Tedder red KwaZulu-Natal van nederlaag
SASOLBURG. – Die Leeus se o.18-rugbyspan sal nie te bekommerd wees ná sy naelskraapse nederlaag van 22-20 teen sy eweknie van KwaZulu-Natal op die jaarlikse Noordvaal-bondedag nie.
Een ding wat seker is uit die Piesangboere se vertoning is dat hulle vanjaar gewis ook ’n aanspraakma-
ker sal wees om in die hoofwedstryd van die 51ste Cravenweek vir hoërskole in Middelburg (Mpumalanga)
te speel.
Die toernooi vind van 14 tot 19 Julie by die HTS Middelburg plaas.
KwaZulu-Natal het die wedstryd in die doodsnikke gewen danksy ’n strafdoel deur Tristan Tedder, sy kaptein en losskakel, van feitlik reg voor die pale.
’n Strafdoel kort tevore deur James Hall, skrumskakel van KwaZulu-Natal, vanuit ’n moeilike hoek omtrent op die tientree-stippellyn dra waarskynlik net soveel gewig in die uitslag as Tedder s’n.
Hall se strafdoel het die wenspan se voorsprong tot 19-13 gerek voordat die vleuel Justin Bhana die Leeus met sy drie die geleentheid gegee het om met 20-19 voor te loop.
Nadat Tedder in die tweede helfte in Curtis Jonas se plek op die veld verskyn het, het KwaZulu-Natal se span met meer ywer begin speel.
Tedder se taktiese skopwerk en
balverspreiding was van hoogstaande gehalte.
Jonas het in die eerste helfte ook goed op die aanval gevaar.
Wikus van Biljon, losskakel van die Leeus, kon ook nie ’n voet verkeerd sit nie. Hy het sy skopskoene aangehad en sy agterlyn ook seepglad weggestuur.
Juan Lemmer, Leeu-agtsteman, het in die tweede helfte ’n paar kragtige lopies ingekry.
Die Leeus se flank Gavin Delport het die enigste drie van die eerste helfte gedruk nadat die Piesangboere die fout begaan het om Ralton October, skrumskakel, nie behoorlik dop te hou nie.
Hy het van ’n skrum net binne die Leeus se gebied gebreek om die aanvoorwerk vir die drie te doen.
As die Leeus soos Saterdag in die D.P. de Villiers-stadion in die Cravenweek verdedig, sal die span nie baie drieë afstaan nie.
Die wenspan kon slegs een drie deur sy flank McMillan Muller druk nadat sy flankmaat, James Venter,
’n bal wat losgespat het, bemeester het en Tedder in besit gestel het voordat laasgenoemde Muller weggestuur het.
Die wenspan se agtsteman, Jaco Coetzee, en heelagter, Morné Joubert, het deurgaans puik vertonings gelewer.
Joubert was nooit uit posisie nie en het ’n hele paar gevaarlike teenaanvalle vanuit die laaste vesting geloods.
Coetzee het die bal goed gedra en sy posisionele spel was uit die handboek vir agtsteman-spel.




