SuperSport Schools News

Waterkloof se agttal lê grondslag vir sege oor Parkies, Krige vuurwarm vir Helpies

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-05-17 Tags: , , , , ,

Die Hoërskool Waterkloof se eersterugbyspan het sy houvas oor sy eweknie van die Die Hoërskool Menlopark sedert 2020 Saterdag met ‘n sege van 36-12 in die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling behou.

Menlopark het laas in 2019 daarin geslaag om die Klofies te klop. Hy was toe met 55-21 baas en het daardie jaar ook die titel as kampioen van die Beker-afdeling verower.

Albei spanne het Saterdag weens ongedwonge foute gesukkel in die eerste helfte om aan die gang te kom. Die Klofies het teen lemoentyd ‘n voorsprong van 12-7 geniet.

Die Parkies kon egter maklik ook teen rustyd voorgeloop het, indien dit nie vir die onnodige foute op die aanval was nie. Die span se losskakel, Willie Pieterse, het soos ‘n warm mes deur botter deur die besoekers se verdediging vir sy drie gegly.

Die Klofies het egter in die tweede helfte daarin geslaag om na ‘n hoër rat oor te skakel. Meestal danksy die inklimspel van sy haker, Stiaan Theron, flanke Stefan Pieters en Hugo Dercksen, asook die plaasvervanger-slot, Phillip Mans.

Pieters het twee keer oor Menlopark se doellyn gebars en is vir sy vertoning ook met die toekenning as Virsekerbreker van die Wedstryd beloon.

Agterlangs het die heelagter, Alexander Griesel, weer ‘n blink vertoning opgedis. Die Parkies se regtervleuel, Lucian Read, het met tye vurig onder die Klofies se aanvallers ingeklim en verdien vermelding.

Helpmekaar Kollege moes op sy tuisveld harder werk vir sy sege van 36-24 oor EG Jansen as wat die telling aandui.

Die Helpies se linkervleuel, Zuan Krige, was op sy stukke en het ‘n beweging vanuit sy span se eie doelgebied vir een van sy twee drieë afgerond. As Krige in besit geplaas word met spasie dan is die gort behoorlik gaar.

Dit help ook natuurlik dat Helpies se Cravenweek-senter Ethan Lourens ‘n speler is wat weet hoe om die verdediging oop te kloof asook hoe om spasie vir sy spanmaats te skep. Sy tweelingbroer, Shaye, is ook vinnig besig om sy voete op losskakel te vind.

Die Helpies se hoofafrigter, Tjaart van der Walt, moes Shaye noodgedwonge weens beserings vanaf skrumskakel na losskakel skuif. Gelukkig vir Van der Walt was sy plaasvervanger-skrumskakel, John van Druten, ‘n meer as handige speler om in Shaye se plek die oond skoon te maak.

Voorlangs was die flank Llewellyn Vermaak soos gewoonlik aan die voorpunt, met Jeandré van der Merwe (haker) wat ook goeie spel gelewer het.

Die span van Boksburg se losskakel, Juan van Aswegen, was weer sy span se groot staatmaker. Hy is goed agterlangs deur die buitesenter, Duwayne Zeekoei, en die heelagter, JJ van Rensburg, bygestaan. Albei het hul geleenthede op die aanval goed benut.

Video highlights of the match(es) are below the articles. 

Puntemakers: 

Waterkloof 36 (12) – Drieë: Stefan Pieters (2), Alexander Griesel, Stiaan Theron, Jacques Janse van Rensburg, Phillip Mans. Doelskoppe: Liam Schutte (3). Menlopark 12 (7) – Drieë: Willie Pieterse, Tiaan Boshoff. Doelskop: Pieterse.

Helpmekaar Kollege 36 (19) – Drieë: Zuan Krige (2), Ethan Lourens, Ruben Coetzee, Jeandré van der Merwe, Llewellyn Vermaak. Doelskoppe: Shaye Lourens (4). EG Jansen 24 (10) – Drieë: Juan van Aswegen, Duwayne Zeekoei, JJ van Rensburg. Doelskoppe: Van Aswegen (3). Strafdoel: Van Aswegen.

Ander spanne: 

o.16: Menlopark 39, Waterkloof 24; Helpmekaar 35, EG Jansen 17.

o.15: Waterkloof 26, Menlopark 12; Helpmekaar 38, EG Jansen 7.

o.14: Menlopark 22, Waterkloof 17; Helpmekaar 29, EG Jansen 14.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.