SuperSport Schools Plus

Groot tellings in eerste ronde van Griffon-liga

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-04-11

In die eerste ronde van vanjaar se Griffon-liga was daar ’n hele paar wegholseges. Welkom Gimnasium het Wilgerivier met 70-7 afgeransel, terwyl Voortrekker vir HTS Sasolburg met 56-0 gekarnuffel het. Hentie Cilliers van Virginia het vir Hoërskool Kroonstad met 57-0 oorrompel.

Wilgerivier sou gewis ’n makliker verwelkoming tot die liga wou hê, maar die afrigter, Frans Crous, sal nie heeltemal in sak en as wees nie. Gimmies kon teen rustyd slegs ’n voorsprong van 14-0 opbou.

Gimmies se groot en sterk buitesenter, Lubabalo Mtyesi, het drie van sy span se 12 drieë gedruk. Die heelagter, Andrew Kota, en die stut Neo Mohapi het elk ook dubbelle driedruk-plesier ervaar. Kota het slegs vyf doelskoppe oorgeklits voordat Gimmies besluit het om nie meer pale toe te skop nie.

Hentie Cilliers se heelagter, Jovanian du Preez, het ’n driekuns aan drieë in sy span se oortuigende sege oor die Hoërskool Kroonstad behaal. Die span van Virginia het te veel vrae aan die tuisspan se verdediging gevra.

Die buitesenter, William Hendricks, en vleuel Thebe Letsholo kan ook meer as tevrede met hul vertonings in die agterlyn voel. Voorlangs was niemand beter vir Henties as sy vaskopstut, Winrich Kennedy, nie.

Die Trekkers se linkervleuel, Willie Naudé, het in Sasolburg ook ’n driekuns behaal in sy span se sege oor die Spanners. HTS Sasolburg is ook vanjaar ’n nuweling in die Griffon-liga.

Die span van Bethlehem se binnesenter, Bertus Kleinhans, het ’n skitterende vertoning in die middelveld gelewer. Voorlangs het die haker, Tiaan van Zyl, en flank Hercu Breitenbach meer as hul deel gedoen.

Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad moes hard sweet om HTS Welkom met 19-10 te troef. Rooiskool het teen rustyd ’n skrale voorsprong van 5-3 geniet.

Die span se flank At van der Berg het die bal goed gedra, terwyl sy flankmaat, DJ Hattingh, woelig in die vastelos was. Agterlangs het die heelagter, Dylan Stiemmie, op die aanval vir die Tekkies probleme besorg.

Die Tekkies se flank Thando Wethu en slot Junior Rantsu kan vandag maar breëbors rondloop.

Witteberg was met 20-17 baas in ’n klipharde stryd teen Goudveld-Hoërskool. Wittes se losskakel, George Spershott, was sy span se groot held met sy bydra van 15 punte.

In die Oos-Vrystaatse liga het Harrismith vir Fickburg met 15-13 uitoorlê. Die wenspan se vaskopstut, Luvu James, en binnesenter, Chi-Chi Chikwe, het die grootste aandeel in die sege gehad. Ficksburg het met die omdraaislag ’n voorsprong van 6-0 geniet.

Puntemakers: 

Voortrekker 56: ¬ Drieë: Willie Naudé (3), Jonathan Allison (2), Tiaan van Zyl (2), Francois Klopper. Doelskoppe: Marco Labuschagne (8). HTS Sasolburg 0

Welkom Gimnasium 70 (14): Drieë: Lubabalo Mtyesi (3), Andrew Kota (2), Neo Mohapi (2), Kyle Els, Duke Jantjes, Thabo Sebata, Gift Dlamini, Robert Bristauw. Doelskoppe: Kota (5). Wilgerivier 7 (0): Drie: Christiaan Muller. Doelskop: Cobus Erasmus. 

Witteberg 20: Drieë: George Spershott, PJ Jonker. Doelskoppe: Spershott (2). Strafdoele: Spershott (2). Goudveld-Hoërskool 17: Driee: Zane Vorster, Duan Potgieter, Tristan September. Doelskop: September.

Hentie Cilliers 57: Drieë: Jovanian du Preez (3), CJ Sheppard (2), William Hendricks, Dillon Hadenburg, Thebe Letsholo, Hendrik Strauss. Doelskoppe: Heinke Meyer (6). Hoërskool Kroonstad 0

AHS Kroonstad 19 (5): Drieë: Zak van Niekerk, At van der Berg, DJ Hattingh. Doelskoppe: Chappies van der Walt (2). HTS Welkom 10 (3): Drie: Kitsane Molotsane. Doelskop: Stompie Hanaba. Strafdoel: Hanaba. 

Harrismith 15 (0): Drieë: Tubatsi Monareng, Nyakallo Masitha. Doelskop: Siza Mthembu. Strafdoel: Mthembu. Fickburg 13 (6): Drie: Jade Adam. Doelskop: Ranny Nolan. Strafdoele: Nolan (2).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.