SuperSport Schools News

Middelburg verras Parkies, Monnas moker die Jansies met 13 van die beste

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-05-02 Tags: , , , , ,

Foto: Tap Light Edits.

Hoërskool Middelburg het Die Hoërskool Menlopark verras in die eerste ronde van vanjaar se Beker-afdeling in die Virseker Noordvaal Cup.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

Die Middies het aan ’n eenpuntvoorsprong vasgeklou en uiteindelik met ’n telling van 26-25 oor die Parkies in Middelburg koning gekraai. Dit boonop met ’n rooikaart wat omtrent 20 minute in die kragmeting aan Middies se agtsteman, Menzi Siyaya, gewys is.

’n Rooikaart op skolevlak is egter net vir 20 minute geldig. Daarna mag die speler met ‘n ander speler vanaf die plaasvervangersbank vervang word.

Die feit dat die tuisspan met net 14 spelers vir 20 minute moes speel, het egter geblyk of dit hom na die volgende rat laat oorslaan het.

Dit was veral sy gesoute vaskopstut, Dewald du Toit, wat die pap onder die grootmanne voorlangs dik aangemaak het. Du Toit was reg oor die veld te sien, meestal op die aanval met bal in hand. Hier het hy vir sy span nodige momentum opgebou.

Die eerste 35 minute het ietwat wipplank verloop. Die Parkies het albei kere die Middies se punte so te sê dadelik terug geantwoord. Middies se Kgotso Peta (linkervleuel) het eerste die doellyn oorgesteek waarna Parkies se Duran Pieterse vir sy eerste van drie drieë oorgebars het.

Pieterse was ook verantwoordelik vir die besoekers se terugvegpoging. Nadat Du Toit en binnesenter, Blake Faber, oorgeduik het om vir die Middies ’n 26-13-voorsprong te gee, het Pieterse nog ‘n verdere twee keer oorgebars om die verskil slegs een punt te maak.

Die Middies se moedige verdediging in die laaste tien minute was egter net-net genoeg om vir Menlopark uit te hou.

In Boksburg het die Wit Bulle van Krugersdorp, Hoërskool Monument, vir die Arende van Hoërskool Dr. EG Jansen ‘n behoorlike rugbyles geleer. Die Wit Bulle het nie minder nie as 13 keer agter die Jansies se doellyn gaan draai om met 85-19 ’n wegholsege in die sakkie te plaas.

Skrumskakel, Morné Noble, is as die Speler van die Wedstryd, of eerder die Virseker-breker van die Wedstryd, aangewys nadat hy vir ‘n driekuns aan drieë oorgedraf het. Een hiervan is ook as die Toyota-oomblik van die wedstryd aangewys nadat hy die lengte van die veld moes hardloop om af te gaan rond.

Sy linkervleuel, Ruan Genis, het gewys waarom hy so hoog aangeslaan word. Genis het reeds ‘n kontrak met die Blou Bulle geteken om sy loopbaan na skool met die unie na skool voort te sit. Hy het ook drie keer agter die Jansies se doellyn gaan draai.

Die tuisspan se losskakel, Renaldo October, het op sy beurt twee keer agter die Wit Bulle se doellyn gaan kuier. Die Jansies het met rukke en stote gevaarlik gelyk op die aanval, maar het die Wit Bulle ‘n behoorlike waarskuwing vroeg in die reeks uitgestuur met dié reuse-sege.

Puntemakers:

Hoërskool Middelburg 26 (12) – Drieë: Kgotso Peta, Lihan de Vaal, Dewald du Toit, Blake Faber. Doelskoppe: Jano Wilson (3). Menlopark 25 (10) – Drieë: Duran Pieterse (3), Willie Pieterse. Doelskop: Pieterse Strafdoel: Pieterse.

Monument 85 (40) – Drieë: Morné Noble (3), Ruan Genis (3), Siya Ncube (2), Matthew van Deventer, Juandré Ehlers, Logan Langeveld, Cameron Kourie, Migael Coetzee. Doelskoppe: Jayden Viljoen (6), Cameron Kourie (4). EG Jansen 19 (0) – Drieë: Renaldo October (2), Evan Botha. Doelskoppe: Dian Botha (2).

Ander spanne:

o.16: Hoërskool Middelburg 29, Menlopark 17; Monument 38, EG Jansen 22.

o.15: Hoërskool Middelburg 38, Menlopark 15; Monument 21, EG Jansen 14.

o.14: Hoërskool Middelburg 29, Menlopark 17; Monument 7, EG Jansen 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.