SuperSport Schools News

Limpopo gee Eye of the Tiger uitklophou

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-06-29

NuusG LimpopoSasolburg. – Die Limpopo Blou Bulle is dalk nie veel wyser ná hul kragmeting teen die Eye of the Tiger-span op die jaarlikse Noordvaal Bondedag hier in die DP de Villiers-stadion nie.

Maar dié oorwinning sou steeds die span se selfvertroue ’n belangrike hupstoot gegee het. Die span van die destydse Verre Noord het die akademiespan van Johannesburg met 48-7 verslaan. Limpopo het teen rustyd reeds ’n voorsprong van 38-0 geniet.

In die eerste helfte was daar net een span op die veld. Limpopo se twee senters, JV Coertze en Stephan Nel, het veral hul stemme dik gemaak met hul fisieke aanslag. Nel het twee keer die doellyn oorgesteek, terwyl Coertze ’n onderskepdrie gedruk het.

In die tweede helfte het Eye of the Tiger gewys hulle net so hardnekkig soos Rocky. Die span het by tye goeie spel opgedis en die drie deur Chadwin November, heelagter, was welverdiend. As die span se afronding beter was, kon hulle ’n paar keer in die tweede helfte nog Limpopo se doellyn oorgesteek het.

Die vleuel Pule Molokomme was die Bulle se beste speler en het twee drieë gedruk. Hy het ook elke keer gevaarlik gelyk wanneer hy in besit was. Voorlangs het Stefan Engelbrecht, agtsteman, en die kantman Salie Vermaak blink vertonings gelewer. Engelbrecht het veral ’n paar sterk lopies ingekry wanneer hy besit gekry het.

Limpopo sou aanvanklik teen Griekwaland-Wes gespeel het, wat aan die span ’n veel groter uitdaging sou bied. Die Poubloues het egter Donderdag aan die Bondedag onttrek.

Puntemakers:

Limpopo Blou Bulle 48 (38) – Drieë: Stephan Nel (2), Pule Molokomme (2), JV Coertze, Franco van der Watt, Salie Vermaak, Matinu Manganyi. Doelskoppe: Wernick Kachelhoffer (4). Eye of the Tiger 7 (0) – Drie: Chadwin November. Doelskop: November.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.