SuperSport Schools News

Parkies sal wendroogte teen Waterkloof wil verbreek, Lourens-tweeling sal vuurwarm vir Helpies teen EG moet wees

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News Uncategorised , at 2026-05-15 Tags: , , , , ,

DANIE BOTMA, buitesenter van Die Hoërskool Menlopark, vlieg hier sierlik deur die lug op pad na sy drie in sy span se sege van 38-31 oor Helpmekaar Kollege in die Virseker Noordvaal Cup. FOTO: Riaan de Bruyn

Die laaste keer wat Die Hoërskool Menlopark daarin kon slaag om vir Waterkloof om te dop was in 2019 in die Virsekerbeker.

Daardie jaar het die Parkies voortgegaan om vir die eerste keer as kampioen van die Noordvaal-reeks gekroon te word. Baie water het sedertdien in die see geloop. Virseker het intussen al onttrek as borg en is ook alweer terug as titelborg van die gesogte reeks.

Die Parkies was oortuigend met 55-21 destyds baas.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

Die twee spanne ken mekaar nou alte goed. Hulle het mekaar vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar in die eindstryd van die NWU Sport-reeks ontmoet. Waterkloof was in 2024 (23-8) en 2026 (33-28) baas, terwyl die twee spanne die louere met 23-elk verlede jaar gedeel het.

As daar verder in die statistieke gedelf word, is daar so stukkie slegte nuus vir Menlopark. Waterkloof was elke keer die afgelope drie jaar sterker en beter daartoe af in die Virseker Noordvaal Cup se kragmeting tussen dié twee spanne. Die Klofies het in 2024 ‘n oortuigende sege van 51-33 behaal, terwyl hy in 2025 met 27-19 as oorwinnaars van die veld gestap het.

Maar genoeg van die geskiedenis.

Daar is ‘n hele paar tweestryde waarna uitgesien kan word. Waterkloof se gevaarman is die buitesenter, Meyer Pretorius. Sy tweestryd met Danie Botma kan vir vele hoogtepunte sorg. Botma is nog in graad 11, maar beskik oor hope vaart en sal sonder twyfel na die uitdaging teen Pretorius uitsien.

Gepraat van vaart. Die Blou Tornado se heelagter, Alexander Griesel, is ook ‘n man wat reeds vir homself naam op die atletiekbaan gemaak het. Griesel het vanjaar al ‘n hele paar blink vertonings vir die Klofies opgedis.

Die stryd tussen die twee losskakels, Liam Schutte (Waterkloof) en Willie Pieterse (Menlopark), behoort ook vir heelwat opwinding te sorg. Schutte het in sy span se twee wedstryde tot dusver 19 punte opgestapel wat twee drieë insluit, terwyl Pieterse met 20 punte na twee wedstryde spog. Sy totaal sluit ook twee drieë in.

Voorlangs kan die Klofies se Hugo Dercksen (flank) en Stiaan Theron (haker) die tuisspan besig hou.

Helpmekaar Kollege sal op sy tuisveld om 12:30 in Johannesburg nie te oorgerus op die veld teen EG Jansen van Boksburg kan draf nie.

Helpies het nou wel verlede jaar se kragmeting teen die Boksburgers in dié reeks met 35-15 gewen, maar EG was al ‘n hele paar keer ‘n piesangskil vir die span van die Goudstad.

Helpies is boonop op soek na sy eerste sege in vanjaar se reeks. Die span het sy rieme tot dusver in Pretoria teen Garsfontein (24-49) en Menlopark (31-38) in die Virseker Noord Cup se Beker-afdeling styfgeloop. Die feit dat hulle in die twee wedstryde drie bonuspunte kon insamel is die enigste feit wat hul van die onderste plek van die puntelys hou.

Die Helpies se invloedryke binnesenter, Ethan Lourens, het wel sy terugkeer teen die Parkies gemaak. Hy sal op sy stukke teen die Jansies moet wees, indien sy span op die wenpad wil kom. Sy tweelingbroer, Shaye, wat gewoonlik die oond skoon maak, draf steeds op losskakel uit.

Albei is in die Goue Leeus se voorlopige span van die Cravenweek in Gqeberha ingesluit. Hulle was reeds verlede jaar staatmakers vir dié span.

Helpies se ander gevaarmanne is die heelagter, Xander van Niekerk, asook die flank Llewellyn Vermaak.

Die Jansies se planmaker is die losskakel, Juan van Aswegen. Hy sal agterlangs moet seker maak dat sy span genoeg geleenthede kry om punte aan te teken.

Voorlangs kan die kaptein en flank, Jaco Engelbrecht, en die slot Ewan Pretorius dorings in Helpies se vlees wees.

Die spanne is: 

Die Hoërskool Menlopark t. Waterkloof om 12:30 in Pretoria: 

Menlopark: 15 Jody Abrahams, 14 Lucian Read, 13 Danie Botma, 12 Dylan Stumke, 11 Juan Joubert, 10 Willie Pieterse, 9 Eben Botma, 8 Jannes Eksteen, 7 Tiaan Boshoff, 6 Dewald van Wyk, 5 Dawid van den Heever, 4 Lyndon Fourie, 3 Reando Fourie, 2 Dian de Bruin, 1 Justin Toerien.

Waterkloof: 15 Alexander Griesel, 14 Mieder Erasmus, 13 Meyer Pretorius, 12 Ruben Louwrens, 11 Jacques Jansen van Rensburg, 10 Liam Schutte, 9 Marcel Tsiakos, 8 Almero Gerritsen, 7 Stefan Pieters, 6 Hugo Dercksen, 5 Marius Venter, 4 JJ Brits, 3 Reinhard Duvenhage, 2 Stiaan Theron, 1 Wian Hetzel.

Skeidsregter: Ansius Vermeulen.

Helpmekaar Kollege t. Dr. EG Jansen om 12:30 in Johannesburg: 

Helpmekaar: 15 Xander van Niekerk, 14 Jayden Brown, 13 Ruben Coetzee, 12 Ethan Lourens, 11 Zuan Krige, 10 Shaye Lourens, 9 John van Druten, 8 Ruann Bester, 7 Diandro Botha, 6 Llewelyn Vermaak, 5 Dewald du Preez, 4 Ruben Pieterse, 3 Karlo Steenkamp, 2 Jeandré van der Merwe, 1 Daylan Ferreira.

EG Jansen: 15 JJ van Rensburg, 14 Liam Hector, 13 Duwayne Zeekoei, 12 Dian Botha, 11 Conor Louw, 10 Juan van Aswegen, 9 Joseph Diesel, 8 Jaco Engelbrecht (kaptein), 7 Christopher van Rooyen, 6 Juan Harris, 5 Ivan Botha, 4 Ewan Pretorius, 3 Elshaan Duminy, 2 JC du Toit, 1 Marlo van der Merwe.

Skeidsregter: Richard Schwulst.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.