SuperSport Schools News

Ligbron se agterhoede kasty die Eldo Drake

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-05-03 Tags: , , ,

Foto: Ligbron Akademie vir Tegnologie op Facebook.

Ligbron Akademie se agterhoede het vir Hoërskool Eldoraigne laat les opsê en so ook sy veldtog in die Virseker Noordvaal Cup se Skild-afdeling met ’n 28-14-sege op sy tuisveld in Ermelo afgeskop.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

Die Liggies van Ermelo het vier keer die Eldos se doellyn oorgesteek met al vier dié drieë wat deur lede van sy agterlyn gedruk is.

Vleuels Neo Zwane (linkervleuel) en Katlego Siloane (regtervleuel) het nie alleen elk een keer gaan druk nie, maar het die Eldos gelooi met die hope spasie wat aan die buitekante geniet is.

Hierdie spasie is deur binnesenter Banele Mthambo en sy sentermaat, Ndumiso Dlamini, in die middelveld geskep. Mthambo se sterk barslopies het die Eldos se verdediging besig gehou. Sy vertoning is met die Liggies se derde drie beloon.

Hoewel dit ’n moeilike dag op kantoor vir die Eldos was, het die vertonings deur slot MC Scheepers en Ethan Beyer vir ’n hoogtepunt aan die besoekers se kant gesorg.

Scheepers was uitstaande met sy hoë werkverrigting op verdediging. Beyer was self ’n doring met sy lakwerk, maar het sy gewoeker in die vastelos van hom ’n klippie in die Liggies se skoen gemaak.

Albei was ook deurgangs bedreigings op die aanval en het hul bydraes beteken dat Jean du Randt en Aiden van Rooyen die Liggies se doellyn oorsteek.

Puntemakers:

Ligbron Akademie 28 (14) – Drieë: Neo Zwane, Banele Mthambo, Ndumiso Dlamini, Katlego Sibiloane. Doelskoppe: Gaston Brown (4). Eldoraigne 14 (7) – Drieë: Jean du Randt, Aiden van Rooyen. Doelskoppe: Eben Degenaar (2).

Ander spanne:

o.16: Eldoraigne 21, Ligbron 18.

o.15: Ligbron 31, Eldoraigne 26.

o.14: Ligbron 24, Eldoraigne 12.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.