Waterkloof sal Bere se agterste driehoek moet tem vir sege


Verlede jaar het die telbord op Berepark 53-19 gelees toe die eindfluitjie tussen Hoërskool Garsfontein en die Blou Tornado van Hoërskool Waterkloof geblaas het.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).
Dus het die Klofies sake om Saterdagmiddag om 13:30 reg te stel wanneer sy paaie weer met dié van die Bere in vanjaar se Virseker Noordvaal Cup kruis.
Dit was die Bere van Garsfontein se tweede agtereenvolgende sege oor sy bure in die ooste van Pretoria nadat hy hom in 2025 se Noordvaal Beker-eindstryd op sy tuisveld met 36-30 verslaan het. Die Klofies se laaste sege oor die span in turkoois het egter vroeër in dieselfde jaar gekom toe hy, ook op sy tuisveld, met 47-36 vir die eerste keer in 11 jaar die septer kon swaai.
Die Klofies het nog slegs een keer vanjaar vasgeval teen sy ou vyand, Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria (34-20), en gelykop gespeel teen die Kwaggas van Outeniqua (24-24) by die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in Pretoria vroeër vanjaar. Hulle het hul Beker-veldtog verlede Saterdag in Rustenburg met ‘n 33-10-oorwinning teen Hoërskool Rustenburg op die been gekry.
Die Bere, ook die verdedigende kampioen, het sy veldtog om sy titel vir die derde agtereenvolgende keer in dié reeks se Beker-afdeling te verdedig, met ’n uithaal-en-wys-sege oor Helpmekaar Kollege (49-24) ’n week gelede afgeskop.
Die Bere beleef self ’n indrukwekkende seisoen vanjaar en het nog net twee keer teen Jeppe High School for Boys (29-26) en Paul Roos Gimnasium (21-18) verloor.
Die stryd teen die Helpies het ook weereens beklemtoon hoe gevaarlik die Bere se agterste driehoek kan wees indien hy spasie gegun word. Dit is veral die tweestryd tussen die gesoute Drewyn Baron (Garsfontein) en die Klofies se jongeling, Alexander Griesel, op heelagter, waarna uitgesien kan word.
Dit sal egter die tuisspan se hoogste prioriteit wees om Baron en sy kollegas, Yuvrah George (regtervleuel) en Neil de Kock (linkervleuel), te smoor. Voorlangs sal Hugo Dercksen, die Klofies se oopkantflank, en Stefan “Kwagga” van der Vyver, aan die kant van die Bere se skrum, ’n behoorlike armdruk in die vastelos afgee.
In Boksburg verwelkom die gewonde Arende van Hoërskool Dr. EG Jansen vir Hoërskool Rustenburg. Die Rusties het baie goed vertoon vir die meerderheid van die stryd teen Waterkloof ’n week gelede, terwyl die Jansies klippe moes kou in sy 85-29 nederlaag teen die Wit Bulle van Hoërskool Monument.
Rusties se haker, Dandré Graham, was ’n uitblinker teen die Klofies en daar kan weereens ’n groot vertoning in Boksburg van hom verwag word. Die Jansies se Juan van Aswegen was ’n staatmaker vanaf die bank teen die Wit Bulle. Van Aswegen het ’n onmiddellike verskil gemaak.
Die spanne is:
Waterkloof t. Garsfontein om 13:30 in Pretoria:
Waterkloof: 15 Alexander Griesel, 14 Mieder Erasmus, 13 Meyer Pretorius, 12 Ben Steyn, 11 Jacques Janse van Vuuren, 10 Liam Schutte, 9 Marcel Tsiakos, 8 Almero Gerritsen, 7 Stefan Pieterse, 6 Hugo Dercksen, 5 Marius Venter, 4 JJ Brits, 3 Reinhard Duvenhage, 2 Stiaan Theron, 1 Wian Hetzel.
Garsfontein: 15 Drewyn Baron, 14 Yuvrah Goerge, 13 Levi Jordaan, 12 Keegan Knighton, 11 Neil de Kock, 10 Joshua Gouws, 9 Dean Wilbers, 8 Lourenz de Jager, 7 Derik Potgieter, 6 Stefan van der Vyver, 5 SW Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Ruben Lombard, 2 Justin Blom, 1 André van Wyk.
EG Jansen t. Hoërskool Rustenburg om 12:25 in Boksburg:
EG Jansen: 15 JJ van Rensburg, 14 Werner Breydenbach, 13 Duwayne Zeekoei, 12 Dian Botha, 11 Conor Louw, 10 Juan van Aswegen, 9 Joe Diesel, 8 Rudolph du Preez, 7 Jaco Engelbrecht, 6 Juan Harris, 5 Ivan Botha, 4 Ewan Pretorius, 3 Taden Bisschoff, 2 Reuben Freitag, 1 Marlo van der Merwe.
Hoërskool Rustenburg: 15 Dian Huissamen, 14 Lerato Matlaisane, 13 Zak Swanepoel, 12 Aydan Willemse, 11 Junaid Stevens, 10 Ricardo Enos, 9 Shayloh Cox, 8 Ruben van Heerden, 7 Pieta Niemand, 6 MJ Otto, 5 Thian Labushagne, 4 Evan van Heerden, 3 Nathan Volschenk, 2 Dandré Graham, 1 Xander Stickling.




