SuperSport Schools News

Gimmies en Klerksdorp deel Jacob Wilkins-trofee

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-07-27

Ná 70 moordende minute het die Luiperds se grootskole-eindstryd tussen die Hoërskool Klerksdorp en Potchefstroom Gimnasium met 15-elk gelykop geëindig. Dié twee spanne deel sodoende die gesogte ­Jacob Wilkens-trofee.

Klerksdorp het teen rustyd met 10-7 voorgeloop, maar die belangrike feit was dat Gimmies se Cravenweek-senter, Inus Vermeulen, die eerste drie van die wedstryd gedruk het.

Danksy sy drie sal Gimmies die Beeld Noordvaal Trofee as die Luiperds se kampioen betree. Albei spanne het twee keer die witlyn in die eindstryd oorgesteek.

Klik hier vir al die rug​by-uitslae

Gimmies het die voortou geneem met Vermeulen se tweede drie ná 24 minute se spel in die tweede helfte, met die telling op 12-10.

Casper Dreyer, Gimmies se losskakel, het enkele minute voor die einde met ’n skepdoel geslaag om Gimmies gemaklik met 15-10 voor te laat loop, maar dit was nie die einde van die storie nie.

Dit was so al asof Gimmies die oorwinning begin vier het toe hy in die laaste oomblikke besit afgestaan het en Klerksdorp se buitesenter, Machiel le Roux, deurgebeur het vir ’n drie wat sake gelykop gemaak het.

Die lastige wind het die losskakel, Erich Hough, se doelskop net-net skeef laat trek, waarna die eindfluitjie geblaas het.

Gimmies sal in die Beeld Noordvaal Trofee teen die Blou Bulle se naaswenner, Overkruin, in ’n uitspeelwedstryd speel. Klerksdorp sal na Piet Retief moet reis vir sy uitspeelwedstryd.

Secunda het vir Piet Retief in die Pumas se eindstryd met 27-3 ore aangesit. Secunda sal teen Ben Vorster van Tzaneen in sy uitspeelwedstryd te staan kom.

■ Die Hoërskool Vryburg was op die jaarlikse sportdag van die Bloemfonteinse Hoërskool President Steyn teen die Hoërskool Bothaville in aksie. Die span van die Noordwes het Bothaville met 62-3 ’n drag slae toegedien.

Die wenspan se Cravenweek-heelagter, Francois Pelser, het drie keer ’n draai agter die doellyn gaan maak. Sy tweelingbroer, Johan, het twee van sy span se bewegings in dié sege afgerond.

Vryburg het reeds as die Luiperds se mediumskole-kampioen vir die Beeld Noordvaal Trofee gekwalifiseer. Die Hoërskool Brits sal as die Luiperds se naaswenner in dié kompetisie speel.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.