Middies en Garsies behou onoorwonne status in die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling


Niemand sou die Hoërskool Middelburg se eerste tien wedstryde vanjaar voorspel het dat die skool se eerste rugbyspan na die eerste drie rondes van die Virseker Noordvaal Cup nog onoorwonne sal wees nie.
Die Middies het egter Saterdag sy tweede bonuspunt-sege in vanjaar se Beker-afdeling met sy oorwinning van 48-41 oor Hoërskool Rustenburg beklink.
Die span het boonop tussen in sy twee wedstryde in die Noordvaal-reeks ook vir HTS Middelburg met 26-10 ore aangesit.
Die Middies was vinnig uit die blokke teen Rustenburg. Die tuisspan het teen rustyd ‘n gemaklike voorsprong van 34-15 geniet.
Sy losskakel, Buhle Mphahlaza, het spel goed afgewissel asook met sy skopskoen dikteer waar dit plaasvind.
Dit terwyl die agterste driehoek bestaande uit Janré Oosthuizen (heelagter), Kgontse Masilela en Kgotso Peta elke keer gevaarlik gelyk het, wanneer hulle op die aanval losgelaat is.
Voorlangs het die Middies in die skrums ook die botoon gevoer. Hulle vaskopstut, Dewald du Toit, verdien hier ‘n klop op die skouer.
Die Rusties het goed teruggeveg in die weede helfte om twee bonuspunte terug huis toe te kan neem. Die span wat deur Naas Olivier afgerig word, het na twee nederlae weg van die huis daarin geslaag om vier waardevolle bonuspunte in te samel.
Die Hoërskool Garsfontein is steeds stewig in die saal op die bo-punt van die puntelys na ‘n bonuspunt-sege van 44-17 oor Noordheuwel op Berepark. Die Turkoois Bere, wat die verdedigende kampioene is, is vinnig besig om hul ritme as span te vind.
Die span se agterste driehoek – Drewyn Baron (heelagter), Yuvrah George en Neil de Kock gaan nog ‘n hele paar spanne vanjaar laat bontstaan. Elkeen van die jong manne het Saterdag ‘n draai agter die doellyn gemaak, met George wat twee keer die Nories se doellyn oorgesteek het.
Garsies het vroeër vanjaar vir Noordheuwel met 41-3 in ‘n vriendskaplike wedstryd uitgeknikker. Die Blues se breier, Stefan “Botter” Lourens, sal dus tevrede met die verbetering wees, maar steeds nie gelukkig om na twee liga-wedstryde met geen punte op die puntelys te wees nie.
Puntemakers:
Hoërskool Middelburg 48 (34) – Drieë: Siyabonga Mokgoatjana, Menzi Siyaya, Enio Manhica, Blake Faber, Siboniso Mahlangu, Janré Ooshuizen. Doelskoppe: Buhle Mphahlaza (6). Strafdoele: Mphahlaza (2). Hoërskool Rustenburg 41 (15) – Drieë: Dandré Graham, Thian Labuschagne, Aydan Willemse, Zak Swanepoel, Ricardo Enos, Donovan Mostert. Doelskoppe: Enos (4). Strafdoele: Dian Huisamen.
Garsfontein 44 (15) – Drieë: Yuvrah George (2), Derik Potgieter, Neil de Kock, Drewyn Baron, Lemarc Henry. Doelskoppe: Ruan Fluks (4). Strafdoele: Fluks (2). Noordheuwel 17 (3) – Drieë: Wilcu Roos, Prince Agu. Doelskoppe: Heinrich Smith (2). Strafdoel: Smith.
Ander spanne:
o.16: Rustenburg 30, Middelburg 22; Garsfontein 38, Noordheuwel 13.
o.15: Middelburg 27, Rustenburg 17; Garsfontein 22, Noordheuwel 20.
o.14: Rustenburg 12, Middelburg 10; Noordheuwel 12, Garsfontein 10.




