Span wie Absa Wildeklawer se netbalkroon wil dra, sal eers verby Paarl Gim moet kom

Die verdedigende kampioen van die Absa Wildeklawer-netbaltoernooi, Paarl Gimnasium, gaan nie maklik vanjaar afstand van sy titel doen nie.
Die Gimmies het sonder veel moeite onoorwonne deur die eerste dag van vanjaar se toernooi in Kimberley gekom. Die span van die Paarl het Potchefstroom Gimnasium (23-7), Framesby (21-6) en La Rochelle (19-9) uitgestof.
Hy sal Saterdag teen Oranje, Marais Viljoen asook die Afrikaanse Hoer Meisieskool van Pretoria te staan kom. Die kragmeting om 16:00 teen Affies sal waarskynlik sy grootste toets wees.
Die twee spanne het vroeer vanjaar in ‘n Suzuki Netbal Power Series-kragmeting teen mekaar te staan gekom. Affies was op die dag met 30-27 baas.
Gimmies se verdedigende vleuel, Sophia Liebenberg, het haar skitterende spelpeil tot dusver voortgesit.
Affies is ook steeds onoorwonne na hulle vir Oranje (17-5), Marais Viljoen (16-12) en Framesby (20-9) die loef afgesteek het.
Buiten die ontmoeting laat in die dag teen Paarl Gim moet die span van die Jakarandastad ook nog sake teen La Rochelle en Potch Gimmies uitspook.
Die Hoërskool Stellenberg het in die ander groep vir die Hoër Meisieskool Paarl met 16-14 in ‘n belangrike wedstryd in die eerste ronde uitgestof. Die span vanuit Bellville het daarna ook vir Shayamoya (14-11) geklop, maar teen Hoërskool Rustenburg met 17-20 in die stof gebuit.
Die Rusties is vanjaar omgekrap en kan moontlik vir ‘n paar verrassings sorg. Hulle het vir Menlopark met 17-16 in ‘n spannende kragmeting geklop, terwyl hulle ook ‘n naelskraapse sege van 10-9 oor die Hoër Meisieskool Paarl behaal het.
Al die uitslae | Dag 1
Groep A: Shayamoya 30, Diamantveld 12; Stellenberg 16, HMS Paarl 14; Menlopark 13, Diamantveld 7; Helpmekaar 14, Shayamoya 8; Hoerskool Rustenburg 17, Menlopark 16; Helpmekaar 22, Diamantveld 4; HMS Paarl 12, Shayamoya 11; Hoerskool Rustenburg 20, Stellenberg 17; Helpmekaar 17, Menlopark 14; Hoerskool Rustenburg 10, HMS Paarl 9; Stellenberg 14, Shayamoya 11.
Groep B: Marais Viljoen 29, Potchefstroom Gimnasium 23; Affies 17, Oranje 5; Paarl Gimnasium 23, Potchefstroom Gimnasium 7; La Rochelle 12, Marais Viljoen 12; Paarl Gimnasium 21, Framesby 6; La Rochelle 17, Potchefstroom Gimnasium 16; Affies 16, Marais Viljoen 12; Oranje 15, Framesby 6; Paarl Gimnasium 19, La Rochelle 9; Affies 20, Framesby 9; Marais Viljoen 14, Oranje 10.





