SuperSport Schools News

Bere se 36 punte in tweede helfte te veel vir die Helpies

By Franco Oberholzer , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-05-02 Tags: , , , , ,

Neil de Kock, linkervleuel van Hoërskool Garsfontein se Bere, was oudergewoonte weer ‘n uitblinker in sy span se sege van 49-24 oor Helpmekaar Kollege op Berepark in Pretoria. Foto: Frans Lombard/Actionpix.

Die damwal het behoorlik gebreek Saterdag-middag op Berepark in Pretoria toe die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein se Bere, met ’n telling van 49-24 oor Helpmekaar College in die eerste ronde van vanjaar se Virseker Noordvaal Cup koning gekraai het.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

Die Bere het in die tweede helfte die sluise begin oopdraai en 36 punte aangeteken nadat hy teen die omdraaislag met 13-14 agtergeloop het. Die eerste 35 minute het aan die Helpies se uithouvermoë op verdediging behoort.

Die draaipunt in die kragmeting het gekom toe die span van die Goudstad se heelagter, Xander van Niekerk, asook die vaskopstut, Karlo Steenkamp, kort na mekaar koelkas toe gestuur is.

Dit was egter Stefan van der Vyver se drie, van agter die Bere se bekende dryfmaalbeweging, net voor die twee geelkaarte wat ook gehelp het om die momentum in die tuisspan se guns te draai. Dit is ook as die Toyota-oomblik van die Wedstryd aangewys.

Hierdie is die nuwe beloning in vanjaar se reeks vir die oomblik in die wedstryd wat die meeste impak op die uitslag het.

André van Wyk, die Garsies se loskopstut, is as Speler van die Wedstryd, of eerder die Virseker-breker van die Wedstryd, aangewys. Dit is selde dat ‘n voorryman met dié toekenning beloon word, maar Van Wyk se betrokkenheid regoor die veld het hom laat uitstaan.

Keegan Knighton het onder die agterhoede baljaar. Die tuisspan se binnesenter het sy span elke keer oor die voordeellyn met sy sterk lopies en bedrieglike voetwerk gekry.

Die Helpies se heelagter, Van Niekerk, was sy span se silwer randjie. Sy aanvalle van agter, gereeld gepaardgaande met slinkse voetwerk, het die Bere se verdedigers op hul tone gehou. Van Niekerk het ook een keer agter die tuisspan se doellyn gaan draai maak.

In Rustenburg was die tendens baie dieselfde. Hoërskool Waterkloof se Blou Tornado moes sweet om uiteindelik uit Hoërskool Rustenburg se greep los te breek. Die Klofies was teen die eindfluitjie met 31-10 baas, danksy ’n sterk laaste 15 minute waarin hy drie vinnige drieë gaan druk het.

Dié fluitjie in die kragmeting is deur die voormalige toetsskeidsregter Lourens van der Merwe geblaas. Van der Merwe is tans hoof by Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp.

Hugo Dercksen, oopkantflank van die Klofies, het met sy woelige vertoning uitgeblink. Hy is hiervoor met ’n tweekuns aan drieë beloon. Vir die Rusties was daar niemand beter as haker, Dandré Graham, nie.

Graham het ’n barshou gespeel met gereelde duikslae wat die skote laat klap het. Dit was egter sy vertoning met bal in hand wat die kollig gesteel het.

Puntemakers:

Garsfontein 49 (13) – Drieë: Drewyn Baron (2), Derik Potgieter, Stefan van der Vyver, Lourenz de Jager, Yuvrah George. Strafdrie. Doelskoppe: Joshua Gouws (3). Strafdoele: Gouws (2). Helpmekaar Kollege 24 (14) – Drieë: John van Druten, Xander van Niekerk, Zuan Krige, Daniel van der Linden. Doelskoppe: Ethan Kruger (2)

Waterkloof 31 (5) – Drieë: Hugo Dercksen (2), Meyer Pretorius, Liam Schutte, Ben Steyn. Doelskop: Schutte (3). Hoërskool Rustenburg 10 (3) – Drie: Ruben van Heerden. Doelskop: Ricardo Enos. Strafdoel: Lian Boshoff.

Ander spanne:

o.16: Garsfontein 35, Helpmekaar 26; Rustenburg 40, Waterkloof 15.

o.15: Helpmekaar 33, Garsfontein 17; Rustenburg 25, Waterkloof 12.

o.14: Garsfontein 21, Helpmekaar 17; Rustenburg 12, Waterkloof 0.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.