SuperSport Schools News

Oranje kan tawwe stryd in Suzuki Netball Power Series van die Tralies verwag

By Felicia Erasmus , in Netball | Featured Netball | News , at 2026-05-07 Tags: ,

Die Hoërskool Sentraal se eerste netbalspan het sonder twyfel ‘n appeltjie met hul mees gedugte teenstander in die Rosestad, Oranje, te skil.

Die twee spanne ontmoet mekaar Donderdag om 17:30 in die Suzuki Netball Power Series op Oranje se baan. Die kragmeting is ook deel van die Motheo-liga.

Oranje het die afgelope paar jaar die botoon teen die Tralies op die netbalbaan op eerstespanvlak gevoer. Hy het verlede jaar vir Sentraal met 21-13 in die eindstryd van die Vrystaatbeker verslaan.

Dit was ook die laaste ontmoeting tussen die twee skole se eerstespanne. Oranje sal weer vanjaar die baan as die gunsteling tussen die twee spanne betree, maar dit beloof om ‘n veel moeiliker uitdaging te wees.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com) of op DStv kanaal 216.

Oranje was reeds vanjaar in die Suzuki Netball Power Series in aksie. Hy het teen die Hoër Meisieskool Paarl met 11-31 die knie op 18 April gebuig. Die Tralies sal Donderdag hul buiging in die reeks maak.

Volgens Sentraal se hoofafrigter, Cora-Lee Venter, is haar span se grootste fokuspunt om foutlose netbal tydens die kragmeting op te dis. Die span se Ceinwin Lindeque (S/AV) en Kayleigh Parsons (V/HV) is onlangs tot die Motheo Metro-span opgeneem.

Albei die spanne was op Menlopark se Netbal-toernooi vroeër vanjaar in aksie. Oranje het hier goed gevaar en sy beste vertonings was waarskynlik in sy drie wedstryde op die tweede dag van die toernooi. Hoewel hy die knie teen Helpmekaar Kollege (17-21), HMS Paarl (16-21) en Menlopark (20-25) gebuig het, het die span hom goed van sy taak gekwyt.

Die Tralies het ook tydens die toernooi teen Helpmekaar (10-30), Menlopark (12-26) en HMS Paarl (11-16) vasgeval.

Die tuisspan word deur Anja Cohen (verdedigende vleuel) aangevoer. Sy aanvanklike kaptein, Karin Truter, is beseer. Haar ma, Flolinda Marais, het 36 jaar gelede ook Oranje se eerstespan op die baan gelei.

Die spanne is: 

Sentraal: Dani Fourie (D/HD), Huibré Goosen (HD/AV), Sunél Fourie (AV/VV), Ceinwin Lindeque (S/AV), Kara Fourie (VV), Kyla Myburg (HV/VV), Kayleigh Parsons (V/HV), Su-Hesri van Zyl (D), Anneen Posthumus (V).

Oranje: Louise Liebenberg (D), Mienke du Plessis (HD), Roné Strydom (AV), Savanah Olivier (S), Anja Cohen (VV, kaptein), Carli Uys (HV), Erika Reynolds (V), Cara Louw, Lu-ann Visser.

Felicia Erasmus
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.