Middelburg wil voortbou op spelpeil teen Rusties, Garsies sonder Blom sal lugtig vir Blues wees


Die Hoërskool Middelburg sal Saterdag wanneer hy op sy tuisveld teen die Hoërskool Rustenburg in die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling wil voortbou op sy spelpeil die afgelope paar weke.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).
Die Middies se laaste twee vertonings in sy seges oor Menlopark (26-25) en HTS Middelburg (26-10) was sonder twyfel die span se beste tot dusver die seisoen.
Na die span se eerste nege wedstryde die seisoen is daar ‘n lang Virseker Noordvaal Cup in die Beker-afdeling vir die skool se eerstespan voorspel.
Die Middies se sege oor die Parkies in die eerste ronde, beteken dat hulle nou een van slegs drie onoorwonne spanne oor na twee rondes in die kompetisie is. Die oorwinning oor HTS Middelburg se Rooi Bulle was in ‘n King Price Derby Series-kragmeting.
Daarteen is die Rusties op soek na sy eerste sege in vanjaar se reeks. Hulle het in die eerste twee rondes teen onderskeidelik teen Waterkloof (10-31) en EG Jansen (28-32) die knie gebuig.
Die span wat deur Naas Olivier gebrei word sou waarskynlik ‘n makliker uitdaging wou hê as om op soek na ‘n eerste sege in Middelburg te wees.
Die Rusties se flank Pieta Niemand sal voorlangs die vuur moet verskaf, terwyl die senterpaar, Aydan Willemse en Zak Swanepoel, agterlangs die pot aan die kook sal moet hou.
Die Middies se agtsteman, Menza Siyaya, behoort ‘n sleutelrol in sy span se aanslag te speel. In die agterhoede sal die losskakel, Buhle Mphahlaza, moeilik hok geslaan kan word.
Op Bere-park in Pretoria sal die Hoërskool Garsfontein se hoofafrigter, Sylvester Booysen, sy span vooraf gewaarsku het om nie te oorgerus te wees oor hul afspraak met Noordheuwel se Blues nie.
Die kragmeting skop om 13:20 af.
Die Bere het vroeër vanjaar vir Noordheuwel met 41-3 in Krugersdorp verniel. Boonop het Garsfontein sy enige nederlaag in verlede jaar se Noordvaal-reeks teen die einste Blues (22-28) op die lyf geloop.
Voeg daarby die feit dat sy sterke derduiwel van ‘n haker, Justin Blom, ‘n skoueroperasie ondergaan het. Hy sal nie weer vanjaar vir die Bere in aksie wees nie. Booysen het wel die keuse gehad om Stefan “Kwagga” van der Vyver van die kant van die skrum na haker te skuif, maar Blom se fisieke verteenwoordigheid sal sonder twyfel ‘n reuse leemte laat.
Van der Vyver, wat eintlik ‘n haker is, het hom vanjaar as die voorste oopkantflank in Pretoria gevestig.
Die aandag is gewoonlik op die Bere se agterste driehoek bestaande uit Drewyn Baron, Yuvrah George en Neil de Kock. Die span se skrumskakel, Dean Wilbers, het egter nog nie die lof vanjaar gekry, wat hy verdien nie.
Hy beskik oor ‘n uitmuntende aangee na albei kante. Sy diens aan die losskakel, Ruan Fluks, speel ‘n groot rol in die spasie waarin die Bere se agterkwarte in baljaar.
Die Nories sal ook sonder Llewellyn Lourens teen die Bere wees. Hy het verlede week teen Monument op agtsteman diens gedoen. Sy broer en kaptein van die Blues, Kean, behoort egter saam met Armand van Eck (agtsteman) die Bere voorlangs besig te hou. Die loskopstut, Ruben Botes, kan ook ‘n doring in die tuisspan se vlees wees.
Die Lourens-boeties se pa, Stefan “Botter” Lourens, is natuurlik Noordheuwel se breier.
Die spanne is:
Hoërskool Middelburg t. Hoërskool Rustenburg om in Middelburg:
Hoërskool Middelburg: 15 Janré Oosthuizen, 14 Kgontse Masilela, 13 Siboniso Mahlangu, 12 Blake Faber, 11 Kgotso Peta, 10 Buhle Mphahlaza, 9 Enio Manhica, 8 Menzi Siyaya, 7 Siyabonga Mokgoatjana, 6 Aiden Nel, 5 Khensani Buthelezi, 4 Lihan de Vaal, 3 Dewald du Toit, 2 Ryan Blake, 1 Melchior van Niekerk.
Hoërskool Rustenburg: 15 Dian Huisamen, 14 Lerato Matlaisane, 13 Zak Swanepoel, 12 Aydan Willemse, 11 Junaid Stevens, 10 Ricardo Enos, 9 Shayloh Cox, 8 Ruben van Heerden, 7 Pieta Niemand, 6 MJ Otto, 5 Thian Labuschagne, 4 Evan van Heerden, 3 Nathan Volschenk, 2 Dandrè Graham, 1 Xander Stickling.
Garsfontein t. Noordheuwel om 13:20 op Bere-park in Pretoria:
Garsfontein: 15 Drewyn Baron, 14 Yuvrah George, 13 Levi Jordaan, 12 Keagan Knighton, 11 Neil de Kock, 10 Ruan Fluks, 9 Dean Wilbers, 8 Lourenz de Jager (kaptein), 7 Derik Potgieter, 6 JP Meintjes, 5 SW Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Ruben Lombard, 2 Stefan van der Vyver, 1 André van Wyk.
Noordheuwel: 15 Chrisandro Flemmer, 14 Prince Agu, 13 Edwill October, 12 Tristan Helmund, 11 Wilcu Roos, 10 Heinrich Smith, 9 SW de Waal, 8 Armand van Eck, 7 Kean Lourens (kaptein), 6 JB Blaunt, 5 Robert Hurn, 4 Jarod Coetzer, 3 Steph Botha, 2 Miguel Elliot, 1 Ruben Botes.
Skeidsregter: Niel Bosman.
- Middelburg wil voortbou op spelpeil teen Rusties, Garsies sonder Blom sal lugtig vir Blues wees - 2026-05-15
- Parkies sal wendroogte teen Waterkloof wil verbreek, Lourens-tweeling sal vuurwarm vir Helpies teen EG moet wees - 2026-05-15
- In-form Affies looking to topple Grey College for the first time in over a decade - 2026-05-15




