SuperSport Schools Plus

Plasies ploeg met Rassies in nat Tzaneen

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-04-08 Tags: , , , , , , , , , , ,

Dit was hardlooprugby uit die boonste rakke, ongeag die reën in Plasieland.

Merensky Landbou Akademie het in nat weer op tuisbodem die bal skitterend rondgegooi om vir Hoërskool Ellisras met 33-12 te looi.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools. Skakel na die wedstryde.

Dit was van die eerste fluitjie duidelik dat die tuisspan nie van plan was om die besoekers enige genade te betoon nie. Die Plasies se stormverdediging het die Rassies deurentyd onder meedoënlose druk geplaas, en dit het tot ongedwonge foute gelei.

Die tuisspan het nie op hom laat wag om hierdie foute in punte te omskep nie. Rico Pieterse, die ligbloues se slot, het van ‘n tikskoppie die tuispan se rekening met ‘n sterk barslopie na aan die doellyn oopgemaak, waarna die buitesenter en onder-kaptein, Ulrich Maré, nog ‘n drie op sy 2024-kerfstok geplaas het.

Maré het blitsig opgevolg na ‘n steekskoppie deur losskakel, Byron Hendriks, om die bal onder die Rassies se neuse te gaps en te gaan druk. Haker, Ruan Marcos, het nog ‘n keer oorgebars om aan die tuisspan ‘n  rustydvoorsprong van 19-punte te bied.

Die tweede helfde was meer gebalanseerd, met die Rassies wat verbete teruggeveg het om 12 punte aan te teken. Twee verdere Plasie-drieë, deur skrumskakel, JD Boshoff, en vaskopstut, Tirelo Mashapa, het Ellisras egter die finale nekslag toegedien.

Hoërskool Ben Viljoen se puntemasjien, Mignon Stevens, het hierdie keer verseker dat die span van Groblersdal behoorlik met ‘n telling van 53-19 teen Hoërskool Hans Strijdom seëvier. Die heelagter het nie minder nie as vier keer agter die Hansies se doellyn gaan kuier, terwyl losskakel, Anvernio Adonis, ook ‘n tweekuns bygedra het.

Linkervleuel, Dylan Nieuwenhuys, het die res bygevoeg met vier doelskoppe en ‘n drie van sy eie, om verdere sout in die Hansies se wonde te smeer.

Hoërskool Secunda moes naarstiglik spook, op tuisbodem, vir ‘n oorwinning van 19-7 oor ‘n begeesterde Hoërskool Piet Retief. Piet Retief het uitstekend gespartel op die verdediging om te verhoed dat die span van Secunda se agterlyn aan die gang kom. ‘n Derde drie deur Secunda se binnesenter, Bismark Jansen, was egter genoeg om die wa deur die drif te trek.

Bergsig Akademie het vir die soveelste keer vanjaar ‘n uitstekende vertoning opgedis om vir Hoërskool Florida ‘n rugbyles van 57-7 te leer.

Haker, Johandre van Zyl, het die pap voorlangs dik aangemaak met sy begeesterde dryfspel. Agterlangs was dit oudergewoonte die generaal op losskakel, Simeon Botha, wat Florida se verdediging deurgaans aan die raai gehou het met sy blitsige besluitneming.

Puntemakers:

Merensky Landbou Akademie 33 (19) – Drieë: Tirelo Mashapa, Ruan Marcos, Rico Pieterse, JD Boshoff, Ulrich Mare. Doelskoppe: Byron Hendriks (4). Hoërskool Ellisras 12 (0).

Hoërskool Ben Viljoen 53 (22) – Drieë: Mignon Stevens (4), Anvernio Adonis (2), Mihlali Ntebi, Dylan Nieuwenhuys. Doelskoppe: Nieuwenhuys (4), Adonis. Strafdoel: Nieuwenhuys. Hoërskool Hans Strijdom 19 (7).

Hoërskool Secunda 19 (12) – Drieë: EJ Venter, Zander Scheepers, Bismark Jansen. Doelskoppe: Damian de Beer (2). Hoërskool Piet Retief 7 (0) – Drie: Kyle Stock. Doelskop: Owethu Shabalala.

Bergsig Akademie 57 (36) – Drieë: Simeon Botha, Tjaart Bernard, Johandre Steyl, Alzandro dos Santos, Paulo dos Santos, MJ Pretorius, Siya Butelezi, TK Bagwase, Lundro Scheepers. Doelskoppe: Simeon Botha (6). Hoërskool Florida 7 (0).

Ander wedstryde: 

Dr Malan 24, Centurion 13; Driehoek 20, Alberton 15.

Ander spanne: 

o. 16: Merensky 20, Ellisras 18; Ben Viljoen 31, Hans Strijdom 19; Piet Retief 29, Secunda 22; Bergsig 17, Florida 0; Centurion 33, Dr Malan 0.

o. 15: Merensky 12, Ellisras 12; Hans Strijdom 15, Ben Viljoen 12; Piet Retief 43, Secunda 0; Florida 24, Bergsig 12; Centurion 27, Dr Malan 19.

o. 14: Ellisras 13, Merensky 5; Ben Viljoen 51, Hans Strijdom 0; Piet Retief 15, Secunda 10; Bergsig 26, Florida 12; Dr Malan 17, Centurion 12.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.