Affies gaffel vir Pretoria Boys’ High met rekordsege
Die Wit Bulle van die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het Pretoria Boys’ High die grootste loesing nog tussen die twee spanne toegedien. Affies het in die interskole wat vanjaar 93 jaar oud is met 67-6 as oorwinnaars van die veld gestap.
Die vorige grootste drag slae wat Pretoria Boys’ High teen Affies op die lyf geloop het, was verlede jaar se nederlaag van 56-3. Die Wit Bulle se senterpaar, Louritz van der Schyff en Marnus Potgieter, het veral in die middelveld vir die verloorspan probleme besorg. Albei het die doellyn twee keer oorgesteek.
Pretoria Boys’ High se slegte vertoningslys die afgelope twee jaar op die rugbyveld deur voort. Die skool se eerste span kon slegs in agt van sy laaste 32 wedstryde die afgelope twee jaar daarin slaag om die soet smaak van ’n sege te proe.
In een van die oudste interskoles in Johannesburg het Jeppe High School for Boys’ vir King Edward VII met 36-10 kaf gedraf. Dit was veral die agtsteman, Hacjivah Dayimani, wat met sy spel beïndruk het. Hy het sy terugkeer na ’n besering in die wedstryd gemaak.
Buiten Dayimani het die losskakel Tyrone Green en SA Skole-senter Wandisile Simelane ook groot rolle vir die wenspan vertolk. Dit was die 86ste keer wat die twee spanne sedert 1935 mekaar op die rugbyveld ontmoet het.
Welkom Gimnasium sal nie sommer gestuit word in sy opmars om sy titel as kampioen van die Griffon-liga te behou nie. Gimmies het Witteberg van Bethlehem met 52-8 in hulle halfeindstryd in die HT Pelatona-stadion in Welkom oorrompel.
Die verdedigende kampioen se buitesenter, Lubabalo Mtyeshi, het Witteberg se verdediging kopsere besorg. Hy het met sy kragtige lopies die doellyn vier keer oorgesteek.
In die ander halfeindstryd het Voortrekker van Bethlehem vir Goudveld-Hoërskool met 39-24 getroef. Die Trekkers se losvoorspelers Michael Janse van Rensburg en Wessel van Huysteen het voorlangs die pap dik aangemaak.
Gimmies en die Trekkers het albei met die oorwinnings tot die halfeindronde van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) deurgedring. Die wenner sal na Kimberley reis om teen Diamantveld of Noord-Kaap te speel, terwyl die verloorder vir Grey-kollege die stryd sal moet aansê.
Selborne College sy nederlaag vroeër vanjaar teen Dale College (19-24) in ’n sege van 16-13 omgeswaai. Selborne het met lemoentyd ’n stewige voorsprong van 16-0 opgebou. Veral sy losskakel, David Coetzer, en senter en kaptein, Sango Xamlashe, het skitter vertonings gelewer. Dale se terugvegpoging is in die tweede helfte deur sy kantman, Kwanda Dimaza.
Brandwag van Uitenhage het vir Nico Malan van Humansdorp met 29-22 die loef afgesteek.
Ander uitslae:
Bothaville 35, Reitz 8; Hennenman 50, Harrismith 12; St. Andrew 41, Sand du Plessis 20; Hendrik Potgieter (Reddersburg) 22, Brandfort 12; Namaqualand 22. Kathu 17; Potsmasburg 21, Daniëlskuil 19; Sandveld (Wesselsbron) 24, Winburg 24.




