Buffels wil bordjies in afspraak met Arende van EG Jansen verhang

In 2025 het die muntstuk aan die kant van die Dokter van Boksburg, Hoërskool Dr EG Jansen, geland. Saterdag, op die B-veld van Hoërskool Kempton Park, kry die Buffels van Hoërskool Ben Vorster egter die geleentheid om sake reg te stel.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Jansies en Buffels is om 15:25 haaks in die laaste uitspeelrondes van vanjaar se NWU Sport-reeks. Dié twee spanne sal meeding vir die sewende en agtste plek in vanjaar se reeks.
Die Arende vanuit Boksburg het verlede jaar, op sy tuisveld, in dieselfde reeks met 43-25 oor die span van Tzaneen koning gekraai.
Die Buffels, hoewel hulle nie aan die wenkant was nie, sal vol selfvertroue wees nadat hulle 40 punte teen Hoërskool Middelburg, in hul ontmoeting verlede naweek, kon aanteken. Die wedstryd het met 40-elk gelykop geëindig.
Dus sal aanstaande Saterdag die derde keer wees wat die span van Tzaneen uitdraf teen ’n span wat in die Beker-afdeling van vanjaar se Virseker Noordvaal Cup sal meeding, nadat hulle reeds vroeër vanjaar teen Die Hoërskool Menlopark in die ooste van Pretoria swaarde gekruis het. Hul uitdaging bly egter steeds nie gering nie.
Hoewel die Jansies se Arende gemengde welslae vanjaar beleef, bly hulle steeds een van die groot honde noord van die Vaalrivier. Boonop is die Boksburgers nog gekwes ná hul 46-31 nederlaag teen die Rooi Bulle van HTS Middelburg ’n week gelede. Daarom sal nie een die ander sonder handskoene wil aanpak nie, en kan daar met sekerheid gesê word dat die fisieke stryd ’n taai een gaan wees.
Die Buffels sal vir seker moet katsvoet loop vir die Jansies se gevaarlike, Juan van Aswegen. Hy was reeds in 2025 deel van die Arende se span waarin hy gereeld as losskakel diens gedoen het. Vanjaar draf die veelsydige agterspeler op heelagter uit. Dit is juis waar hy op sy gevaarlikste lyk, veral wanneer hy homself by die agterlyn op die aanval aansluit.
Die span word deur steelkantflank, Jaco Engelbrecht, aangevoer. Buiten dat Engelbrecht in die vastelos woeker, is hy ook ’n kranige krieketspeler. Hy het in 2024 groot opslae gemaak met ’n vertoning van ses paaltjies in ses balle tydens Krieket Suid-Afrika se o16-week in Pretoria. Dit is ’n duidelike teken dat hy oor die vermoë beskik om die momentum, hetsy met ’n ronde of ovaalbal van ‘n kragmeting te swaai.
In aanloop tot die hoofwedstryd op die B-veld het Hoërskool Transvalia ook ’n appeltjie met Hoërskool Kempton Park te skil. Die Kempies was in 2025 met 28-21 oor die span van Vanderbijlpark baas. Valia moes sweet vir ’n 38-31 sege oor Hoërskool Eldoraigne, terwyl Hoërskool Piet Retief die Kempies vir hul sege van 34-31 laat werk het. Albei was ook vanjaar twee van die vele nuwelinge by die Noord/Suid-toernooi.
Die Kempies en Valia spook sake vir die negende en tiende plek in die reeks uit.
Dit is hoeka die Eldos en Hoërskool Piet Retief wat mekaar vroeër die dag pak. Ten spyte daarvan dat albei spanne se seisoene ietwat wankelrig begin het en dat dit vir die houtlepel sal wees, is daar steeds hope trots op die spel. Piet Retief, alombekend vir gevaarlike hardlooprugby van enige plek op die veld, sal die span van Centurion se verdediging deeglik beproef.
In antwoord hierop sal die Drake van Centurion se woelige pak die span van Mpumalanga op hul tone hou.
Die moontlike spanne is:
EG Jansen t. Ben Vorster om 15:25 in Kempton Park:
EG Jansen: 15 Juan van Aswegen, 14 Werner Breytenbach, 13 Duwayne Zeekoei, 12 Dian Botha, 11 Jordan van der Westhuizen, 10 Renaldo October, 9 Joe Diesel, 8 Juan Harris, 7 Jaco Engelbrecht (kaptein), 6 Aljay Olivier, 5 Ivan Botha, 4 Ewan Pretorius, 3 Elshaan Duminy, 2 Quinten Joubert, 1 Frans Uithaler.
Ben Vorster: 15 Wessel Joubert, 14 Ronnel Komane, 13 Zane Trollip, 12 Edwin Matola, 11 Tumi Ramohlale, 10 Lolos Letlabolo, 9 Joshua van Eeden, 8 Joshua van der Mescht, 7 Kobus de Beer, 6 Ryan Gerhardt, 5 Wilhelm Brummer, 4 Dejuan du Plessis, 3 JJ Crewe, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.
Hoërskool Kempton Park t. Transvalia om 09:15 in Kempton Park:
Kempton Park: 15 Aubrey Hoskin, 14 Ruan Opperman, 13 Ethan Botha, 12 Guillaume Botha, 11 Bjorn Hardy, 10 Heinrich Burger, 9 Etteinne Stroebel, 8 Christiaan Nixon, 7 Luca du Plooy, 6 Wihan Strey, 5 Jordan Koekemoer, 4 Ruan Mostert, 3 Juan Olivier, 2 Dihan Keeve, 1 Govanni Kruger.
Transvalia: 15 Lorenzo Flynn, 14 Waldo McLaen, 13 Dave Mithizi, 12 Anro van Biljon, 11 Xander Pretorius, 10 Jaydee Maree, 9 Johan Smit, 8 Caylan McLauchlin, 7 Matthew van Niekerk, 6 GJ Rossouw, 5 Eduann Raubenheimer, 4 Juhan Basson, 3 Damian van Heerden, 2 Justin Sampson, 1 Wimpie Maritz.
Hoërskool Piet Retief t. Eldoraigne om 13:55 in Kempton Park:
Piet Retief: 15 Owethu Shabalala, 14 Pedri Pienaar, 13 De Klerk Ferreira, 12 Mukelo Nkosi, 11 Fisokuhle Shabalala, 10 Carl-Hein Creydt, 9 Franvo De La Rosa, 8 Dian Dickinson, 7 Tristan Hambrock, 6 Calvin Muller, 5 Nkazimulo Masondo, 4 Harold Gever, 3 Wayne Mitchell, 2 Ulrich Kinghorn, 1 Melo Xulu.
Eldoraigne: Nie ontvang.





