Kan Frikkies Ben Viljoen wéér troef vir plek in eindstryd?

Hoërskool Frikkie Meyer mik vir ‘n tweede agtereenvolgende oorwinning oor Hoërskool Ben Viljoen wanneer die twee spanne Saterdag in die Limpopo-halfeindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Afdeling 2 sake in Naboomspruit uitspook.
Die span van Thabazimbi was in hul vorige ontmoeting, tydens die uitspeelrondes, naelskraaps met ‘n telling van 29-26 baas.
Hulle lek egter nog hul wonde na verlede naweek se nederlaag van 22-25 teen Hoërskool Ellisras in die jaarlikse Matlabas-derby.
Dié uitslag het ook beteken dat die span van Ellisras regstreeks deurgedring het na die eindstryd wat op 13 Junie op hul tuisveld plaasvind.
In ‘n liga waar die spanne van Limpopo reeds etlike kere gesorg het vir senutergende kragmetings, behoort Saterdag se stryd geen uitsondering te wees nie.
Die Frikkies besef dat, indien hulle hoop om weer te seëvier teen die Rassies, hulle die span van Groblersdal se puntemasjien, Mignon Stevens, met ‘n valkoog sal moet dophou.
Stevens, wat vir die grootste gedeelte van die seisoen op heelagter verwoesting gesaai het, het die laaste paar wedstryde op losskakel diens gedoen. Hy is ook as heelagter in die Limpopo Blou Bulle se span aangewys.
Die skuif na losskakel bied egter hom die geleentheid om nader aan die aksie te wees en vir die opposisie met sy flink voetwerk te toets.
Sy skakelmaat, Anvernio Adonis, beskik self oor die vermoë om die vonke te laat spat en dié skrumskakel sal beslis die Frikkies se voorspelers, veral rondom die afbreekpunte, met geniepsige breekslae besig hou.
HP van Heerden, Frikkie Meyer se heelagter, is ‘n kranige teenaanvaller en die span van Groblersdal sal hul storie moet ken indien hulle op hom skop, aangesien Van Heerden die kleinste van spasies kan uitbuit.
Voorlangs wag die energieke slotpaar, Devonric Labuschagne en Henrico Hall, op die verdedigers van Ben Viljoen, met hul kragtige dryfspel en bereidwilligheid om moue op te rol wanneer dit by verdediging kom.
Indien die streeptruie daarin kan slaag om voorlangs te oorheers kan dit ‘n lang dag vir Ben Viljoen se agterlyn raak.
Die spanne:
Hoërskool Frikkie Meyer t. Hoërskool Ben Viljoen om 16:05 in Naboomspruit
Frikkie Meyer: 15 HP van Heerden, 14 Wian Pretorius, 13 Omphile Masopha, 12 Prince Sekoboane, 11 Poppie Mphela, 10 Merico Venter, 9 Luan Ras, 8 Echard de Klerk, 7 Keanu Visser, 6 Darren Pretorius, 5 Devonric Sart, 4 Janco van Deventer, 3 Johnny Barnard, 2 Stefan Mulder, 1 Lourens Pieterse.
Ben Viljoen: 15 Joe Cloete, 14 Chris Jordaan, 13 Mihlali Ntlebi, 12 Clementino Bowers, 11 Dylan Nieuwenhuys, 10 Mignon Stevens, 9 Anvernio Adonis, 8 Asheeq Bradford, 7 Tiaan Scheepers, 6 Jaco Botha, 5 Erich Labuschagne, 4 Henrico Hall, 3 JP Singleton, 2 Flippie Nieman, 1 Leuco Robinson.
- Genis, Strydom plaas Middies in stewige posisie vir promosie-stryd - 2025-02-13
- Marais Viljoen durf 2025 aan met nuwe rugbyhoof en ywer - 2025-02-12
- Klofies beëindig Ysbere-segetog - 2025-02-12