SuperSport Schools News

Skolerugby voorskou van sentrale streek vir 7 Mei 2016

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-05-06

Grey-kollege se rugbyspan kan vandag met ’n sege oor die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria sy aanspraak as Suid-Afrika se voorste skolespan van 2016 versterk.

Grey is nog onoorwonne vanjaar, maar Affies het vanjaar een van die sterkste spanne in sy geskiedenis. Die span van Pretoria het wel Maandag op Wildeklawer in Kimberley met 25-29 teen die Hoër Jongenskool Paarl vasgeval.

Hoe die nederlaag die Affie-span se gemoedstoestand vir vandag se stryd gaan beïnvloed, sal ’n groot invloed in die uitslag hê.

Die stryd tussen die twee spanne se senterpare behoort een van die hoogtepunte van die kragmeting te wees. Grey het in Rikus Pretorius en Janco van Heyningen ’n jong kombinasie wat nog volgende jaar ook beskikbaar vir die span sal wees. Affies se Louritz van der Schyff is een van die senters op skolevlak wat die hoogste in die land aangeslaan word, terwyl sy sentermaat, Marnus Potgieter, ook ’n gedugte speler is.

Affies het drie van sy ses seges oor Grey die afgelope vier jaar behaal. Die span van die Jakarandastad het sedert 2012 net in 2014 teen Grey met 31-42 verloor.

Grey behoort voorlangs sy man teen Affies se agttal te staan met sy sterk loskopstut, Tristan Spies, wat ná ’n besering terugkeer. Spies sal die teenvoeter vir Affies se SA Skole-stut, Cabous Eloff, en die vaskopstut, Arno van Wyk, moet wees. Eloff en Van Wyk is albei sterk baldraers.

Jim Fouché reis na Cradock waar hy sal probeer om die Wolramme van Marlow Landbou se houvas op die twee skole se jaarlikse interskole te verbreek.

Die Wolramme se eerstespan was in die laaste drie wedstryde tussen die twee spanne baas. JF se laaste sege oor Marlow Landbou (24-20) was in 2012 in Cradock gewees.
JF sal boonop sonder sy gereelde kaptein, 

In die Griffon-liga is daar slegs twee onoorwonne spanne in Welkom Gimnasium en Voortrekker van Bethlehem oor.
Die Gimmies kom vandag teen die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad in die Leeukuil in Kroonstad te staan, terwyl die Trekkers na Virginia sal reis om Hentie Cilliers die stryd aan te sê.

In Upington sal Griekwas en Griekwa-platteland se onderskeie voorlopige verteenwoordigende spanne mekaar vandag in proefwedstryde die stryd aansê.

Vandag se bepalings (tuisspanne eerste vermeld):

Vrystaat – 10:10: President Steyn t. Boshof; 10:30: Hendrik Potgieter (Reddersburg) t. Zastron; 11:00: Hoërskool Bloemfontein t. Heatherdale; 11:10: Sand du Plessis t. Tsoseletso; 13:10: Marlow Landbou t. Jim Fouché; 15:00: Affies t. Grey-kollege.

Griffon-liga – 11:15: Hentie Cilliers t. Voortrekker; 11:20: Witteberg t. HTS Sasolburg; 11:50: AHS Kroonstad t. Welkom Gimnasium; 12:00: Goudveld-Hoërskool t. Wilgerivier; 12:30: Hoërskool Kroonstad t. HTS Welkom.

Sandveld-liga – 11:30: Bothaville t. Hennenman; 11:45: Wessel Maree t. Riebeeckstad.

Oos-Vrystaat – 12:00: Ficksburg t. Reitz.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.