Piet Retief oorrompel Volkies in die Jack Botes-stadion, Lombaard tweekuns help Pieties tot sege oor Marais Viljoen

Die verrassing van die Skild-afdeling van die Virseker Noordvaal Beker het op die Jack Botes-stadion in Piet Retief gekom.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Piet Retief het op sy tuisveld ‘n uithaal-en-wys-vertoning opgelewer om vir Heidelberg Volkskool, een van die groot aanspraakmakers op vanjaar se titel, met 34-12 die knie te laat buig.
Die tuisspan se losskakel, Carl-Hein Creydt, het die tuisskare behoorlik, met moontlik sy beste vertoning tot dusver vanjaar, bederf.
Creydt was een van vier Pieties om agter die besoekers se doellyn te gaan draai. Hy het verdere sout in die wonde gesmeer deur met sy skopstewel al vier die tuisspan se drieë te verdoel en ook met twee strafdoele te slaag om 19 van sy span se 34 punte by te dra.
Die tuisspan kon daarin slaag om die druk wat op die Volkies toegepas is in ongedwonge foute om te skakel en van daar het Creydt en kie voet in die hoek gesit om dié in punte om te draai.
Die ander Pieties in dié afdeling, Hoërskool Pietersburg, het vir die tweede keer in soveel weke oor Hoërskool Marais Viljoen koning gekraai. Vandeesweek se telling was egter nie so groot soos die een van ‘n week gelede nie (45-15), maar hy het steeds die septer met 31-22 geswaai.
Haker Ziahn Lombaard het weer sy pak se oorhand ten volle benut en twee keer agter rolmaalbewegings oorgeduik vir ‘n tweekuns aan drieë. Die verskil in dié week se stryd was die bydra van Marais Viljoen se woelige lostrio.
Die drie, bestaande uit Tshepo Tsholo (oopkantflank), Thato Mapuru (steelkantflank) en agtsteman Joshua O’Brien, was blitsvinnig op die losbal, wat die Pieties van Polokwane se momentum op ‘n gereelde basis versteur het.
O’Brien was ‘n doring op die aanval en het nes Lombaard twee drieë gedruk, wat ‘n welverdiende beloning vir ‘n uitstaande vertoning was.
Puntemakers:
Hoërskool Piet Retief 34 – Drieë: Carl-Hein Creydt, De Klerk Ferreira, Fiso Shabalala, Tristan Hambrock. Doelskoppe: Creydt (4). Strafdoele: Creydt (2).
Heidelberg Volkskool 12 – Drieë: Tristan Munro, Henru Coetzer. Doelskop: Vaughn Steynvaart.
Hoërskool Pietersburg 31 (24) – Drieë: Ziahn Lombaard (2), Ludke Pienaar, Basson Wolmarans, Juan Dreyer. Doelskoppe: Ryno Mienie (3). Marais Viljoen 22 (12) – Drieë: Joshua O’Brein (2), Ovayo Jonas, Tshepo Tsholo. Doelskop: Ovayo Jonas.
Eldoraigne 20 – Drieë: Zander Koopmans, Aiden van Rooyen, Damian Elferink. Doelskop: Eben Degenaar. Strafdoel: Degenaar. Secunda 32 – Geen inligting vanaf Secunda ontvang nie.
Ligbron Akademie 19 – Drieë: Riley Moir, Ndumiso Dlamini, Henco Scheepers. Doelskoppe: Gaston Brown (2). Ben Vorster 21 – Geen inligting vanaf Ben Vorster ontvang nie.
Ander uitslae:
o.16:
o.15:
o.14:




