SuperSport Schools Plus

Linden en Riebies sal mekaar nie weer in die eindstryd wil soen nie

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-08-16 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Hoërskool Riebeeckrand Facebook

Die tafel is gedek in die SDC Noordvaal Cup se Groep 3 vir ‘n eindstryd wat beloof om kliphard te wees en vir hope drama te sorg.

Die Hoërskool Linden en Hoërskool Riebeeckrand se eerstespanne sal mekaar om 13:15 die stryd aansê. Dit sal die derde keer vanjaar wees dat hierdie twee spanne mekaar Saterdag die stryd aansê.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.co.za).

Daar was niks tussen die twee spanne in die Leeus-eindstryd met die telling op 25-elk te kies nie. Linden het die Noordvaal-uitspele as die Goue Leeus se voorste span betree, terwyl Riebeeckrand die veel moeiliker pas as die tweede gekeurde span vanuit die Leeus moes betree.

Linden het wel in die ligawedstryd tussen die twee skole met 23-17 as oorwinnaars van die veld gestap. Die span se kaptein en losskakel, Francois Steyn, se spel Saterdag sal waarskynlik die verskil tussen wen en verloor vir die tuisspan beteken.

Die Riebies het die verdedigende kampioen, die Hoërskool Vryburg, naelskraaps met 26-25 in die halfeindronde uitgeskakel. Die span het boonop ook in die kwarteindronde 2022 se kampioen, Die Wilgers van Pretoria, met 32-12 die loef afgesteek.

Dit sal Riebeeckrand se eerste verskyning op eerstespanvlak in ‘n eindstryd van die Noordvaal-reeks wees. Die Riebies se o.16-span het wel verlede jaar die kroon in Groep 3 gedra na ‘n sege van 22-20 oor Vryburg, asook in 2022 met 22-25 teen Linden in die eindstryd van dié reeks vasgeval.

Linden is ietwat meer ervare met dié skool se eerstespan wat in 1997 as kampioen van die Beeldtrofee vir kleinskole gekroon is. Hy het ook vier jaar in ‘n ry tussen 2007 en 2010 elke jaar gesig in die mediumskole-eindstryd gewys. In 2007 en 2008 het Linden die trofee omhoog gehou.

Linden het vanjaar ook ‘n hele paar keer bo sy gewigsklas geboks en onder andere vir Wonderboom (29-15) geklop en teen Wagpos (18-25) en Randburg (14-33) meer as sy man gestaan.

In die o.16-eindstryd sal Hoogenhout van Bethel teen Vryburg sake om die titel uitspook. Die Hoogies se jaargroep het verlede jaar met 7-18 teen Lydenburg in die eindstryd vasgeval.

Dié skool se o.15-groep hoop om sy heldedade van 2023 te herhaal met ‘n sege oor Fochville in die eindstryd. Die Hoogies het verlede jaar in die o.14-eindstryd teen Overvaal met 36-10 geseëvier.

In die o.14-eindstryd sal Riebeeckrand and Wolmaransstad sake teen mekaar uitspook.

Die spanne is: 

Hoërskool Linden: 15 Zander Fourie, 14 Etienne Fouché, 13 Jeandré Müller, 12 Aidan Mans, 11 Ruben Little, 10 Francois Steyn, 9 Ruan Erasmus, 8 Ayden Davel, 7 Keatin Carlse, 6 Dylan Fourie, 5 Lincoln Engelbrecht, 4 Wouter Toerien, 3 Dylan Pieterse, 2 Zackie Crow, 1 Ryan Nel. Plaasvervangers: 16 CJ du Toit, 17 Jadon Texeira, 18 Dirk van den Berg, 19 Eric Beyl, 20 Jaydan Griessel, 21 Schuylar van den Berg, 22 Roelof Smit, 23 Sandile Gumede.

Riebeeckrand: 15 Junaid Fortuin, 14 Cayleb Hadebe, 13 Eshihle Sibisi, 12 Peet de Bruin, 11 Mika Seatle, 10 Zac Smit, 9 Freddy Parrott, 8 Luyanda Kubheka, 7 Kobus Malan, 6 Xander Wray, 5 Terry Billa, 4 Dylan Jacobs, 3 Hardus Carew, 2 Zander Viljoen, 1 Reinhard Eloff. Plaasvervangers: 16 Sibusiso Pitso, 17 Ofentse Kgaje, 18 Henro van Coller, 19 Vuyo Gwenxame, 20 Dean Moolman, 21 Zander Campher, 22 Onthatile Moruledi, 23 Dianko Harmse.

Afskop: 13:15
Skeidsregter: Desmond van Wyk (Goue Leeus)

Junior Eindstryde | Groep III

o.16 – 11:45 – Hoërskool Vryburg vs Hoogenhout | Skeidsregter: Justin Alberts (Goue Leeus)
o.15 – 09:15 – Fochville vs Hoogenhout | Skeidsregter: Smiley Mokoto (Limpopo Blou Bulle)
o.14 – 08:00 – Riebeeckrand vs Wolmaransstad | Skeidsregter: Riaan Frey (Limpopo Blou Bulle)

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.