Midstream College byt Bowl se grootste hond raak, Dinamika klink Die Anker se doppie


Midstream College het reeds in sy eerste wedstryd as deel van die Virseker Noordvaal Beker se westelike been van die Bowl-afdeling geblyk na ‘n span wat nog ‘n paar van die ander honde in dié afdeling gaan raak byt.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hy het Saterdag op sy tuisveld in Midrand daarna opgeleef. Die span van Midrand het vir sy 25-15-nederlaag teen Potchefstroom Gimnasium opgemaak deur die verdedigende kampioen, Potchefstroom Volkskool, met ‘n telling van 23-17 om te dop.
Sy heelagter, Ryan Strauss, het uiteindelik die grootste sê in dié stryd gehad. Nie net het Strauss die Volkies se doellyn oorgesteek nie, maar hy het ook ‘n verdere agt punte deur middel van sy skopstewel bygedra. Strauss se persoonlike bydra van 13 punte het die hoeksteen vir dié sege gelê, terwyl hy goeie ondersteuning van Robin Stassen (vaskopstut) en Rikus Cilliers (regtervleuel) ontvang het.
Stassen en Cilliers was die ander twee wat vir vyfpunters oorgebars het. Wian Victor, die Volkies se oopkantflank, het, soos beskryf deur sy teenstanders, ‘n vertoning wat herinneringe van Heinrich Brussow opgewek het, gelewer. Victor was ‘n doring by die afbreekpunte en het die lewe vir die tuisspan met tye ondraaglik gemaak.
Die ander nuweling in die westelike been, Hoërskool Centurion, het in sy eerste uitstappie behoorlik sy stempel afgedruk. Die Woeries het nege keer agter Hoërskool Jeugland se doellyn gaan draai om uiteindelik met ‘n indrukwekkende wegholsege van 61-17 op tuisbodem in Centurion te spog.
Agtsteman Darius Durie het ‘n woelige pak voorspelers gelei met ‘n verdiende tweekuns aan drieë. Agterlangs het heelagter Morné Prinsloo en sy skopstewel uitgeblink. Hy het sewe van sy agt doelskoppe oorgeklits, terwyl losskakel Bernick Fourie die ander een deur die mikke gejaag het om twee verdere punte tot sý vyfpunter vroeër in die stryd by te dra.
In die oostelike been was dit Hoërskool Dinamika van Alberton en Hoërskool Ermelo wat met hul eerste seges in vanjaar se reeks beïndruk het. Dinamika se pak voorspelers het die pap dik aangemaak in sy 34-14-sege oor Hoërskool Die Anker. Agtsteman Nico Greyling het gewoeker in die vastelos, terwyl vaskopstut Jayden Smith se goeie vertoning op die aanval met ‘n vyfpunter beloon is.
Hoërskool Ermelo se heelagter, WJ Pretorius, het die ligbloues van Merensky Landbou Akademie laat les opsê. Pretorius het 18 punte in die kragmeting bygedra. Dié het uit een drie, vyf doelskoppe en ‘n strafdoel bestaan. Sy linkervleuel, Luan Greyling, het self twee keer die doellyn oorgesteek vir ‘n tienpuntbydrae.
In Benoni het die wipplankstryd tussen Hoërskool Brandwag van Benoni en Hoërskool Hugenote van Springs in ‘n gelykopuitslag van 17-elk geëindig. Brandwag verwelkom aanstaande week vir Dinamika, terwyl die Hugies na Tzaneen reis om die Plasies in sy bulkrale aan te pak.
Puntemakers:
Virseker Noordvaal Beker Bowl-Wes:
Midstream College 23 – Drieë: Robin Stassen, Rikus Cilliers, Ryan Strauss. Doelskop: Strauss. Strafdoele: Strauss (2). Potchefstroom Volkskool 17 – Geen inligting van Potch Volkies ontvang nie.
Bergsig Akademie 36 (15) – Drieë: Othandwayo Ntshanga, Dylan Smith, Keanu Kalje, Lefa Maloma, Conner van Dalen. Conversions: Carlo de Jager (4). Penalty: De Jager. Potchefstroom Gimnasium 31 (12) – Drieë: Hardu Wolmarans, Nic Dreyer, Zach de Jager, Brendon Kellerman. Doelskoppe: Zandré Da Silva (3).
Hoërskool Centurion 61 – Drieë: Darius Durie (2), Malan Le Roux, CJ Niemand, Robbie Herholdt, Dylan Schoeman, Matthew Austin, Bernick Fourie, Stefan Vorster. Doelskoppe: Morné Prinsloo (7). Fourie. Jeugland 17 – Geen inligting van Jeugland ontvang nie.
Virseker Noordvaal Beker Bowl-Oos
Dinamika 34 – Drieë: Connor Griffin, Juandré Ackerman, Jayden Smith, Jadon Fritz, Basil Botha. Doelskoppe: Caiden van der Merwe (3). Strafdoel: Van der Merwe. Die Anker 14 – Geen inligting van Die Anker ontvang nie.
Hoërkool Ermelo 44 – Drieë: Luan Greyling (2), WJ Pretorius, Duan Burger, DW du Plessis, Jannie Jacobs. Doelskoppe: Pretorius (5). Strafdoel: Pretorius. Merensky 34 – Geen inligting van Merensky ontvang nie.
Brandwag (Benoni) 17 – Drieë: Jayden Diedericks, Morgan Rautenbach. Doelskoppe: Van Zyl van der Westhuizen (2). Strafdoel Van der Westhuizen. Hugenote (Springs) 17 – Drieë: Keanu Kruger, Gerrie van Biljon, Dewet Pretorius. Doelskop: Yovan Prinsloo.
Ander spanne:
o.16: Midstream College 23, Potch Volkies 19; Centurion 36, Jeugland 12; Bergsig 13, Potch Gimmies 12; Dinamika 29, Die Anker 12; Brandwag 41, Hugenote 7; Ermelo 45, Merensky 22.
o.15: Midstream College 10, Potch Volkies 7; Jeugland 19, Centurion 14; Potch Gimmies 22, Bergsig 14; Dinamika 17, Die Anker 12; Hugenote 40, Brandwag 7; Ermelo 24, Merensky 7.
o.14: Potch Volkies 22, Midstream College 13; Jeugland 17, Centurion 10; Dinamika 23, Bergsig 17, Potch Gimmies 17; Die Anker 21; Brandwag 19, Hugenote 12; Ermelo 64, Merensky 17.




