SuperSport Schools Plus

Minnaar manjifiek, Hans Moore wéér in Valke-eindstryd

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-06-09 Tags: , , , , ,

‘n Rotsvaste vertoning op verdediging deur Hoërskool Hans Moore, tesame met ‘n driekuns deur linkervleuel, Warren Minnaar, bied vir die span van Benoni nou die geleentheid om hul titel as Valke-kampioen in die SDC Noordvaal Cup se Afdeling 2 te verdedig.

Hans Moore het hul bure van Benoni, Hoërskool Brandwag, naelskraaps met 26-24 verslaan in die afgelope naweek se halfeindstryd.

Minnaar, wat reeds vanjaar op die krieketveld vir die Moories uitgeblink het, het noú behoorlik naam gemaak vir homself op die rugbyveld ook. Die veelsydige agterspeler het Brandwag se verdediging dronk gehardloop om ‘n welverdiende driekuns agter sy naam te voeg.

Dié prestasie was moontlik gemaak deur Hans Moore se uiters fisieke pak. Die voorspelers het mekaar met mening die stryd aangesê, terwyl die skote ook dikwels geklap het op die verdediging. Dit het tot heelwat ongedwonge foute, en gevolglik geleenthede om teenaanvalle te loods, gelei.

Dian Britz, die Moories se generaal op losskakel, was ook uitstaande en sy bereidwilligheid om die voordeellyn aan te val het ook aan hom ‘n waardevolle vyfpunter besorg. Skrumskakel, CJ du Plessis, sal sy uitstappie in die nr. 9-trui ook nie gou vergeet nie, aangesien die naelbytsege met twee punte uiteindelik ook te danke was aan sy akkurate korrelwerk pale toe.

Brandwag se Tyrese Baadjies het weer bewys hoekom hy so hoog aangeslaan word, die Moories se middeveld deurentyd op hul tone gehou en een van sy span se vier drieë gedruk. Brandwag se skakelpaar, Jason Coetzer (losskakel) en Jayden Smith (skrumskakel), was ook uitstaande, met Smith se flinke diens by die afbreekpunte en Coetzer se vermoë om spel te dikteer, en dit het die tuisspan tot op die laaste nippertjie in die wedloop gehou.

In die ander halfeindstryd het Hoërskool Oosterlig net-net met 18-17 oor Hoërskool Sasolburg geseëvier, om hul plek in die eindstryd te bespreek.

Dylan Jordaan, die span van Boksburg se binnesenter, was uitmuntend op die aanval en het die span van Sasolburg deurgaans aan die raai gehou met sy bedrieglike aanvalslyne en sterk lopies.

Die goeie balbesit wat Jordaan en die res van die agterlyn geniet het, is moontlik gemaak deur die woelige haker, Gunther Nel, en die res van die Oosies se pak. Nel, in besonder, het soos ‘n vierde losvoorspeler gewoeker om vele hoofbrekens vir die Sasolburgers te besorg.

Die span van Sasolburg se lakwerk was nietemin uit die boonste rakke.

“Die karakater wat ons op verdediging gewys het was fantasties om te sien. Voorts het ons die breedte van die veld ook effektief aangewend om spasie aan te val, wat uitstekend was,” het Dewald le Roux, Hoërskool Sasolburg, se breier na die stryd gesê.

Puntemakers: 

Hans Moore 26 – Drieë: Warren Minnaar (3), Dian Britz. Doelskoppe: CJ du Plessis (3). Brandwag (Benoni) 24 – Drieë: Tyrese Baadjies, Jason Coetzer, Jayden Smith, Jayden van Rooyen. Doelskoppe: Jason Coetzer (2).

Oosterlig 18 (10) – Drieë: Dylan Jordaan, Gunther Nel. Doelskop: Jaydon Bouwer. Strafdoele: Bouwer (2). Sasolburg 17 (12) – Drieë: Themba Mbele, Kamohelo Ndweni, Siphiwe Mngomezulu. Doelskop: Meyer Pretorius.

Ander spanne: 

o.16: Brandwag (Benoni) 30, Driehoek 14; Oosterlig 14, Hans Moore 12.

o.15: Oosterlig 12, Hans Moore 0; Leeuwenhof 41, Hoërskool Sasolburg 10.

o.14: Leeuwenhof 25, Oosterlig 20; Brandwag (Benoni) 15, Hans Moore 12.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.