Klerkies se Schoeman en Masango doof die Liggies uit

Hoërskool Klerksdorp se Daniel Schoeman en die gesoute Tyran Masango het seker gemaak dat die spogregte van sy jaarlikse derby met Hoërskool Lichtenburg saam met hom na Klerksdorp terugkeer.
Masango het twee keer die doellyn oorgesteek om vir die besoekers ‘n sege van 38-23 te verseker. In 2025 was dit ook Klerksdorp wat met die derbyloure weggestap het ná sy sege van 21-13 op sý tuisveld.
Die kollig is egter Saterdag deur Schoeman gesteel. Die slot van Klerksdorp is as Speler van die Wedstryd aangewys. Sy gewoel in die vastelos het die Liggies keer op keer uitoorlê en ook tot een van sy span se ses drieë gelei.
Dit het uiteraard vir Masango spasie aan die buitekant geskep en met sy ervaring het hy twee keer gaan afrond vir ‘n tweekuns aan drieë. Sy losskakel, Brendin Mathyse, was soos oudergewoonte op sy gemak as generaal van die agterhoede. Sy verspreiding raak wedstryd ná wedstryd beter, wat ‘n goeie teken is vir die Klerksdorpers se veldtog in die Virseker Noordvaal Beker se Plaat-afdeling.
Vir die Lichtenburgers het losskakel Hanjo Nieuwoudt en sy skopstewel uitgeblink. Nieuwoudt het die tuisspan se telbord aan die rol gehou deur albei drieë te verdoel en ook drie strafdoele oor te klits.
Voorlangs het vaskopstut Ruben Pretorius gewoel met ‘n goeie vertoning reg oor die veld. Dit is met die tuisspan se eerste drie beloon.
Puntemakers:
Hoërskool Klerksdorp 38 (19) – Drieë: Tyran Masango (2), Daniel Schoeman, Jayden Turner, Piet Hoffman, Brendin Mathyse. Doelskoppe: Mathyse (4). Hoërskool Lichtenburg 23 (13) – Drieë: Karabelo Kgamanyana, Ruben Pretorius. Doelskoppe: Hanjo Nieuwoudt (2). Strafdoele: Hanjo Nieuwoudt (3).
Ander spanne:
o.16: Klerksdorp 27, Lichtenburg 14.
o.15: Klerksdorp 37, Lichtenburg 10.
o.14: Klerksdorp 36, Lichtenburg 5.




