Affies bo-baas oor Grey Kollege met Fout(lose-vertoning)


Die vreugdevure het Saterdag hoog gebrand in die Jakarandastad nadat die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria vir die eerste keer sedert 2015 daarin kon slaag om Grey Kollege van Bloemfontein af te stof.
Die Wit Bulle het vir Grey in dié King Price Derby Series kragmeting met 28-21 die loef afgesteek.
Die besoekers van die Rosestad se loskopstut, Hennie Bredenhann, het met speeltyd reeds verstreke oorgebars om meer aansien vir sy span op die telbord te gee.
Die Wit Bulle se truie is deur oud-leerling Christoph Kotzé, oftewel Appel, die Suid-Afrikaanse sanger van onder meer Foute, uitgedeel.
Hoewel sy liedjie vra: “Wat maak ons hierdie naweek? Foute,” was sy boodskap vooraf duidelik aan die Wit Bulle om geen foute dié naweek op die rugbyveld te maak nie.
Dit was soos verwag die Wit Bulle se vleuels, Dandré Brink en Dehan Botha, wat die grootste dorings in Grey se vlees was. Brink se drie vanuit sy eie kwartgebied het die gang van die wedstryd uiteindelik in die 55ste minuut in sy span se guns geswaai.
Botha het met die Wit Bulle se derde drie in die tweede helfte die finale spyker in die besoekers se doodskis geslaan.
Affies se vorige sege oor Grey was in 2015 toe die Protea-krieketspeler, Ruan de Swardt, as graad 11-leerder van die plaasvervangersbank ‘n doelskop in die oorwinning van 29-18 oorgeskop het.

Dit was ook weer duidelik dat wanneer Rico du Plessis op buitesenter is, dan het Affies se vleuels witlynkoors. Du Plessis het weer met sy vermoë om die spel te lees asook om spelers in beter posisies in besit te plaas ‘n beduidende rol vir Affies gespeel.
Die wenspan se skrumskakel, Fourie Roberts, is as King of the Match aangewys. Hy het sy span se eerste drie gaan druk, maar dit was hoe hy soos ‘n tipiese skrumskakel deurgans lastig was, wat waarskynlik die toekenning aan hom besorg het.
Roberts het Grey deurgans probleme besorg. Sy pa, Freddie, het op sy dag vir Suidwestelike Distrikte ook die oond skoongemaak.
Grey se lostrio Niel du Randt, Henru Erasmus en Xander de Beer het as ‘n kombinasie weer uitmuntend vertoon. Affies se flank Caleb Pretorius is ook ‘n sterke derduiwel.
Die besoekers se kaptein en slot, Alexi Tyropolis, verdien ook vermelding na hy waarskynlik sy beste vertoning nog vir die span opgedis het.
Puntemakers:
Affies 28 (7) – Drieë: Fourie Roberts, Caleb Pretorius, Dandré Brink, Dehan Botha. Doelskoppe: Reuben Smith (4). Grey Kollege 21 (7) – Drieë: Jonathan Drysdale, Alexi Tyropolis, Hennie Bredenhann. Doelskoppe: Christoff Crous (3).
Ander spanne:
o.19
II: Affies (Tiere) 41, Grey Kollege (Cherries) 12.
III: Affies 34, Grey Kollege (Peaches) 33.
IV: Affies 46, Grey Kollege 12.
V: Affies 31, Grey Kollege 8.
VI: Affies 31, Grey Kollege 20.
VII: Affies 39, Grey Kollege 10.
VIII: Affies 29, Grey Kollege 7.
IX: Affies 62, Grey Kollege 5.
X: Affies 43, Grey Kollege 10.
o.16
A: Grey Kollege 47, Affies 33.
B: Grey Kollege 26, Affies 7.
C: Affies 26, Grey Kollege 21.
D: Grey Kollege 36, Affies 33.
E: Affies 41, Grey Kollege 5.
F: Affies 33, Grey Kollege 5.
o.15
A: Affies 29, Grey Kollege 15.
B: Affies 33, Grey Kollege 14.
C: Affies 26, Grey Kollege 5.
D: Affies 26, Grey Kollege 3.
E: Grey Kollege 17, Affies 12.
F: Affies 24, Grey Kollege 0.
o.14
A: Affies 37, Grey Kollege 25.
B: Affies 70, Grey Kollege 5.
C: Affies 38, Grey Kollege 5.
D: Affies 29, Grey Kollege 7.
E: Affies 34, Grey Kollege 14.
F: Affies 24, Grey Kollege 7.
G: Affies 43, Grey Kollege 12.
- Affies bo-baas oor Grey Kollege met Fout(lose-vertoning) - 2026-05-17
- Middelburg wil voortbou op spelpeil teen Rusties, Garsies sonder Blom sal lugtig vir Blues wees - 2026-05-15
- Parkies sal wendroogte teen Waterkloof wil verbreek, Lourens-tweeling sal vuurwarm vir Helpies teen EG moet wees - 2026-05-15
Click here for more King Price Derby Series articles.



