SuperSport Schools Plus

Volkies stuit Brahmane in Potch


POTCHEFSTROOM – Potchefstroom Volkskool het daarin geslaag om Merensky in hul spore te stuit.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

Die Potchefstromers het vergoed vir hul nederlaag teen Potchefstroom Gimnasium verlede week, met ‘n naelskraapse oorwinning van 24-22 oor een van die gunstelinge in SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling, Merensky Landbou Akademie.

Volkies se sege het nié alleen hul kanse om die afdeling se uitspeelrondes te haal lewendig gehou nie, maar ook die res van die wedloop in die Bowl-afdeling wawyd oopgeblaas.

Die Potchefstromers het hul tuisvoordeel ten volle benut om te kapitaliseer daarop dat die Brahmane van Tzaneen vir die tweede agtereenvolgende week ver moes reis.

Volkies se beweeglike pak, met die lostrio bestaande uit Dewald Groenewald, Christoff Nel en Henre Nel, aan die spits, het gewoeker in die los én vastelos.

Christoff Nel, wat reeds sy hand die week vantevore teen die Gimmies opgesteek het, was nogmaals uitstaande. Sy hoë werkverrigting en energieke lopies met die bal het sy span deurgaans op die voorvoet geplaas en ook aan hom ‘n tweekuns besorg.

Losskakel, Johandré Maree, se korrelwerk pale toe was uit die boonste rakke. Maree het ál drie sy span se drieë verdoel en ook met ‘n strafdoel geslaag.

Sy Merensky-eweknie, Byron Hendricks, het egter gewys hoekom die Limpopo Blou Bulle-keurders weer hul vertroue in hom gestel het as losskakel van die Cravenweekspan. Hendricks se vermoë om spel te lees en dikteer laat dit altyd lyk asof hy oor hope tyd op die bal beskik.

Dit stel ook sy vlugvoetige binnesenter, Maritz Meintjies, in staat om bal op die voorvoet te ontvang, en die Volkies moes dikwels bontstaan wanneer Meintjies op loop gesit het.

In Centurion het Hoërskool Eldoraigne se Drake daarin geslaag om hul derde sege vanjaar te behaal. Die Drake moes nietemin hard spook teen ‘n begeesterde Hoërskool Randburg om met telling van 23-17 as oorwinnaars uit die stryd te tree.

Die besoekers se pak was uiters fisiek, en het die Eldos se pak onder taamlike druk geplaas in die eerste helfte. Met ‘n rustydagterstand van 9-14 wat hulle in die gesig gestaar het, het die tuisspan se skakelpaar, bestaande uit JP Meyer en Darren Bruwer, besluit om die besoekers met taktiese skopwerk te laat omdraai en in hul gebied vas te pen.

Oopkantflank, Cameron Killian, het ook meer prominent in die vastelos begin vertoon en dikwels, soos ‘n wafferse Heinrich Brüssow van ouds, omgekeerde balbesit begin bewerkstellig om die momentum in die Drake se guns te help swaai.

Potchefstroom Gimnasium het na nóg ‘n dominante vertoning koning gekraai teen Hoërskool Piet Retief in Potchefstroom.

Die tuisspan het van meet af die toon aangegee voorlangs, wat aan die agterlyn meer as genoeg geleenthede gegee het om die bal lug te gee. Gimmies se Cravenweek-vleuel, David Ndlala, het die situasie, en spasie, uitgebuit om twee keer agter die besoekers se doellyn te gaan kuier.

Hoërskool Dr. Malan het na ‘n rotsvaste vertoning op verdediging daarin geslaag om die besoekers van Brits, Hoërskool Wagpos, met 19-0 te verslaan.

Puntemakers: 

Potchefstroom Volkskool 24 (10) – Drieë: Christoff Nel (2), Juhan Geldenhuys. Doelskoppe: Johandré Maree (3). Strafdoel: Maree. Merensky 22 (8) – Drieë: Ethan Maritz, Heinrich Lubbe, Maritz Meintjies. Doelskoppe: Byron Hendricks (2). Strafdoel: Hendricks.

Eldoraigne 23 (9) – Drieë: Darren Bruwer, Tristan Lee. Doelskoppe: JP Meyer (2). Strafdoele: Meyer (3). Randburg 17 (14) – Drieë: Herman Goosen, Duncan Beavan. Doelskoppe: Hendri Oosthuizen (2). Strafdoel: Oosthuizen.

Potchefstroom Gimnasium 41 (17) – Drieë: David Ndlala (2), Elrich Bosch, Jaco Nel, Toks Gerber, Jhanco de Beer, Louerens Jacobs. Doelskoppe: Jhanco de Beer (3). Piet Retief 24 (3) – Drieë: Siphosethu Sibisi, Vuyani Tshabalala, Langelihle Ntuli. Doelskoppe: Owethu Tshabalala (3). Strafdoel: Tshabalala.

Dr. Malan 19 – Drieë: Willem Taylor, Luka Pretorius, Anthony Botes. Doelskoppe: Luka Pretorius (2). Wagpos 0.

Ander spanne: 

o.16: Potchefstroom Volkskool 32, Merensky 18; Randburg 36, Eldoraigne 12; Potchefstroom Gimnasium 33, Piet Retief 19; Wagpos 52, Dr. Malan 7.

o.15: Merensky 15, Potchefstroom Volkskool 8; Eldoraigne 26, Randburg 0; Piet Retief 55, Potchefstroom Gimnasium 5; Dr. Malan 14, Wagpos 3.

o.14: Potchefstroom Volkskool 20, Merensky 12; Eldoraigne 8, Randburg 5; Piet Retief 21, Potchefstroom Gimnasium 14; Dr. Malan 17, Wagpos 5.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.