SuperSport Schools News

Haker Olivier die Kwaggas se held met strafdoel, Jade Brigade moes sweet vir sege oor Diamonds

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-04-27 Tags: , , , , , , ,

PHOTO: Frans Lombard/Actionpixellen

‘n Strafdoel deur die haker, Keaton “Chunks” Olivier, met speeltyd reeds verstreke het aan die Hoërskool Outeniqua ‘n naelskraapse sege in die doodsnikke van 30-29 oor Maritzburg College op die laaste dag van die Absa Wildeklawer-toernooi besorg.

Olivier is na die strafskop aan die Kwaggas toegedien is, deur sy afrigters op die veld vanaf die plaasvervangerbank gestuur om die stelskop waar te neem.

Die nederlaag sal sonder twyfel vir Maritzburg College soos ‘n hou op die maag gevoel het, na hy ook in sy eerste kragmeting teen met 19-24 teen die Hoërskool Stellenberg die knie moes buig.

Stellenberg is wel die voorste skolespan tot dusver in Suid-Afrika, maar Maritzburg College kan hulself in albei wedstryde ongelukkig ag. Die span van Pietermaritzburg het werklik deurgans goeie rugby opgedis.

Gepraat van Stellenberg, hy moes vroeg môre ‘n hewige aanslag van die gasheer, Hoërskool Diamantveld, afweer. Die Jade Brigade het eers na 55 minute se spel vir die eerste keer in die kragmeting voorgeloop.

Dit was danksy ‘n drie deur sy staatmaker slot Juvan Burden. Hy het kort daarna nog ‘n keer oor die doellyn gebars. Burden is sonder twyfel ‘n speler waarvoor daar nog ‘n groot toekoms op die rugbyveld voorle.

Die draaislag in die kragmeting het met die verskyning vanaf die plaasvervangersbank van Stellenberg se gereëlde kaptein en agtsteman, Yanos Molnar, gekom. Hy het voorlangs die vuur aangesteek, terwyl dit ook geblyk het dat sy span met meer doelgerigtheid gespeel het.

Dit het boonop die familie-affêre vir die kragmeting voltooi. Molnar se twee neefs, Andras (Stellenberg) en Phillip (Diamantveld) was as afrigters by die kragmeting betrokke. Phillip is Diamonds se hoofafrigter, terwyl Andras na die Jade Brigade se verdediging omsien.

Diamantveld se agttal verdien hope lof. Hulle het onder die spreekwoordelike kombers gespeel met Franklin Stevens (slot), CJ Meiring (stut) en Heinrich Swart (agtsteman) wat beduidende rolle vertolk het. Agterlangs verdien die heelagter, Tyler Cmapher, asook die losskakel, JG van Heerden, ‘n klop op die skouer vir hul vertonings.

Die 70 minute se rugby tussen Helpmekaar Kollege en Queen’s College het ‘n ongelooflike 109 punte opgelewer. Die Helpies het uiteindelik met 73-36 as oorwinnaars van die veld gestap.

Soos gewoonlik was Helpies se skrumskakel, Shaye Lourens, asook die linkervleuel, Zuan Krige, vuurwarm op die aanval. Albei het ook twee keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak.

Die SA Skole A-vleuel Ncutu Kepe het twee van Queen’s College se drieë afgerond. Die buitesenter, Mtokozisi Mbambo, en die heelagter, Inganathi Mnunu, het ook dubelle driedruk-plesier ervaar.

Puntemakers: 

Outeniqua 30 (19) – Drieë: Jean Capes, Gerrit Janse van Rensburg, Logan Jacobs, AJ Botha. Doelskoppe: Tylor Marais, Jansen van Rensburg. Strafdoele: Janse van Rensburg, Chunks Olivier. Maritzburg College 29 (21) – Drieë: Rory Stanton, Lungelo Hadebe, Sean Jansen, Theo Boshoff. Doelskoppe: Dominic du Toit (3). Strafdoele: Du Toit.

Helpmekaar 73 (28) – Drieë: Shaye Lourens (2), Zuan Krige (2), Jeandré van der Merwe, Ruann Bester, John van Druten, Eben van Buuren, Daniel Kelbrick, Xander van Niekerk, Jayden Brown. Doelskoppe: Ethan Kruger (9). Queen’s College 36 (24) – Driee: Mtokozisi Mbambo (2), Ncutu Kepe (2), Inganathi Mnunu (2). Doelskoppe: Mnunu (3).

Stellenberg 31 (12) – Drieë: Yuvan Burden (2), Ralton Rhode, Ethan van Biljon, Yanos Molnar. Doelskoppe: Ethan van Biljon (3). Diamantveld 20 (17) – Drieë: Franklin Stevens, CJ Meiring. Doelskoppe: JG van Heerden (2). Strafdoele: Van Heerden (2).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.