SuperSport Schools Plus

Vurige stryd wag tussen JF en Fichies in Wesgrow-liga

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-04-14 Tags: , , , ,

FOTO: Marnus Prinsloo

Jim Fouché onthaal hul buurskool in die Rosestad, Fichardtpark, vir wat beloof om ‘n vurige stryd tussen die twee Bloemfonteinse spanne te wees vir hierdie Wesgrow-bepaling.

Die wedstryd word Saterdag, 13:10 regstreeks op SuperSport Schools uitgesaai.      

Albei skole beleef tot dusver baie sterk seisoene, en hierdie wedstryd sal ‘n saak van groot trots vir skoliere en oud-skoliere wees.

Fichardtpark het sy seisoen sterk begin met ‘n oorwinning oor Wesvalia (17-5), wat hy opgevolg het met ‘n geskiedkundige sege toe hy vir die eerste keer ooit vir Diamantveld (33-27) oorwin het, tydens die jaarlikse Fichardtpark Sportdag.

Daarna het hulle gelykop gespeel teen Trio van Kroonstad (17-elk), voordat hulle twee groot seges op hul toer na Benoni oor Hans Moore (40-0) en Brandwag van Benoni (50-0) behaal het.

Die Fichie Leeus kon toe hul onoorwonne status behou teen Pietersburg by die Fichardtpark Rugbyweek, toe hulle vir die tweede maal die seisoen sussies gesoen het en die wedstryd 31-elk geeindig het.

JF het hul eerste nederlaag van die jaar ontvang by die Oakdale Rugbyweek, toe hulle 31-24 teen Kemptonpark verloor het. 

Voor dit het hulle egter baie goed gevaar, en al reeds die seisoen indrukwekkende seges teen Voortrekker van Bethlehem (36-24), en Goudveld-Hoërskool  (24-21) behaal.

Stefan Venter (flank) speel nog heel jaar ‘n kern-rol vir Jim Fouché.

Nie net het hy vir die meerderheid van die seisoen so ver die verantwoordelikheid van kapteinskap oorgeneem in die beseerde Phillip Noëth se afwesigheid nie, maar hy lei ook die aanslag met die bal in sy hand en het al groot moeilikheid vir ‘n paar spanne se verdedigingslyne veroorsaak.

Venter wissel nog heel seisoen tussen haker en flank, hy speel Saterdag weer in die nommer ses trui, maar sal waarskynlik steeds die bal by die lynstane invoer vir sy span.

Devante Claassen, die Fichie-skrumskakel, staan uit tussen ‘n goed afgeronde agterlyn. 

Sy besluitneming is tot dusver foutloos, en sy spoed en krag laat hom gereeld toe om self die bal vorentoe te dra waneer hy nie van sy opsies hou nie. 

Hy is, saam met Dailen Geldenhuys (losskakel), Edward Mpinga (vleuel) en Janco Mollentze (vleuel) ‘n Fichardtpark speler om dop te hou Saterdag. Die Fichie-slot Jaco Grobbelaar sal ook met ‘n stewige vertoning sy posisie vir ‘n plek in die Vrystaatse Cravenweek wil versterk.

Hentie Cilliers van Virginia reis na Welkom om ‘n witwarm Welkom Gimnasium aan te pak.

Welkom het ‘n gemengde seisoen tot hede, maar selfs in die wedstryde wat hulle verloor het was daar geen twyfel oor hul talent nie.

Hulle het al groot oorwinnings teen Monument (31-26), Helpmekaar-kollege (25-16) en St John’s College van Johannesburg (28-12) geniet, en in hul nederlae teen Grey College (21-71) en Boland Landbou (15-50) het hulle hulself steeds goed oorgedra.

Vir Hentie Cilliers sal hierdie wedstryd die grootste toets van hul seisoen tot dusver wees.

Die Virginia manne gaan moet sterk staan om spelers soos Naven Goeda (vleuel), Naylen Goeda (heelagter) en Renaldo Kiewiet (losskakel) in toom te hou, veral voor hul tuisskare.

Die wedstryd skop Saterdag om 12:30 af.

Die spanne is: 

Jim Fouché vs Fichardtpark om 13:10:

Jim Fouché: 15 Christian Strydom, 14 Altus du Plessis, 13 Heinrich Hattingh, 12 Dalen Watkins, 11 Dillon Calitz, 10 Hanko Botha, 9 Triston van der Walt, 8 Stephan van Rooyen, 7 CJ Raath, 6 Stefan Venter, 5 SW van der Merwe, 4 Calvin Bolt, 3 Stean Marais, 2 Ian Nel, 1 Bernard Labuschagne.

Fichardtpark: 15 Martin Kalp, 14 Edward Mpinga, 13 Duan Viviers, 12 Dandré van der Merwe, 11 Janco Mollentze, 10 Dailen Geldenhuys, 9 Devante Claassen, 8 Jaco Janse van Rensburg, 7 Wian Pienaar, 6 Jan-Nel du Plessis, 5 Nathan Dodd, 4 Jaco Grobbelaar, 3 Nathan Swanepoel, 2 MJ Hattingh, 1 Luhan du Plessis.

Welkom Gimnasium vs Hentie Cilliers om 12:30 in Welkom: 

Welkom Gimnasium: 15 Naylen Goeda, 14 Naven Goeda, 13 Taschon Meas, 12 Jayden Weideman, 11 Khamohelo Mokoena, 10 Renaldo Kiewiet, 9 Julian Samuels. 8 Ethan Jones, 7 Rylen Kirsten, 6 Revoun van Niekerk, 5 Jayden Auld, 4 Tristan Appollis, 3 Keanan August, 2 Dante Smith, 1 Buchle Ngxabayi.

Hentie Cilliers: 15 Andisile Mentz, 14 Tshireleletso Porota, 13 Itumeleng Kogo, 12 Bongi Ngidi, 11 Ashwon Mellen, 10 Paseka Mokoena, 9 Meguel Davids, 8 Valter Veale, 7 Samson Nthantumbo, 5 Anzani Mokhotu, 4 Gift Gubai, 3 Lungile Samson, 2 Jose Sebia, 1 Lerato Mabona.

Ander kragmetings (tuisspanne eerste vermeld):

13:30 – Voortrekker (Bethlehem) vs Hoërskool Trio; 13:30 – Goudveld-Hoërskool vs Witteberg.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.