SuperSport Schools News

Wit Bulle weer die beste in die weste, Van Aswegen skopstewel die laaste sê vir Jansies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-05-10 Tags: , , , , ,

Morné Noble strek oor vir sy drie wat as die Toyota oomblik van die wedstryd aangewys is in die Wit Bulle se 41-15 sege oor Noordheuwel in die Krugersdorp derby wat deel van die Virseker Noordvaal Beker uitmaak. Foto: Marius Nortjé.

Daar blyk tans geen keer aan Morné Noble en die Wit Bulle van Hoërskool Monument te wees nie.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

Die Wit Bulle het Saterdagmiddag op die Ras van Rooyen die bordjies oor Hoërskool Noordheuwel met ‘n oortuigende sege van 41-15 in dié se ontmoeting in die Virseker Noordvaal Cup verhang.

Dit het die Monumentare weer die beste in die weste gemaak, soos waarna oor die afgelope week na die stryd verwys is.

Noble is vir die tweede agtereenvolgende week as die Virseker-breker van die wedstryd aangewys. Sy drie is ook vir die tweede week in ‘n ry as die Toyota-oomblik van die wedstryd aangewys.

Die laaste twee weke het gewys hoekom Noble reeds verlede jaar die Suid-Afrikaanse Skole-span se oond skoongemaak het. Hy is ongelukkig vanjaar nie verkiesbaar vir die Leeus se Cravenweek-span nie.

Sy oopkantflank, Siya Ncube, was net so uitsonderlik. Ncube se gewoeker in die vastelos, en ook ‘n drie, het gemaak dat hý self aan die Virseker-breker-deur geklop het.

Die Nories het in die eerste helfte uitstekend verdedig. Sý alombekende rotsvaste verdediging, wat ‘n hele paar groot duikslae ingesluit het, het beteken dat die Wit Bulle met slegs 8-3 teen die omdraaislag voorgeloop het.

Loskopstut Ruben Botes se drie kort ná rustyd het die Nories se hoop laat opvlam, maar daar was egter geen keer aan die tuisspan nadat Noble se vyfpunter die momentum gedraai het nie.

Hoërskool Dr. EG Jansen het sy groot nederlaag teen die Wit Bulle verlede naweek afgeskud en met ‘n 32-28-sege oor Hoërskool Rustenburg reggemaak. Dit was uiteindelik die skopstewel van die Jansies se losskakel, Juan van Aswegen, wat die verskil tussen die twee spanne was.

Van Aswegen se strafdoel, met tyd reeds verstreke, het die Rusties se doppie geklink. Hy het vroeër twee doelskoppe oorgeklits het en ook die doellyn vir ‘n drie oorgesteek het.

Hy is ondersteun deur ‘n tweekuns aan drieë deur sy kaptein en steelkantflank, Jaco Engelbrecht. Vir die besoekers was daar niemand beter as sy woelige skrumskakel, Shylo Cox, nie. Cox het die Jansies se verdediging gereeld omkant betrap met sy dartellopies om die afbreekpunte. Dié het ook twee drieë agter sy naam ingepen.

Puntemakers:

Monument 41 (8) – Drieë: Logan Langeveld, Jaydon Viljoen, Morné Noble, Ruan Genis, Siya Ncube, Blessing Monareng. Doelskoppe: Cameron Kourie (4). Strafdoel: Viljoen. Noordheuwel 15 (3) – Drieë: Ruben Botes, Llewellyn Lourens. Doelskop: Tidi Moeketsane. Strafdoel: Moeketsane.

EG Jansen 32 (10) – Drieë: Jaco Engelbrecht (2), Juan van Aswegen, Joe Diesel, Duwayne Zeekoei. Doelskoppe: Van Aswegen (2). Strafdoel: Van Aswegen. Hoërskool Rustenburg 28 (7) – Drieë: Shyloh Cox (2), Aydon Willemse, Franco de Beer. Doelskoppe: Ricardo Enos (4).

Ander spanne:

o.16: Monument 38, Noordheuwel 17; EG Jansen 22, Rustenburg 21.

o.15: Monument 22, Noordheuwel`5; EG Jansen 27, Rustenburg 22.

0.14: Monument 17, Noordheuwel 17; Rustenburg 35 EG Jansen 12.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.