SuperSport Schools News

Oos-Moot gunteling om kroon in Bulle se Grootskole-liga te dra

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-06-13

Oos-Moot se eerste rugbyspan behoort Donderdag sy plek in die Virseker Beeldtrofee vir Grootskole met ’n sege oor die Hoërskool Tuine te verseker.

Oos-Moot het sover sake in die Blou Bulle se liga oorheers, maar Tuine kan nog altyd vir ’n verrassing in die twee spanne se halfeindstryd sorg. Oos-Moot het Saterdag vir Midstream College oortuigend met 49-8 die loef afgesteek.

Midstream het vanjaar gewys dat hy gewis saam met die groot honde kan blaf. Hy het verlede jaar nog aan die mediumskole-afdeling deelgeneem. Midstream kom Donderdag in die ander halfeindstryd van die Grootskole teen Pretoria-Noord te staan.

Lichtenburg se skrumskakel, Rabie van Zyl, was aan die voorpunt van sy span se sege van 31-27 oor Potchefstroom Gimnasium in die halfeindstryd van die Luiperds se Grootskole-liga op Olënpark in Potchefstroom.

Gimmies het die ligawedstryd vroeër vanjaar tussen die twee spanne naelskraaps met 31-30 gewen. Van Zyl het twee keer Gimmies se doellyn oorgesteek en ook drie van sy span se vyf drieë verdoel.

Potchefstroom Volkskool sal die eindstryd teen Lichtenburg onoorwonne betree na hy Wesvalia met 31-19 geklop het. Volkies se losskakel, Hanru van Rooyen, se skopskoen was die grootste verskil tussen die twee spanne. Hy het 16 van sy span se punte daarmee aangeteken.

Soos verwag sal die Hoërskool Pietersburg en Ben Vorster van Tzaneen mekaar in die eindstryd van die Limpopo se Grootskole-liga pak.

Ben Vorster moes egter hard werk om uiteindelik vir Frikkie Meyer van Thabazimbi met 46-31 uit te skakel. Die Vossies het die kragmeting vroeër vanjaar tussen die twee spanne gerieflik met 72-8 gewen.

Frikkie Meyer se losskakel, Chrizaan Strauss, se spelpeil toon ’n opwaartse kurwe wat die Limpopo Blou Bulle se Cravenweek-breiers breed sal laat glimlag. Hy was die grootste doring in Ben Vorster se vlees. Hy het in sy span se vorige wedstryd teen Pietersburg ook ’n driekuns aan drieë behaal. Vir die Vossies was sy flank Ruben Koekemoer uitstaande.

Pietersburg het vir HTS Tom Naudé in die ander halfeindstryd met 56-12 kaf gedraf. Dié jaargroep van Pieties het sedert o.14 nog nie een keer teen Ben Vorster die knie gebuig nie.

In Secunda in die halfeindronde van die Pumas se grootskole-liga was daar drama. Die tuisspan en verdedigende kampioen het gelykop teen HTS Witbank gespeel sonder dat enige van die twee spanne daarin kon slaag om punte aan te teken.

Die twee spanne sal mekaar Dinsdag weer die stryd aansê om te bepaal wie teen Ligbron in die eindstryd te staan sal kom. Ligbron het in die ander halfeindstryd vir Ermelo met 34-13 geklop.

Transvalia se vleuel Kruan Saunders het ’n driekuns aan drieë in die eerste helfte van sy kwarteindstryd teen Springs Boys’ High op Hugenote in Springs geveld gedruk om sy span te help tot ’n oortuigende sege van 43-0.
Die kragmeting is voor rustyd gestop. Wedstryde in die Valke-liga word op ’n punteverskil van 40 punte gestop.
Oosterlig het vir so ligte opskudding gesorg deur Heidelberg Volkskool met 20-17 te klop.

Oosterlig kom Donderdag op Hans Moore in Benoni teen Vereeniging Gimnasium in die halfeindronde te staan. In die ander halfeindstryd pak Transvalia en Hugenote mekaar.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.