SuperSport Schools Plus

Volkies-sege skommel Bowl deurmekaar, Alberton skok Pieties


Potchefstroom Volkskool kan tereg nóú sy visier op ‘n plek in die uitspeelrondes van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling rig.

Herleef al die aksie op SuperSportSchools(www.supersportschools.com)

Die Volkies se sege van 28-13 oor Hoërskool Randburg Saterdag het hul kanse om die Bowl-afdeling se uitspeelrondes te haal ‘n broodnodige hupstoot gegee. Met slegs twee rondes van rondomtalie-wedstryde oor is die Volkies tans slegs een punt agter die Randburgers op die puntelys.

Die span van Potchefstroom het weereens ‘n uitmuntende vertoning gelewer en sake agterlangs oorheers, danksy hul staatmaker, Christoff Nel, wat op binnesenter nuwe lewe in die middeveld geblaas het. Nel se kombinasie met buitesenter, Hennie Pretorius, wat net betyds van ‘n besering teen Hoërskool Piet Retief herstel het, gaan weekliks van krag tot krag en hulle het deurgaans daarin geslaag om die besoekers op die voorvoet te plaas met hul kragtige spel in die middeveld.

Voorlangs het die ander Nel, oopkantflank, Henre Nel, en haker, Louis Fourie, wat waarskynlik sy beste wedstryd van die seisoen beleef het, se gewoeker in die vastelos ook die lewe vir Randburg moeilik gemaak.

Die Randburgers het gesukkel om die ritme te herwin wat hulle oor die vorige twee weke geniet het, met ongedwonge foute wat hul Achillieshiel was en hulle telkens verhoed het om af te rond. Oopkantflank, Herman Goosen, een van sy span se harde werkers, het  moedig probeer maar ‘n verlore stryd teen die Volkies gevoer.

In Alberton het Hoërskool Alberton vir die besoekers van Mpumalanga, Hoërskool Piet Retief, ietwat verras deur met 22-19 koning te kraai.

Die tuisspan se agterlyn was uitstekend op die aanval en het floreer met heelwat spasie wat aan hulle gebied is.

Heelagter, Jaydon Mostert, was een van dié spelers wat die verdediging geroer het, maar uiteindelik het binnesenter, Ewald Muller, die kollig gesteel. Muller, ‘n groot en fisieke baldraer, het telkens gapings oopgeforseer met verwoestende lopies, vernaam in die eerste helfte, en het oor die doellyn gebars vir ‘n deurslaggewende tweekuns.

Die besoekers se indrukwekkende buitesenter, Siphosetu Sibisi, het sy bes probeer om die Pieties in die kragmeting te hou en met uitstekende vaartversnelling en ratse voetwerk, nes Muller, twee keer agter die doellyn gaan draai.

Alberton se verdediging was op die einde van die dag nét goed genoeg om te kon vasklou vir waardevolle oorwinning.

Merensky Landbou Akademie is na ‘n rits moeilike kragmetings terug op die wenpad. Die Tzaneeners het al die pad na Meyerton gereis om vir Hoërskool Dr. Malan, in sy agterplaas, met 40-31 te klop.

Die besoekers se JD Boshoff, vir die tweede agtereenvolgende week sy span se beste speler en eintlik ‘n skrumskakel, moes die laaste ruk noodgedwonge buitesenter speel, maar het hom uitstekend van sy taak gekwyt en die Dokkies se flaters op verdediging gelooi.

Dokkies se Luka Pretorius het nietemin amok onder die besoekers se verdedigers gesaai met sy kenmerkende dartellopies om ‘n indrukwekkende driekuns te behaal.

Potchefstroom Gimnasium het geen twyfel gelaat dat hy die reeks se voorste span is nie deur vir Hoërskool Wagpos met 80-7 af te ransel. Dit is Wagpos se tweede agtereenvolgende nederlaag met 80 punte.

Die Gimmies het baljaar in hope spasie om 14 drieë in te ryg, met nie minder nie as vier spelers wat elk ‘n tweekuns aangeteken het. Jaco Nel, die Gimmies se haker, het sy puik seisoen voortgesit en was een van dié wat twee keer agter die doellyn gaan kuier het.

Die Gimmies se fokus verskuif nou na Hoërskool Eldoraigne se Drake. Die Drake het stil-stil hul pad na tweede op die puntelys oopgebeur, wat beteken dat eerskomende Saterdag ‘n stryd tussen die top-twee in die groep sal afgee.

Puntemakers:

Potchefstroom Volkskool 28 (6) – Drieë: Louis Fourie, Lourenzo Louw, Christoff Nel, Wickus van Aswegen. Doelskoppe: Johandre Maree. Hoërskool Randburg 13 (0) – Drie: Herman Goosen. Doelskop: Quitin Fillies. Strafdoel: Fillies.

Hoërskool Alberton 22 (15) – Drieë: Ewald Muller (2), Jaydon Moster, Sinclair Davis. Doelskop: Mostert. Hoërskool Piet Retief 19 (7) – Drieë: Siphosetu Sibisi (2), Sfundo Mayisa. Doelskoppe: Olwethu Shabalala (2).

Merensky 40 (14) – Drieë: Ethan Maritz, JJ Goosen, Byron Hendricks, Hardus Terblanche, Mukhtwa Masundwa, Tirelo Mashapa. Doelskoppe: JD Boshoff (5). Dr Malan 31 (17) – Drieë: Luka Pretorius (3), Bernard Benson. Doelskoppe: Pretorius (2), Dian van den Berg (2).

Potchefstroom Gimnasium 80 (28) – Drieë: Jaco Nel (2), Dian Smith (2), Tiardt Vorster (2), Lourens Jacobs (2), David Ndala, Tobias van Dyk, Elrich Bosch, Oarabile Koena. Doelskoppe: David Ndala (5), Jandre Oosthuizen (4), Dian Smith. Wagpos 7 (0).

Ander spanne: 

o.16: Potch Gimmies 17, Wagpos 13; Randburg 26, Potch Volkies 26; Alberton 14, Piet Retief 12; Merensky 28, Dr. Malan 17.

o.15: Wagpos 33, Potch Gimmies 3; Potch Volkies 22, Randburg 19; Piet Retief 70, Alberton 3; Merensky 35, Dr. Malan 10.

o.14: Potch Volkies 13, Randburg 7; Piet Retief 65, Alberton 0; Dr. Malan 38, Merensky 5.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.