Bothaville nie maklik gestuit vanjaar
BOTHAVILLE se eerste rugbyspan gaan nie maklik in vanjaar se Sandveld-liga gestuit word nie. Die span het sy aanslag op die liga se titel met ‘n sege van 59-3 oor Hennenman afgeskop.
Die span se haker, Rikus Alkema was sonder twyfel die beste speler op die dag. Die twee manne wat langs hom in die skrum gesak het die tweelingbroers, Donovan en Armand van Wyk het self uitstaande spel gelewer. Die flank WJ van Staden kan vandag ook maar breëbors oor sy vertoning rondstap. Agterlangs het die senter, Derek Beeslaar weer met sy rotsvaste verdediging beïndruk.
Wessel Maree het 19-15 oor Riebeeckstad koning gekraai.
Bultfontein het Welkom Sekondêr 56-3 die loef afgesteek. Die senter Arno Taljaard het drie van sy span se nege drieë gedruk. Theunissen het Salomon Senekal van Viljoenskroon 40-10 kaf gedraf met die kantman, Wian Jordaan wat ‘n driekuns aan drieë behaal het. Sandveld van Wesselsbron het Lesideng 43-12 die loef afgesteek.
Landboudal van Jacobsdal het Duineveld 33-12 die onderspit laat delf. Dit was die span van Lanties se eerste wedstryd onder sy nuwe breier, Schalk van der Merwe. Hy het die leisels by Cassie Carstens oorgeneem.
De Aar het vir Hartswater 41-14 geklop. Die span van De Aar is besig om sy stem dik te maak en kan indien die span sy spelpeil behou een van die rolspelers in die Kovsiestreek-kompetisie wees. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.
Diamantveld het na Pretoria gereis en sy rieme 10-36 teen Menlopark vasgeloop. Diamonds was rustyd met die telling op 3-26 reeds met hul rue teen die muur. Die span het egter in die tweede helfte beter vertoon en die flank Janco Cloete het sy span se enigste drie behaal. Die span moes weens die onluste in Bloemhof ‘n alternatiewe roete volg om die bepaling na te kom.
Puntemakers:
Menlopark 36 (26) – Drieë: Armand Buys (2), Ruan de Beer, Juanré van der Walt, Justin Meintjies. Doelskoppe: Marco Dönges (4). Strafdoel: Andle Loubser. Diamantveld 10 (3) – Drie: Janco Cloete. Doelskop: Nortje. Strafdoel: Nortje.
Hartswater 14 – Drieë: Jean du Plessis, Franco Holtzhausen. Doelskoppe: Altus van Zyl (2). De Aar 41.
Bothaville 59 (33) – Drieë: Rikus Alkema (2), Thato Mojake (2), Donovan van Wyk, Alec Dodge, Armand van Wyk, Derek Beeslaar, Armand van der Merwe. Doelskoppe: WJ Crous (6). Hennenman 3 (3).
Wessel Maree 19 – Drieë: Christiaan Griessel, Sonna Nokele, Franco Grobler. Doelskoppe: Pierre van der Walt (2). Riebeeckstad 15.
Sandveld 43 – Drieë: Michael Fulton (2), Jaco Groenewald (2), SE van Heerden, Johan Fick, Johan Rall. Doelskoppe: Rall (4). Lesideng 12.
Bultfontein 56 – Drieë: Arno Taljaard (3), Erik Helm (2), Tefelo Tamatheloo, Marnes van Staden, Jopie Taljaard, Etienne Botha. Doelskoppe: GJ van Eeden (4). Strafdoel: Van Eeden. Welkom Sekondêr 3.
Theunissen 40 (12) – Drieë: Wian Jordaan (3), Thabang Raputsoane, Sylvester Seseane, Strafdrie. Doelskoppe: Seseane (5). Salomon Senekal 10 (5).
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16