Van Geelen verskaf vonk wat Wit Bulle tot sege oor Helpies aanvuur


Die Hoërskool Monument se Wit Bulle is vanjaar sterk aanspraakmakers om as kampioen van die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling gekroon te word.
Die span van Krugersdorp het Saterdag met ‘n oorwinning van 34-26 oor Helpmekaar Kollege in Johannesburg sy negende agtereenvolgende sege vanjaar op die rugbyveld behaal. Monnas is na dié oorwinning saam met Garsfontein die enigste onoorwonne spanne oor in die Beker-afdeling.
Dit was ook die Wit Bulle se eerste oorwinning oor Helpmekaar sedert 1997 wat Tjaart van der Walt nie die breier was nie. Vir Monnas se breiers, Jannie du Plessis en Reinhard Gerber, sou dit dus ‘n spesiale dag gewees het.
Van der Walt rig deesdae Helpies af.
Die span van Krugersdorp was op sy stukke in die eerste helfte en het ‘n gemaklike voorsprong van 29-7 teen lemoentyd opgebou. Dit was weer die span se Suid-Afrikaanse Skole-skrumskakel, Morné Noble, wat met sy flinke diens asook skerp breekslae die meeste skade vir Helpies se verdediging besorg het.
Noble is boonop vir die vierde wedstryd op ‘n streep as Speler van die Wedstryd aangewys. Natuurlik in die Virseker Noordvaal Cup word dit die Virsekerbreker van die Wedstryd genoem.
Die toekenning kon egter net so maklik aan die slot Hanco van Geelen toegeken gewees het. Dit was duidelik dat Van Geelen ‘n boodskap aan die Leeus se keurders met sy vertoning wou stuur. Diot was sonder twyfel sy beste vertoning nog vir die Wit Bulle.
Van Geelen het op die verdediging gesorg dat ‘n hele paar Helpies vandag met seer lywe sit. Boonop het hy met mening by die afbreekpunte ingeklim om die Helpies op die agtervoet te hou.
Indien hy op die vertoning kan voortbou kan die Leeus se keurders hom dalk net weer nader trek voor hulle hul finale span vir die Cravenweek in Gqeberha bekend maak. Sy slotmaat, Matthew van Deventer, verdien ook ‘n klop op die skouer vir sy vertoning teen Helpies.
Die tweede helfte van die kragmeting het aan Helpies behoort. Die tuisspan het ‘n hele paar geleenthede geskep om die wedstryd te wen, maar meeste van die belowende bewegings is deur ‘n laaste aangee of ‘n aanslaan in die wiele gery.
Die span se slot en hoofseun van die skool, Diandro Botha, was deurgans uitstaande. Goeie nuus vir die Leeus se Cravenweek-span is dat die binnesenter, Ethan Lourens, ook vinnig besig is om sy spelpeil te herwin.
Agterlangs het die heelagter, Xander van Niekerk en linkervleuel Zuan Krige gevaarlik gelyk wanneer hul in besit gestel is. Die skakelpaar, Shaye Lourens en John van Druten, asook die flank Llewellyn Vermaak kan ook tevrede met hul vertonings voel.
Monnas se heelagter, Logan Langeveldt, het saam met die senterpaar, Juandré Ehlers en Blessing Monareng, ook uitmuntend vertoon.
Noordheuwel het sy eerste sege in vanjaar se reeks met ‘n oorwinning van 35-10 oor EG Jansen van Boksburg beklink.
Die Jansies het wel eerste bloed geruik toe sy buitesenter, Duwayne Zeekoei, vroeg vir sy drie deurgedraf het. Die besoekers van Boksburg was vir langer in die kragmeting as wat die telling aandui.
Die Nories het met die omdraaislag met 14-5 voorgeloop. Die tuisspan se linkervleuel, Prince Agu, se drie was die laaste spyker in die doodskis na Nories omgekeerde besit enkele meters van hul doellyn bewerkstellig het. Agu het amper die hele lengte van die veld vir sy drie genael.
Puntemakers:
Monument 34 (29) – Drieë: Logan Langeveldt (2), Morné Noble, Migael Coetzee, Roché Botha, Juandré Ehlers. Doelskoppe: Jayden Viljoen (2). Helpmekaar 26 (7) – Drieë: Zuan Krige, Ruann Bester, Xander van Niekerk, Strafdrie. Doelskoppe: Shaye Lourens (2).
Noordheuwel 35 (14) – Drieë: Ruben Botes, Armand van Eck, SW de Waal, Robert Hurn, Prince Agu. Doelskoppe: Kieran Reid (4), Heinrich Smith. EG Jansen 10 (5) – Drieë: Duwayne Zeekoei, Ruben Freitag.
Ander spanne:
o.16: Helpmekaar 52, Monument 14; Noordheuwel 31, EG Jansen 31.
o.15: Helpmekaar 38, Monument 14; Noordheuwel 49, EG Jansen 17.
o.14: Helpmekaar 24, Monument 10; Noordheuwel 50, EG Jansen 0.





