Franse beplan om 20 van SA se talent na Frankryk te lok
Suid-Afrikaners sal dalk in die nabye toekoms met die woorde van die Franse volkslied, La Marseillaise, moet vetroud raak.
Daar is glo agente op vanjaar se 53ste Cravenweek vir hoërskole wat 20 van Suid-Afrika se voorste skolerugbyspelers met lonende kontrakte wil lok om hul loopbane na skool in Frankryk voort te sit. Die grootste skolerugbytoernooi ter wêreld word vanjaar hier op Kearsney College se velde aangebied.
Die Suid-Afrikaanse geakkrediteerde agent Mark Greeff het erken dat hy deur die Franse klubs genader is om hulle met name van 20 van Suid-Afrika se belowendste skoolverlaters
“Die spelers sal nie in Frankryk kan studeer nie, maar sal wel verplig word om Frans te leer praat. Hulle sal by klubs soos Toulon, Racing 92, Montpellier en Clermont Auvergne geplaas word. Daarna sal die Franse Rugbyakademie se keurders ook na die spelers kyk,” het Greeff gesê.
Dié kontrakte beloop glo tussen 3500 en 4000 euro per maand per speler. Hulle sal ook nie verblyf betaal nie, terwyl daar ook ’n aantal voertuie vir die spelers beskikbaar gestel sal word.
Volgens Greeff kan daar indien die Franse daarin slaag om van Suid-Afrika se voorste talent vir die volgende paar jaar na Frankryk te lok maklik 14 tot 15 Suid-Afrikaanse spelers vir die Hane se nasionale span uitdraf.
Die Franse agente by die Cravenweek is na bewering uitgetrede Suid-Afrikaanse rugbyspelers wat rugby in Frankryk gespeel het.
Die enigste oudspelers met Europese verbintenisse wat Netwerk24 sover gewaar het, is Jacques Cronjé (Biarritz Olympique/Racing 92) en Ernst Joubert (Saracens). Dis egter nie bekend of hulle betrokke is by spelerwerwing en of hulle net as toeskouers by die week is nie.
Die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, Oregan Hoskins, het by die openingsgeleentheid van die week na die feit verwys dat die internasionale mark ’n reuse uitdaging vir SA Rugby is weens die wisselkoers.
Springbokke soos Duane Vermeulen, Bryan Habana, Juan Smith (almal Toulon), Bismarck du Plessis, Pierre Spies, Frans Steyn, Jannie du Plessis (almal Montpellier), Morné Steyn (Stade Francais) en Johan Goosen (Racing 92) speel reeds die Franse Top14-reeks aan die brand.
Terwyl jong spelers soos Paul Willemse, Henry Immelman, Jacques du Plessis (almal Montpellier), Aidon Davis (Toulon) ook reeds hul pond vleis daar verdien.
Goosen is vanjaar as die Franse Top14-reeks se speler van die toernooi aangewys. Nog ’n Suid-Afrikaner, Rory Kockott, wat die Franse op toetsvlak verteenwoordig het, het die toekenning in 2013 ontvang.
Buiten die wisselkoers speel Saru se strategiese transformasieplan volgens Greeff ook ’n groot rol in die uittog van spelers na Europa. Indien Saru dié plan se mikpunte vir 2019 bereik van 50 persent gekleurde spelers in die nasionale sowel as Superrugby spanne sal daar slegs plek vir 69 wit spelers in die Superreeks van 2019 op ’n Saterdag in die land se ses spanne wees.




