Secunda kampioen van die NWU-Pukke Sportreeks
Aan die einde kan daar net een span staande bly. Die Hoërskool Secunda se eerste rugbyspan het Saterdag in die eindstryd van die NWU-Pukke Sportreeks alleen staande in die reeks gebly deur die Hoërskool Alberton met 23-15 te troef. Albei spanne was voor die eindstryd onoorwonne wat op Dr. Malan se hoofveld in Meyerton beslis is.
Secunda behou met die sege ook hul onoorwonne status tot dusver vanjaar. Hy was ook die Pumas se Grootskole naaswenners in 2016 asook die kampioene in 2015.
Alberton het aan die begin van die wedstryd meeste van die balbesit asook gebiedsvoordeel geniet. Hy kon egter nie deur die hardnekkige verdediging van Secunda dring nie en is telkemale in hulle voetspore gestuit. Alberton het in die tyd baie min van hulle agterlyn gebruik gemaak en het met hulle voorspelers gespeel.
Secunda se verdediging rondom die losgemale was egter rotsvas. Indien Alberton meer van hulle agterlyn gebruik gemaak het in die tyd sou dit dalk meer vrugte afgewerp het.
Die eerste punte in die wedstryd het eers na omtrent 25 minute se spel gekom danksy ‘n strafdoel deur Secunda se heelagter, Tyrone Ferreira. Oomblikke daarna was die telling gelykop na ‘n strafdoel deur Alberton.
Alberton het daarna weer verwoed aangeval en die keer van hulle agterlyn gebruik gemaak. Die heelagter het ‘n pragtige lyn gehardloop en ingesny waar hy groot vaart en spoed gewys het om die eerste drie van die wedstryd aan te teken. Doelskop was oor en skielik was Alberton met 10-3 voor.
Kort voor rustyd was Secunda op die aanval en sy losskakel, Larnus Steyn, slaag met ‘n goeie skepskop. Mens het dalk op daai oomblik gevoel hy kon sy agterlyn gebruik het maar in die konteks van die wedstryd was dit egter ‘n baie baie belangrike skepkop en goeie besluit deur die losskakel wat vanjaar nou al verskeie skepskoppe oorgeklits het
Dit het nou al meer as een maal ‘n verskil gemaak in wedstryde. Hy was weer eens baie goed in die wedstryd met sy besluitneming en veral sy verdediging. Steyn is beslis nie net daar vir sy skopskoen nie en plaas sy lyf elke keer op die spel met skitter verdediging.
Die spanpraatjie halftyd deur Secunda se afrigters, JJ Hennop en George Matfield, moes beslis die gewenste uitwerking gehad het of dalk was dit die koue lafenis van water op die warm dag want Secunda begin die tweede helfte met meer dringendheid. Secunda teken dan ook die eerste punte van die tweede helfte aan toe hulle binne senter Nathan Carstens oorval net regs van die regter paal vir hulle eerste drie. Doelskop deur Tyrone Ferreira was suksesvol gewees en telling toe 13-10 vir Secunda.
Telling het hierna wipplank gery en baie spannende wedstryd tot gevolg gehad. Alberton gaan druk toe weer nadat Secunda besluit het om van hulle eie doel lyn af te hardloop met die bal en nie eerder te skop vir beter veld posisie nie. Doelskop is onsuksesvol. 15-13 vir Alberton. Secunda het meer bal besit en speel in regte gebiede. Strafskop vir Secunda. Tyrone Ferreira is weer suksesvol. 16-15 vir Secunda.
Met slegs 17 minute se spel oor voor die einde van die wedstryd kom daar een van die drieë waaroor mens kan liries raak. Dis een van daai drieë wat mens lief maak vir die spel rugby en wat ‘n oupa een dag vir sy klein kind van vertel as hulle daar op huis Herfsblaar se stoep sit en tee drink.
Secunda kry die bal in sy eie kwart gebied – Brandon Potgieter, die flank ontvang die bal en hy wys verbysterende vaart en voorgevoel. Hy klop etlike verdedigers en hardloop baie vêr om een van die beste en mees aanskoulike individuele drieë te gaan druk. Alhoewel hy nou maar eers in Graad 11 is speel hy week na week skitter rugby en sy vaart en visie op die veld is ongelooflik.Die doelskop deur Tyrone Ferreira is weer suksesvol en skielik is Secunda met 23-15 voor en Alberton sal moet twee keer punte aanteken om te wen.
Alles word gegee maar Secunda se verdediging hou. Secunda se voorspelers het beheer geneem in tweede helfte en die name van die haker, Cobus Prinsloo, en veral die agtsteman, Evan Wessels, moet beslis genoem word in die verband.
Wessels is dan ook as die Man van die Wedstryd vir sy uitmuntende spel aangewys. Albei het die X-faktor en speel week na week briljant. Secunda het al die druk in die eerste helfte geabsorbeer met skitter verdediging en in tweede helfte beheer geneem. Mens het gevoel gekry dat Secunda dalk net die meer fikser span was op die warm dag.
Hans Moore se o.16-span is as kampioen van sy afdeling gekroon na hy Secunda met 21-17 in die eindstryd geklop het.
Puntemakers:
Secunda 23 (3) – Drieë: Nathan Carstens, Brandon Potgieter. Doelskoppe: Tyrone Ferreira (2). Strafdoele: Ferreira. Skepdoel: Larnus Steyn. Hoërskool Alberton 15.
Hans Moore 10 – Drieë: Ruan Beck, Theuns du Toit. Hoogenhout 33.
Ander spanne:
Eerstespanne: Hartbeespoort 26, Benoni High 7; President 17, Elspark 12; Bastion 44, Riebeeckrand 19; Standerton 42, Brits 10; Linden 15, Dr. Malan 9.
o.16: Hans Moore 21, Secunda 17 (eindstryd); Bastion 19, Alberton 12; President 15, Elspark 5; Linden 39, Riebeeckrand 5; Dr. Malan 12, Standerton 7; Brits 14, Hoogenhout 12;
o.15: Hans Moore 24, Secunda 19; Brits 42, Hoogenhout 5; Alberton 20, Bastion 12; Linden 17, Dr. Malan 10; Riebeeckrand 28, Standerton 12; President 21, Benoni High 10; Birchleigh 22, Elspark 19.
o.14: Standerton 14, Hans Moore 10; Bastion 31, Riebeeckrand 0; President 5, Elspark 5; Hartsbeespoort 22, Birchleigh 14; Brits 10, Dr. Malan 7; Secunda 26, Hoogenhout 5; Alberton 19, Linden 5.




