SuperSport Schools Plus

Pressies pak Pretoria se Tekkies in eindstryd

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-08-17

Beeld Noordvaal Trofee Logo 250mmDie Hoërskool President van Johannesburg se senterpaar, Jeandré Maré en Mandla Tshabalala, was uitstaande in hul span se sege van 25-14 oor die Hoërskool Parys in die halfeindstryd van die Beeld Noordvaal Trofee vir Middelskole.
Dié twee se rotsvaste verdediging het die grondslag vir dié sege gelê. Pressies se agttal het ook die stryd voorlangs oorheers.

Parys se langeraat op slot, Jako van der Westhuizen, het wel meer as sy man voorlangs gestaan. Hy het in die los gewoel en natuurlik ook in die lynstane uitgetroon. Die wenspan se slot Kenny Weiners het self met sy spel beïndruk.

Parys se haker, Derick Claassen, verdien ook lof vir sy uitmuntende ingooiwerk in die sterk wind. Hy het sy springers deurgaans gevind. Pretoria THS sal President op sy tuisveld in die eindstryd inwag.

Die Tekkies het Belvedere van Benoni met 34-26 in die ander halfeindstryd met die kous oor die kop huis toe gestuur.

Morgenzon Landbou se senter Henning van Aswegen het met ’n driekuns aan drieë in sy span se sege van 32-19 oor Heilbron uitgestaan. Dié kragmeting was ’n halfeindstryd van Beeld Noordvaal Trofee vir Kleinskole.

Buiten Van Aswegen het die span se losskakel, Ricky du Toit, ook ’n blink vertoning gelewer. Morgenzon se Stallions sal na Christiana vir die eindstryd reis. Christiana het nie veel probleme ondervind om Curro Heuwelkruin met 22-7 die loef af te steek nie. Die wenspan se slot Pieter Fourie het twee van sy span se vier drieë gedruk.

In die Beeld Noordvaal Trofee se Makro-afdeling het Waterkloof se o.16-span verras deur Monument van Krugersdorp met 8-3 in die halfeindstryd te troef. Klofies sal teen E.G. Jansen van Boksburg in die eindstryd te staan kom ná hy Garsfontein oortuigend met 41-10 verslaan het.

Monnas se o.14- en o.15-span het daarin geslaag om tot die eindstryd deur te dring. Monnas het Menlopark met 22-8 in die o.14-wedstryd geklop. Die o.15-span het Menlopark ook met 10-3 uitgeskakel.

Die eerstespanne se halfeindronde vind Dinsdag in Pretoria en Boksburg plaas. In die Jakarandastad sê Garsies Monnas die stryd aan, terwyl EG Jansen en HTS Middelburg mekaar in Boksburg pak.

Puntemakers: 

MIDDELSKOLE HALFEINDRONDE

Pretoria THS 34 – Drieë: Shadeur Mahlanga (2), Chucky Kweainete, Mlondi Xolo, Bradley Matambo. Doelskoppe: Keanu Duraan (3). Strafdoel: Duraan. Belvedere 26 – Drieë: Nathan Smith (2), Jasen van Huysteen, Byron Wolfaard. Doelskoppe: Terrel Abbey (3).

President 25 (10) – Drieë: Kenny Weiners, Mandla Tshabalala, Brendan Gordan. Doelskoppe: Jeandré Maré (2). Strafdoele: Maré (2). Parys 14 (7) – Drieë: Jandré Beukes, Toko Nthoroane. Doelskoppe: Hannu Benade (2).

Ander spanne: 

o.16: Carletonville 5, Zeerust 0; Voortrekker (Boksburg) 29, Wolmaransstad 6. 

o.15: Cullinan 15, President 10; Goudrif 29, Patriot 12.

o.14: Wolmaransstad 19, Carletonville 6; Goudrif 33, Zeerust 26.

KLEINSKOLE 

Christiana 22 (5) – Drieë: Pieter Fourie (2), Tiaan Engelbrecht, Renier Bostelman. Doelskop: CJ van Heerden. Curro Heuwelkruin 7 (0) – Drie: Wernich Kachelhoffer. Doelskop: Kachelhoffer. 

Morgenzon Landbou 32 (12) – Drieë: Henning van Aswegen (3), Llewellyn van der Linde Botha. Doelskoppe: Jaco Botha (3). Strafdoel: Botha. Skepdoel: Ricky du Toit. Heilbron 19 (12)

Ander spanne: 

o.17: Curro Roodeplaat 20, Morgenzon Landbou 17; Koster 19, Curro Heuwelkruin 8. 

o.15: Koster 41, Morgenzon Landbou 0; Komatipoort 29, Heilbron 22.

VRIENDSKAPLIK

Jeppe Boys’ High 9 (6) – Strafdoele: Damien Payley (2), Kyle Grundlingh. Pretoria Boys’ High 5 (5) – Drie: Jean Volschenk.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.