SuperSport Schools Plus

Uppies seëvier naelskraaps teen Diamonds

By Felicia Erasmus , in Netball | News , at 2024-04-06 Tags: ,

Kayla du Plessis, Liebe Karsten, Lané Esterhuizen, Anria Oberholzer, Jenique Matthys, Raquel Raman, Cara Fourie, Lida Louw, Mari-Alet van Zyl en Amé Kotzé.

Hoërskool Upington se eerste netbalspan het Saterdag, in ‘n titaniese kragmeting in Kimberley, ‘n welverdiende oorwinning van 37-32 oor die tuisspan, Hoërskool Diamantveld, behaal.

Uppies het vanuit die staanspoor die krane oopgedraai om blitsig ‘n voorsprong van 14-9 in die eerste kwart op te bou.

Diamonds was egter nie van voorneme om te gaan lê nie en het in die tweede kwart uitstekend teruggeveg.

Hoewel Uppies ‘n verdere agt doele aangeteken het, het Diamonds hulle doel-vir-doel die stryd aangesê om self nege doele te behaal.

Teen die tyd wat die rustydfluitjie geblaas het, het Uppies aan ‘n skrale voorsprong van 22-18 geklou, wat die weg gebaan het vir ‘n riller van ‘n stryd in die oorblywende kwarte.

Namate die wedstryd gevorder het, het die spanning toegeneem, met albei spanne wat alles in die stryd gewerp het.

Ten spyte van Diamonds se voortdurende pogings om die gaping verder te laat krimp, het Uppies egter daarin geslaag om hul voorsprong effens te vergroot en die vierde kwart met ‘n telling van 30-24 tegemoet te gaan.

Gedurende die laaste kwart het Diamonds verbete aanhou veg vir ‘n oorwinning, maar Uppies het met ‘n eindtelling van 37-32 die knoop deurgehak.

Onder hul uitblinkers was die hoofdoel, Lané Esterhuizen, en hulpdoel, Anria Oberholzer, met ‘n merkwaardige doelgemiddeld van 80%.

Boonop was die bydraes van die senter, Liebe Karsten, en verdediger, Lida Louw, instrumenteel om oorwinning vir die Uppies te kon verseker.

Felicia Erasmus
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.