SuperSport Schools News

Drewyn die Baron van die Ras van Rooyen na vierkuns vir onoorwonne Garsies

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-06-08 Tags: , , , ,

DREWYN BARON (met bal), heelagter van die Hoërskool Garsfontein steek hier die doellyn oor vir een van sy vier drieë in sy span se klinkende sege van 61-32 oor Monument. FOTO: Marius Nortjé

Die Beker-Bere, oftewel die Hoërskool Garsfontein se eersterugbyspan, het dit Saterdag in Krugersdorp duidelik gemaak dat indien iemand die titel as kampioen van die Virseker Noordvaal Cup wil inoes, hulle eers verby dié span van Pretoria sal moet kom.

Die Garsie Bere het Monument van Krugersdorp op hul tuisveld, die Ras van Rooyen, met 61-32 afgestof. Die twee spanne was voor dié kragmeting die enigste onoorwonne spanne oor in die Beker-afdeling. Die trofee staan al die afgelope drie jaar agter slot en grendel by Garsfontein.

Die span se Cravenweek-heelagter, Drewyn Baron, het veral probleme vir die tuisspan besorg. Baron het vier keer agter Monnas se doellyn gaan kuier. Hy het hiermee sy drieë in die kompetisie tot tien drieë opgestoot.

Die Wit Bulle was teen rustyd nog met 24-21 voor, maar het in die tweede helfte ’n bietjie stoom verloor. Die tuisspan het vir die eerste keer Vrydag voor die kragmeting saamgetrek, na ‘n groot deel van die span olik vroeër in die week was.

Die voorsprong teen rustyd kon dalk selfs groter gewees het, maar Monnas se Suid-Afrikaanse Skole-skrumskakel, Morné Noble, is vir tien minute koelkas toe gestuur. Baron het in hierdie tyd sy tweede draai agter die doellyn gaan maak.

Noble is self kort op Baron se hakke om die titel as voorste driedrukker in die reeks te wees. Noble het nege keer in sy span se vyf wedstryde tot dusver agter die doellyn gaan kuier. Dié nederlaag was die Wit Bulle se eerste in 11 kragmetings.

Vir die Bere was sy kaptein en slot, JJ Fourie, amper soos ‘n vierde losvoorspeler. Hy het ook self twee keer die doellyn oorgesteek. Nie dat sy span ‘n vierde losvoorspeler benodig het nie, die span se lostrio van JP Meintjies, Derik Potgieter en Francois van Niekerk het in die tweede helfte gesorg dat die bal lewendig by die afbreekpunte bly en sodoende die tempo van die spel gelig.

Agterlangs het die plaasvervanger-losskakel, Ruan Fluks, gewys dat hy slaggereed vir vanjaar se Cravenweek in Gqeberha is. Nie dat Joshua Gouws nie ook ‘n goeie vertoning op losskakel opgedis het nie.

Vir Monnas kan sy binnesenter, Juandré Ehlers, asook die agtsteman en kaptein, Ryno van der Westhuizen, ook tevrede met hul vertonings voel.

Puntemakers:

Garsfontein 61 (21) – Drieë: Drewyn Baron (4), JJ Fourie (2), Neil de Kock, Joshua Gouws, Ruan Fluks. Doelskoppe: Gouws (4), Fluks (4). Monument 32 (24) – Drieë: Hanco van Geelen, Ryno van der Westhuizen, Morné Noble, Juandré Ehlers. Doelskoppe: Jaydon Viljoen (3). Strafdoele: Viljoen (2).

Ander spanne:

o.16: Garsfontein 52, Monument 19; Rustenburg 26, Noordheuwel 0; Middelburg 28, EG Jansen 22.

o.15: Garsfontein 20, Monument 19; Noordheuwel 17, Rustenburg 13; EG Jansen 17, Middelburg 17.

o.14: Monument 17, Garsfontein 5; Rustenburg 26, Noordheuwel 24; Middelburg 24, EG Jansen 21.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.