Garsies en Rooi Bulle pak mekaar in Beeldtrofee eindstryd
Lanklaas is albei dié halfeindstryde van die Beeld Noordvaal Trofee vir Makroskole op so ‘n dramatiese manier soos gister beslis. HTS Middelburg en Hoërskool Garsfontein het albei ‘n afspraak met mekaar in vanjaar se eindstryd bespreek terwyl die vet dame reeds besig was om haar stem op te warm.
HTS Middelburg se Rooi Bulle het in Boksburg vir EG Jansen met 43-41 geklop danksy twee drieë in die laaste minuut van die kragmeting. Die Rooi Bulle het egter in wittruie gespeel wat hulle inderhaas Maandag moes bestel om nie met EG Jansen se trui te bots nie.
Met slegs ‘n minuut oor op die skeidsregter, Jaco Pretorius, se horlosie het die vleuel, Zander Joubert, gaan druk. Dié drie is deur die losskakel, Brandon Par-Bailey, verdoel om die telling tot 41-36 in die tuisspan se guns te bring. Die beweging na die afskop was die laaste van die wedstryd en die Rooi Bulle se agtsteman en kaptein, Eric Basson, het sy driekuns voltooi om die wedstryd vir sy span te beklink.
EG Jansen het op ‘n stadium ‘n stewige voorsprong van 34-14 geniet. Die eindstryd sal HTS Middelburg se sewende in die geskiedenis van die kompetisie wees. Interresant is dat hy in al sy vorige eindstryde ook teen spanne van Pretoria kragte gemeet het.
Min mense sou hulle geld daarop verwed dat Garsfontein in vanjaar se eindstryd sou wees, na Monnas ‘n meer as stewige voorsprong in van 36-10 opgebou het.
Garsies se binnesenter, JP Wegner, het met speeltyd reeds verstreke ‘n strafdoel sekuur tussen deur die pale gejaag om aan sy span ‘n naelskraapse sege van 37-36 te besorg.
Die terugvegpoging is deur die SA Skole-skrumskakel, Embrose Papier, in die laaste tien minute aangevuur. Garsies het vier drieë, twee elk deur sy senter Abner van Reenen en plaasvervanger-vleuel Clayton Africa, in die tydperk gaan druk om die sege moontlik te maak.
Die span van Krugersdorp het spel in die grootste gedeelte van die wedstryd oorheers. Die span van sy senior-spelers soos die agtsteman, Len Massyn, haker en kaptein Justin Brandon en losskakel, Xander Kruger, afgehaal om hulle vir ‘n moontlike eindstryd te spaar.
Dit sal Garsies se tweede verskyning in die eindstryd wees, na hulle verlede jaar teen die Hoërskool Nelspruit met 20-19 in die eindstryd vasgeval het.
Puntemakers:
HTS Middelburg 43 (7) – Driee: Eric Basson (3), Ruan Ludick, Johandre Olckers, Ryan Cloete, Zander Joubert. Doelskoppe: Brandon Par-Bailey (4). EG Jansen 41 (15) – Driee: Dillon Robus, Irvin Ali, Brandon Swartz, Warren Brits, Edwin Jansen, Erich Cronje, Rouxbann Baumann. Doelskoppe: Xander Crause (3).
Garsfontein 37 (10) – Driee: Abner van Reenen (2), Clayton Africa (2), Luke Fortuin. Doelskoppe: JP Wegner (2), Embrose Papier. Strafdoele: Wegner (2). Monument 36 (26) – Driee: Nathan McBeth, Xander Kruger, Len Massyn, Franco Tiedt, Ivan Smit. Doelskoppe: Kruger (4). Skepdoel: Kruger.




