Volkies vier fees in Piet Retief
Potchefstroom Volkskool se sege in Piet Retief het die Potchefstromers weer in ‘n stewige posisie geplaas wat die wedloop in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling betref.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschool.com)
Potchefstroom Volkskool het die tuisspan, Hoërskool Piet Retief, redelik maklik met 27-10 op die Jack Botes-stadion verslaan.
Daarmee het die Volkies hul kanse om ‘n plek in die uitspeelrondes los te slaan ‘n beduidende hupstoot gegee.
Agsteman en kaptein, Dewald Groenewald, het van voor gelei in ‘n kragtige vertoning deur die besoekers se voorspelers. Hy het die Volkies deurgaans met sterk en begeesterde lopies op die voorvoet geplaas en die grondslag help lê vir die agterlyn, en vernaam die senterpaar, om hul stempel af te druk.
Christoff Nel se skuif van steelkantflank na binnesenter het duidelik vrugte afgewerp, met sy fisieke benadering wat die tuisspan se middeveld onkant betrap het. Nel het ook die nodige spasie vir sy sentermaat, Hennie Pretorius, geskep om die span van Piet Retief met venynige aanvalslyne te looi.
Piet Retief se agsteman, Christiaan Pienaar, het moedig probeer om sy span in die wedloop te hou. Pienaar, tot dusver hierdie seisoen een van sy span se staatmakers op die aanval, het na hoogste versnelling oorgeskakel en was verantwoordelik vir die Pieties se enigste twee drieë.
Hoërskool Dr. Malan het tuisveldvoordeel uitstekend benut om vir Hoërskool Alberton met 20-7 ore aan te sit in Meyerton. Die voorspelers het hier ook ‘n reuse aandeel in die Dokkies se sege gehad het, met loskopstut, Devan Fouche, en steelkantflank, Anthony Botes, wat uitgetroon het op onderskeidelik die aanval en verdediging.
Die besoekers se losskakel, Dewald de Jager, het sy rol as generaal goed vertolk en moedig probeer om sy agterlyn aan die gang te kry met die hoop dat dit sy span terug in die wedloop kon kry.
Hoërskool Randburg het die Bulkraal in Tzaneen op horings geneem deur vir Merensky Landbou Akademie se Brahmane met 43-31 te troef.
Heelagter, Francois Groenewald, het die tuisspan se verdediging geteister met sy gevaarlike teenaanvalle en sy vermoë om effektief by die agterlyn aansluiting te vind het Randburg telkens oor die voordeellyn gekry het. Hy was ook verantwoordelik vir twee van sy span se sewe drieë.
Dit en oënskynlike tekortkominge in die Plasies se verdediging het beteken dat die besoekers aan die stuur van sake was teen halftyd.
Die tuisspan het egter in die tweede 35 minute ietwat beter op die aanval vertoon met losskakel, Byron Hendricks, wat beter geleenthede vir sy agterlyn geskep het. Dit het vir buitesenter, Ulrich Mare, in staat gestel om vir die tweede agtereenvolgende week ‘n tweekuns te behaal.
Dit was egter nie genoeg om die besoekers van Randburg se meedoënlose aanvalsgolf af te weer nie. Die fisieke stryd tussen die twee pakke het sy tol begin eis, die gapings het groter geraak en die Randburgers het dit behoorlik uitgebuit.
Hoërskool Eldoraigne het vir Hoërskool Wagpos ‘n reuse rugby les geleer. Die Drake het straks hul beste vertoning van 2024 opgedis om Wagpos ‘n loesing van 88-13 toe te dien.
Dit was grotendeels te danke aan nog ‘n uitmuntende vertoning deur skrumskakel, Darren Bruwer. Bruwer het verseker dat sy span struktuur behou toe die sluise oopgemaak het, terwyl heelagter, Divan-Michael van Rooyen, uiteindelik die kollig gesteel het.
Van Rooyen was haas onkeerbaar en het self ook agter die doellyn ‘n draai gaan maak. Boonop het hy, na skerpskutter, JP Meyer, die veld moes verlaat, met ses doelskoppe geslaag om sy persoonlike bydrae op 17 punte te staan te bring.
Puntemakers:
Potchefstroom Volkskool 27 (5) – Drieë: Dewald Groenewald (2), Christoff Nel, Hennie Pretorius. Doelskoppe: Johandre Maree (2). Strafdoel: Maree. Hoërskool Piet Retief 10 (5) – Drieë: Christiaan Pienaar (2).
Dr. Malan 20 (10) – Drieë: Andreas Botha, Enrico van Zyl. Doelskoppe: Luka Pretorius (2). Strafdoele: Pretorius (2). Hoërskool Alberton 7 (0) – Drie: Sipho Sibonye. Doelskop: Jayden Mostert.
Hoërskool Randburg 43 (26) – Drieë: Francois Groenewald (2), Malan van Heerden, Reuben Botha, Curwin Hill, Shandre Vermaak, Henré Breedt. Doelskoppe: Quitin Fillies (4). Merensky 31 (14) – Drieë: Ulrich Mare (2), Corne Swanepoel, Andreas Honniball, Craig Walker. Doelskoppe: Byron Hendricks (3).
Eldoraigne 88 (29) – Driee: Justin Meintjies (2), Hendru van Zyl (2), Wihan White, Marnes Prinsloo, Rikus Rheeder, Cameron Killian, Darren Bruwer, Kevin Earle, Ivan Vermeulen, Divan Michael van Rooyen, Evan Fivas, Juan Gerhard. Doelskoppe: Divan Michael (6), JP Meyer, Darren Bruwer, Ivan Vermeulen. Wagpos 13 (10).
Ander spanne:
o.16: Potchefstroom Volkies 22, Hoërskool Piet Retief 5; Hoërskool Alberton 59, Dr. Malan 5; Hoërskool Randburg 29, Merensky 19; Wagpos 58, Eldoraigne 22.
o.15: Hoërskool Piet Retief 38, Potchefstroom Volkies 18; Dr. Malan 41, Hoërskool Alberton 19; Merensky 57, Hoërskool Randburg 0; Wagpos 17, Eldoraigne 10.
o.14: Hoërskool Piet Retief 27, Potchefstroom Volkies 7; Dr. Malan 54, Hoërskool Alberton 0; Hoërskool Randburg 34, Merensky 0; Eldoraigne 17, Wagpos 3.