Affies, Garsies en Parkies bult hul spiere in die Jubilee-liga

Die Hoërskool Garsfontein se eerste netbalspan het onoorwonne rekord sedert 2021 oor sy eweknie van die Hoërskool Waterkloof in die Jubilee-liga behou.
Die Garsies was Saterdag met 29-20 op Klofies se bane baas. Die laaste keer wat die Klofies vir Garsfontein op die netbalbaan in dié liga kon troef was in 2019 toe hulle met 32-22 baas was.
Die Garsies se hulpdoel, Luané Smith, is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys. Smith was nie bang om doele van enige plek in die sirkel te gooi nie.
Die Garsies het in die eerste kwart ‘n voorsprong van drie doele met die telling op 8-5 opgebou. Daarna het hulle sewe doele teenoor Klofies se vier doele in die tweede kwart aangeteken om die rustydtelling op 15-9 te staan te bring.
Klofies het hard teruggeveg in die derde kwart hoewel Garsfontein steeds met sewe doele teenoor ses sake beheer het. Met die telling op 22-15 in Garsies se guns met nog net die laaste kwart wat voorgelê het, sou dit ‘n reuse poging van die tuisspan moes wees om die besoekers met die kous oor die kop huis toe te stuur.
Vir Waterkloof was hul hulpverdediger, Leah Viljoen, hul beste speler op die dag. Garsies se Kimberley Strydom (verdediger) asook Chanique Eyberg (hulpverdediger) het ook uitmuntende vertonings vir die wenspan opgedis.
Die Garsies kom Woensdag teen Montana in sy volgende wedstryd van die liga te staan. Waterkloof sal teen Oos-Moot kragte meet. Die span van die Moot het die vorige kragmeting tussen die twee skole in die halfeindronde van die NWU Sport-reeks met 21-14 as oorwinnaars van die veld gestap.
Die Hoërskool Menlopark het sy onoorwonne status in vanjaar se liga met ‘n sege Vrydag van 41-25 oor Eldoraigne behou. Die Parkies het reeds in die eerste kwart ‘n voorsprong van sewe doele met die telling op 10-3 opgebou.
Die span se Lente Kroukamp het skitterende spel in die eerste kwart gelewer. In die tweede kwart het die wenspan sy voorsprong van 22-7 gerek, met Amy van Staden wat hier goeie spel opgedis het.
Aan die einde van die derde kwart was die skrif met die telling op 32-17 reeds teen die muur. Ghitte Wiid en Minette Boshoff het in die laaste twee kwarte uitstaande spel vir die Parkies gelewer.
Die Parkies kom eerskomende Saterdag teen Waterkloof te staan. Eldoraigne kom in sy jaarlikse FNB Classic Clash teen Zwartkop te staan. Die kragmeting is ook deel van die Jubilee-liga.
Die Afrikaanse Hoër Meisieskool se netbalspanne het skoonskip Vrydag teen Montana gemaak. Affies se eerstes het hul wedstryd gemaklik met 42-23 gewen.
Die wenspan se doel, Bianca Lubbe, was op haar stukke, terwyl die twee verdedigers, Emma Strydom en Liané van Lochem, ook elk ‘n klop op die skouer verdien.
Die span wat vanjaar as kampioen van die Jubilee-liga gekroon wil word, sal sonder twyfel eers verby dié span van Affies moet kom.
Affies het teen Montana teen rustyd reeds met 21-12 voorgeloop en die voorsprong in die derde kwart tot 28-17 gerek.
Al die uitslae:
Eerstespanne: Garsfontein 29, Waterkloof 20; Affies 42, Montana 23; Menlopark 41, Eldoraigne 25.
o.19B: Waterkloof 27, Garsfontein 11; Affies 29, Montana 11; Menlopark 25, Eldoraigne 19.
o.19C: Waterkloof 18, Garsfontein 15; Affies 45, Montana 9; Menlopark 23, Eldoraigne 15.
o.17A: Garsfontein 27, Waterkloof 24; Affies 34, Montana 12; Menlopark 30, Eldoraigne 20.
o.17B: Waterkloof 39, Garsfontein 8; Affies 48, Montana 3.
o.16A: Waterkloof 24, Garsfontein 14; Affies 27, Montana 14; Menlopark 21, Eldoraigne 18.
o.16B: Waterkloof 24, Garsfontein 19; Affies 26, Montana 13; Menlopark 40, Eldoraigne 2.
o.16C: Waterkloof 17, Garsfontein 7; Affies 48, Montana 1; Menlopark 44, Eldoraigne 1.
o.16D: Affies 49, Montana 1; Menlopark 50, Eldoraigne 0.
o.15A: Waterkloof 21, Garsfontein 17; Affies 25, Montana 9; Menlopark 29, Eldoraigne 18.
o.15B: Waterkloof 29, Garsfontein 14; Affies 36, Montana 6; Menlopark 36, Eldoraigne 12.
o.15C: Waterkloof 21, Garsfontein 11; Affies 43, Montana 4; Menlopark 25, Eldoraigne 4.
o.15D: Waterkloof 33, Garsfontein 8; Affies 52, Montana 0; Menlopark 29, Eldoraigne 3.
o.14A: Garsfontein 15, Waterkloof 13; Affies 30, Montana 16.
o.14B: Waterkloof 29, Garsfontein 9; Affies 36, Montana 15; Menlopark 40, Eldoraigne 6.
o.14C: Waterkloof 27, Garsfontein 10; Affies 25, Montana 5; Menlopark 24, Eldoraigne 3.
o.14D: Waterkloof 21, Garsfontein 12; Affies 34, Montana 5; Menlopark 47, Eldoraigne 4.