hul kragmeting Saterdag teen Waterkloof gewees het.

Vanjaar se kragmeting tussen dié twee skole is nie net deel van die Jubilee-liga nie, maar boonop ook ‘n Premier Interschools-wedstryd. Die kragmeting word dus regstreeks op SuperSport Schools gebeeldsend op DStv kanaal 216 asook op die toepassing.

Na die eerste kwart was daar met die telling op 6-elk nog niks tussen die twee spanne te kies nie. Oos-Moot het in die tweede kwart vlam gevat en kon met ‘n voorsprong van 12-9 gaan rus.

Die Garsies het teruggeveg in die derde kwart om sake op 18-elk gelyk te trek, voordat die tuisspan die sege in die vierde kwart beklink het.

Waterkloof het Donderdag vir Eldoraigne gemaklik met 35-20 verslaan. Eldoraigne het in die eerste kwart die Klofies nog probleme besorg. Die tuisspan kon slegs ‘n voorsprong van ‘n enkele doel (7-6) na die eerste kwart geniet.

Die Klofies het egter daarna na ‘n hoër rat oorgeskakel en teen rustyd ‘n stewige voorsprong van 17-7 opgebou. Na die derde kwart het die voorsprong na ‘n verdere 27-14 gerek.

Die Eldos kom Vrydag teen Menlopark in hul volgende wedstryd in die liga te staan.

Al die uitslae: 

Eerstespanne: Garsfontein 27, Oos-Moot 23; Waterkloof 35, Eldoraigne 20; Montana 30, Zwartkop 29.

o.19B: Oos-Moot 18, Garsfontein 11; Waterkloof 26, Eldoraigne 14; Montana 18, Zwartkop 14.
o.19C: Garsfontein 35, Oos-Moot 7; Eldoraigne 22, Waterkloof 15; Zwartkop 18, Montana 17.

o.17A: Garsfontein 22, Oos-Moot 18; Montana 21, Zwartkop 21.
o.17B: Oos-Moot 17, Garsfontein 16; Waterkloof 24, Eldoraigne 9; Zwartkop 8, Montana 8.

o.16A: Garsfontein 31, Oos-Moot 8; Eldoraigne 18, Waterkloof 18; Montana 18, Zwartkop 18.
o.16B: Garsfontein 18, Oos-Moot 15; Waterkloof 50, Eldoraigne 3; Zwartkop 19, Montana 18.
o.16C: Garsfontein 16, Oos-Moot 7; Waterkloof 33, Eldoraigne 1; Zwartkop 41, Montana 2.
o.16D: Zwartkop 38, Montana 0.

o.15A: Oos-Moot 32, Garsfontein 14; Waterkloof 18, Eldoraigne 17; Zwartkop 19, Montana 12.
o.15B: Oos-Moot 18, Garsfontein 12; Waterkloof 20, Eldoraigne 17; Zwartkop 21, Montana 12.
o.15C: Garsfontein 19, Oos-Moot 14; Waterkloof 24, Eldoraigne 2; Zwartkop 16, Montana 7.
o.15D: Garsfontein 18, Oos-Moot 10; Waterkloof 49, Eldoraigne 2; Zwartkop 24, Montana 1.

o.14A: Garsfontein 20, Oos-Moot 16; Waterkloof 21, Eldoraigne 16; Montana 19, Zwartkop 16.
o.14B: Garsfontein 18, Oos-Moot 6; Waterkloof 38, Eldoraigne 13; Zwartkop 28, Montana 18.
o.14C: Garsfontein 24, Oos-Moot 8; Waterkloof 33, Eldoraigne 3; Montana 13, Zwartkop 13.
o.14D: Garsfontein 19, Oos-Moot 11; Waterkloof 43, Eldoraigne 2; Zwartkop 14, Montana 9.

 

 

 

 

 

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.