Welkom Gim en Witteberg skop ligabepalings in sentrale streke af

Die onderskeie rugbyligas in die sentrale streke begin amptelik hierdie naweek na die vakansie.
Welkom Gimnasium verwelkom vir Hoërskool Witteberg Saterdag in wat beloof om ‘n hoogtepunt van die naweek te wees, indien albei spanne hul beste voet voorsit.
Toe hulle verlede jaar mekaar in Bethlehem raakgeloop het was dit die “Swarttruie” wat die oorhand geniet het om vir Witteberg met 41-19 ore aan te sit.
Albei spanne het gemengde welslae tot dusver vanjaar behaal. Die Gimmies het ‘n paar strawwe kragmetings met spanne soos Grey-kollege en Hoërskool Monument agter die rug. By verlede maand se NMI Noord/Suid-toernooi het hulle eers met 36-26 vasgeval teen Hoërskool EG Jansen, voordat hulle vir Hoërskool Nelspruit met 24-20 kon klop. Hulle het die seisoen ook op ‘n hoë begin met ‘n sege van 31-13 oor Hoërskool Jim Fouché.
In 2023 het die manne van Welkom weekliks opwindende spel opgedis, en met ‘n hele paar van daardie groep wat vanjaar weer die swarttrui dra kan ondersteuners nóg sprankelrugby van die span te wagte wees, sodra hulle weer lekker gees en samehorigheid kan bewerkstellig.
Witteberg se seisoen het ook teen JF begin in Bloemfontein, waar die twee spanne gelykop gespeel het met 24-24, en hulle het daardie vertoning opgevolg met ‘n wegholsege van 51-8 oor Hoërskool Sentraal. By die onlangse Mauritz Hansen-rugbyweek kon hulle egter slegs een oorwinning, teen Northcliff High School, tot hul rekord voeg, na harde kragmetings met Ligbron Akademie en Hoërskool Bellville.
Die tuisspan se goue seun, Renaldo Kiewiet, het by Noord/Suid op heelagter begin uitdraf, nadat hy verlede jaar en aan die begin van hierdie seisoen uitgestaan het in die no. 10-trui. Leano Williams neem sy plek op losskakel in en sal, saam met skrumskakel, Rewaldo Farmer, ‘n belangrike rol speel om die giftige Welkom Gim-agterlyn aan die gang te kry.
Die besoekers het egter ook ‘n paar blitsige spelers in hul midde, met senter, Kenyon Morat, en losskakel, Sydwell Sethi, wat kan ore plattrek.
Voorlangs gaan die stryd tussen die losvoorspelers ‘n bepalende faktor wees. Die twee agstemanne, Ethan Jones (Welkom Gim) en Daniel Meintjies (Witteberg), is albei ook seniors in hul onderskeie spanne en wie van hulle ookal sy stempel op die wedstryd kan afdruk, mag dalk die verskil maak hierdie naweek.
Die ander Griffonliga-bepaling vir die naweek speel af in Virginia, waar Hentie Cilliers Hoërskool vir Goudveld-Hoërskool ontvang.
Hoërskool Sentraal skop hul Vrystaatliga-bepalings af teen Landboudal.
Daardie wedstryd is beskikbaar op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Die Tralies beleef weer ‘n moeilike seisoen tot dusver, maar het vroeër vanjaar teen Hoërskool Noord-Kaap gewys dat hulle gevaarlik kan wees wanneer hulle hul spelpatrone behoorlik kan uitvoer. Die manne van Kimberley moes sweet vir ‘n sege van 28-22 .
‘n Sege oor die Lanties is net wat die manne van Bloemfontein nodig het, maar die Jacobsdal-boere is nie ‘n span wat sommer gaan lê nie.
Senterpaar, Pat Cloete en CJ Hertzog, is twee van Sentraal se uitblinkers, maar hul direkte opponente is ook twee van Landboudal se kernspelers, die veteraan, Jan-Louis Nel, en kaptein, Divan Vorster.
Die spanne
Welkom Gimnasium t. Witteberg om 12:30:
Welkom Gimnasium: 15 Renaldo Kiewiet, 14 Hloni Mokotjo, 13 Dyllan Kemp, 12 Jayden Weideman, 11 Bokang Lesenyeho, 10 Leano Williams, 9 Rewaldo Farmer, 8 Ethan Jones, 7 Rylen Kirsten, 6 Rovaun van Niekerk, 5 Jayden Auld, 4 Diederik Beuken, 3 Alexander Olivier, 2 Kganya Molapo, 1 Buchle Ngxaabayi.
Hoërskool Witteberg: 15 Janco Swart, 14 Thabo Motheke, 13 JC van Rhyn, 12 Kenyon Morat, 11 Tshepo Motloung, 10 Sydwell Sethi, 9 Kirsten Fourie, 8 Daniel Meintjies, 7 Lesego Mosikidi, 6 Sakkie Brits, 5 Llewellyn Beukes, 4 Marco Grobler, 3 Rajesh Laubscher, 2 Jacques van der Merwe, 1 Rian Roos.
Hentie Cilliers t. Goudveld om 12:30:
Hoërskool Hentie Cilliers: 15 Joze Draaghoender, 14 Mosa Sesedi, 13 Kelebogile Mothibi, 12 Ashwon Mellen, 11 Xander Wiltshire, 10 Rorisang Mothibi, 9 Katleho Tau, 8 Owen Posholi, 7 Lebohang Lesito, 6 Rearabetswe Olifant, 5 Oyama Frans, 4 Dandre de Lange, 3 Lungile Samson, 2 Josay Sebia, 1 Oratile Pule..
Goudveld-Hoërskool: 15 Ru-Bran Kock, 14 Adriaan Muller, 13 Hendro Boardman, 12 Caleb Lottering, 11 KB Sonopo, 10 Ruben Crous, 9 JM Rensburg, 8 Malan Marx, 7 Thabiso Phafudi, 6 Hannes Fouche, 5 Wehan Mostert, 4 Heinru Carstens, 3 Marko van der Westhuizen, 2 Jan Coetzee, 1 Toka Khooe.
Hoërskool Sentraal t. Landboudal om 13:00:
Sentraal: 15 Jayden Betty, 14 Aiden Gotsch, 13 Pat Cloete, 12 CJ Hertzog, 11 Lee-Yagin Arendse, 10 Hendrik Jonker, 9 Schalk Linde, 8 Chris Kachelhoffer, 7 Janre Jardim, 6 Percy Reynolds, 5 DJ Bredenkamp, 4 Steven Smith, 3 EJ van der Berg, 2 Marnus Earle, 1 Van Zyl Hetzel.
Landboudal: 15 Marius Etzebeth, 14 Simeon de Klerk, 13 Divan Vorster, 12 Jan-Louis Nel, 11 Jannie de Waal, 10 Henko Truter, 9 Craven Crause, 8 Juhan van der Westhuizen, 7 Jaco Venter, 6 Brink Bruwer, 5 Gustav Nel, 4 Franke Fourie, 3 Ruan van Bosch, 2 Regard Scheepers, 1 Wianco Ludike.
Ander bepalings: 13:00 – Brandfort t. Heilbron; 14:55 – Kalahari t. Duineveld.