SuperSport Schools News

Zwarries, Kempies maak 50-punt stellings in Plaat-afdeling

By Franco Oberholzer , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-05-11 Tags: , , , , , , ,

Hoërskool Zwartkop se Vikings, asook Hoërskool Kempton Park, het onderskeidelik groot stellings in hul onderskeie kragmetings van die Virseker Noordvaal Cup se Plaat-afdeling gemaak.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

Die Vikings het Saterdagmiddag op sy tuisveld sewe drieë ingeryg om vir Hoërskool Transvalia met ‘n telling van 54-19 dragslae te gee.

Die Zwarries se linkervleuel, Waylin Papier, blyk na een van dié afdeling se groot gevaarmanne vanjaar. Papier het tot dusver die drieë ingeryg en Saterdag nog ‘n verdere twee op sy kerfstok gesit.

Papier het baljaar met die hope spasie wat deur sy losskakel, Tilon Baron, se goeie visie geskep is. Boonop het Baron ‘n goeie dag met die stewel beleef. Hy het vyf doelskoppe en drie strafdoele oorgeklits om saam met sy drie ‘n totaal van 24 punte by te dra.

Die Kempies het op sy beurt agt keer die doellyn op sy tuisveld oorgesteek om vir Hoërskool Oos-Moot met 52-8 af te ransel. Die grondslag vir die tuisspan is deur sy voorspelers gelê. Die Kempies se pak het van meet af die oorhand in die vaste fasette gehad. Dit het baie dieselfde geleenthede vir sy agterhoede geskep om te gaan afrond.

Regtervleuel Aubrey Hoskin, wat vanjaar deurgaans uitblink, was weer voor in die koor met sy tweekuns aan drieë. Die Kempies se Speler van die Wedstryd-toekenning is uiteindelik aan sy hele voorry gegee as beloning vir die trio wat onderskeidelik uit Tristan Marx (loskopstut), Matthew Vermaak (haker) en Reece van Loggenburg (vaskopstut) bestaan, se beste vertoning nóg vanjaar.

Die tendens was baie dieselfde by Hoërskool Montana in Pretoria waar die Rhinos van Hoërskool Nelspruit ‘n afgeronde vertoning aanmekaar geslaan het om die tuisspan met 37-31 te klop. Dit was dan ook die Rhinos se derde agtereenvolgende sege sedert die begin van die reeks, wat van hom ‘n uitdaging gaan maak om te stuit vir die res van sy Plaat-veldtog.

Puntemakers:

Zwartkop 54 (16) – Drieë: Waylin Papier (2), Garith Warie, Tilon Baron, Shaydon Botha, David van Jaarsveld, Regan Blignaut. Doelskoppe: Baron (5). Strafdoele: Baron (3). Transvalia 19 (5) – Drieë: Jeanré Barnard, Ewan Smit, Matt van Niekerk. Doelskoppe: Jaydee Maree (2).

Kempton Park 52 (33) – Drieë: Aubrey Hoskin (2), Reece van Loggenburg, Christian Nixon, Bevan Grobler, Kehan Kruger, Luca du Plooy, Matthew Vermaak. Doelskoppe: Heinrich Burger (4), Rynard Burger (2). Oos-Moot 8 (8) – Drie: Arno Badenhorst. Strafdoel: Karel Kok.

Montana 31 – Drieë: Ulrich van Biljon (2), Reghardt van Biljon, Shawn Moabelo. Doelskoppe: Rubel Bester (4). Strafdoel: Bester. Hoërskool Nelspruit 37 – Ongelukkig geen inligting van Nelspruit ontvang nie.

Ander spanne: 

o.16: Transvalia 34, Zwartkop 27; Oos-Moot 37, Kempton Park 14; Nelspruit 38, Montana 31.

o.15: Transvalia 17, Zwartkop 16; Kempton Park 17, Oos-Moot 14; Nelspruit 24, Montana 19.

o.14: Transvalia 19, Zwartkop 12; Kempton Park 24, Oos-Moot 24; Montana 27, Nelspruit 19.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.