SuperSport Schools News

Wit Bulle het ‘n appeltjie te skil met Nories, Lourens-tweeling herenig vir stryd met Parkies

By Franco Oberholzer , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-05-08 Tags: , , , , , ,

MORNE NOBLE (met bal), skitterende skrumskakel van Monument, tel sover vanjaar na die eerste ronde wedstryde in die Virseker Noordvaal Cup onder die voorste driedrukkers in die reeks.  FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Die Wit Bulle van Hoërskool Monument het Saterdagmiddag om 12:30 sake om reg te stel wanneer hy en sy Krugersdorp-buurman, Hoërskool Noordheuwel, op sy tuisveld, die Ras van Rooyen, swaarde kruis.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) of kanaal 216.

Die kragmeting is Noordheuwel se eerste in vanjaar se Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

Die Krugersdorp-muntstuk het in 2025 aan die kant van die Nories geland nadat hy met ‘n telling van 43-27 ‘n 24-jaar-derbydroogte oor die Wit Bulle op die “Heuwel” gebreek het.

In dié stryd is daar nie minder nie as vyf drieë tussen twee spelers, wat weer in vanjaar se derby uitdraf, gedeel.

Nories se staatmaker-agtsteman, Armand van Eck, se driekuns aan drieë het die grootste aandeel in die ligbloues se sege in 2025 gehad, terwyl die Wit Bulle se Logan Langeveld, wat tans kookwater-rugby op heelagter speel, twee keer die doellyn oorgesteek het.

Om die derby verder op te vlam, het die Wit Bulle se vertoning teen Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg duidelike gevaartekens met ‘n wegholsege van 85-19 oor die Jansies gestuur.

Boonop is Ruan Genis, die Wit Bulle se gevaarlike linkervleuel, skynbaar onkeerbaar vanjaar en sal hy ook heel moontlik ‘n belangrike sê in die uitslag van die wedstryd hê.

Die Hoërskool Menlopark hoop hy kan sy skoknederlaag van 25-26 teen Hoërskool Middelburg verlede naweek in Middelburg genees. ‘n Sege oor Helpmekaar Kollege aanstaande Saterdag op sy tuisveld in die Jakarandastad sal net die regte medisyne hiervoor wees.

Die Parkies se pad raak geensins makliker nie aangesien hy ná Saterdag vir Waterkloof, Garsfontein en Monument die stryd moet aansê. Dit maak van Saterdag se stryd met die Helpies ‘n belangrike een so vroeg in vanjaar se reeks.

Om sake moeiliker te maak, het die Helpies, wat tans met beserings sukkel, baie goed vertoon teen die verdedigende kampioen op sý tuisveld, Berepark, in sý eerste wedstryd van die kompetisie waarvan hý in 2025 die naaswenner was. Boonop is die besoekers se binnesenter, Ethan Lourens, terug van besering.

Lourens sal aan tweeling broer, Shaye Lourens se buitekant uitdraf nadat Shaye onlangs die verantwoordelikhede as generaal van die agterlyn oorgeneem het.

Die spanne is:

Monument t. Noordheuwel om 12:30 in Krugersdorp:

Monument: 15 Logan Langeveld, 14 Migael Coetzee, 13 Blessing Monareng, 12 Juandré Ehlers, 11 Ruan Genis, 10 Jaydon Viljoen, 9 Morné Noble, 8 Ryno van der Westhuizen, 7 Roché Botha, 6 Siya Ncube, 5 Hanco van Geelen, Matthew van Deventer, 3 Carlo Claase, 2 Jaden Nel, 1 Dexter Chiwanga.

Noordheuwel: 15 Wilcu Roos, 14 Prince Agu, 13 Junior Flemmer, 12 Kieran Reid, 11 Tristan Helmand, 10 Tidi Moeketsane, 9 SW De Waal, 8 Armand van Eck, 7 Kean Lourens, 6 JB Blount, 5 Robert Hurn, 4 Jared Coetzer, 3 Stephan Botha, 2 Miguel Elliot, 1 Ruben Botes.

Menlopark t. Helpmekaar Kollege om 13:30 in Pretoria:

Menlopark: 15 Jody Abrahams, 14 Lucian Reed, 13 Danie Botma, 12 Dylan Stumke, 11 Zander Hamman, 10 Willie Pieterse, 9 Eben Botma, 8 Tiaan Boshoff, 7 Dewald van Wyk, 6 Jannes Eksteen, 5 Dawid van den Heever, 4 Miller de Jager, 3 Reandro Fourie, 2 Dian de Bruin, 1 Justin Toerien.

Helpmekaar Kollege: 15 Xander van Niekerk, 14 Ruben Coetzee, 13 Daniel Kelbrick, 12 Ethan Lourens, 11 Zuan Krige, 10 Shaye Lourens, 9 John van Druten, 8 Ruann Bester, 7 Diandro Botha, 6 Llewelyn Vermaak, 5 MC van Tonder, 4 Dewald du Preez, 3 Karlo Steenkamp, 2 Jeandré van der Merwe, 1 Daylan Ferreira.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.