SuperSport Schools Plus

Voorskou – Helpmekaar vs. Affies

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-03-17

NewsG MarnusPotgieterDie eerste rugbyspan van die Afrikaanse Hoer Seunskool van Pretoria sal Saterdag met meer senuwees as gewoontlik op dis bus klim Johannesburg toe as wat gewoontlik die geval is wanneer hulle na die Goudstad reis vir ‘n wedstryd. Affies kom Saterdag in Johannesburg teen Helpmekaar-kollege in hul jaarlikse interskole te staan. 

Al die wedstryde op die A-veld van die o.14-span wat 08:00 afskop tot en met die eerstespan se wedstryd wat om 12:15 begin sal regstreeks op Fanstream.co.za gebeeldsend word. 

Die bekende rugbykommentator, Ockert van Schalkwyk, sal saam met School of Rugby se Hannes Nienaber die hoofwedstryd uitsaai. 

Helpmekaar se jaargroep het op o.16- en o.15-vlak met Affies afgereken. Boonop het die groep van Helpies nog nie sedert o.14 ‘n nederlaag op hul tuisveld gely nie. Die groep was nog net drie keer aan die verloorkant sedert o.14 waarvan een van die nederlae teen Affies was. 

Helpmekaar moet sonder hulle invloedryke kaptein en flank, Mark Snyman, klaarkom. Die gesegde lui dat een swaeltjie nie ‘n somer maak nie, maar Snyman se invloed as leier in Helpmekaar se span kan nie gering geskat word nie. Die losskakel, Tristan Oosthuizen, sal Saterdag die span op die veld lei. Snyman woon SA Rugby se o.18-oefenkamp in Wellington by. 

Affies het self twee spelers wat aan die oefenkamp deelneem en nie in aksie sal wees nie. Die senter Marnus Potgieter en flank Jaco Labuschagne sal gewis ook ‘n leemte in die span van Pretoria se geledere laat. Potgieter het in sy span se eerste wedstryd van die seisoen teen Diamantveld (45-10) ‘n driekuns aan driee behaal. 

Oosthuizen sal in die tweestryd van die dag met Affies se losskakel, Charles Goedhals, gewikkel wees. Die twee ken mekaar se spel goed en het mekaar al verskeie kere sedert o.9-vlak die stryd aangese. Oosthuizen se adjudant sal die haker, Dameon Venter, wees. Snyman se plek langs die kant van die skrum sal deur Liam van den Bergh ingeneem word. Van den Bergh was verlede jaar al een van Helpies se staatmakers.

‘n Speler vir wie Affies nie veel ruimte sal wil gee nie is die tuisspan se heelagter, David Cary. Hoe hy nie ook genooi is vir die oefenkamp in Wellington sal niemand weet nie. Hy was verlede jaar as vleuel een van die Goue Leeus se gevaarlikste spelers op die aanval op die Coca-Cola Cravenweek in Durban.

Affies se agttal met sy agtsteman, Philip Potgieter, aan die spits sal die sleutel tot sukses vir die span wees. Potgieter het met sy stormram-lopies verlede week in Kimberley die harde manne van Diamantveld hoofbrekens besorg. Agterlangs sal Goedhals en sy skakelmaat en kaptein, Johan Mulder, ‘n taktiese akkurate wedstryd moet speel.  

Affies se linkervleuel, Ruben Meiring, is die seun van die voormalige Springbok-agterspeler FA Meiring, terwyl die vaskopstut, Wiehan Bezuidenhout, die seun van nog ‘n oud-Bok Christo Bezuidenhout is. 

Die spanne is: 

Helpmekaar-kollege: 15 David Cary, 14 Tommy van Tonder, 13 Jeremy Randall, 12 Francois Janse van Vuuren, 11 Zack Boonzaaier, 10 Tristan Oosthuizen, 9 Ruhan Viviers, 8 Lehan du Toit, 7 Liam van den Bergh, 6 Ben Clarke, 5 Michael Amiras, 4 JC Kruger, 3 Quintusz Geyser, 2 Dameon Venter, 1 Ignis Meyer. 

Affies: 15 Regardt Roets, 14 Sean Thungo, 13 Juandré du Piesanie, 12 Zach Briel, 11 Ruben Meiring, 10 Charles Goedhals, 9 Johan Mulder, 8 Philip Potgieter, 7 Reinhardt Ras, 6 Divhan du Preez, 5 Carl Els, 4 Michael de Waal, 3 Wiehan Bezuidenhout, 2 Janco Uys, 1 Dewald Donald. 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.