Tutu, Mafata skitter vir Stellies teen Durbies
Tydens die naweek se Superliga-byeenkoms by Hoërskool Stellenberg, het die gasheer vir die tweede keer vanjaar oorwinning oor Hoërskool Durbanville gesmaak.
Met dié naelbytsege van 39-34, het Stellies nou in twee uit hul drie kragmetings met Durbies vanjaar as oorwinnaars uit die stryd getree.
In die eerste kwart het Durbanville ‘n skrale voorsprong van 10-9 geniet, maar Stellenberg het nie op hulle laat wag nie en teen rustyd met 22-16 die voortou geneem.
Durbanville het nietemin geweier om te gaan lê en ‘n veerkragtige terugkeer gemaak in die derde kwart om hul agterstand na slegs 27-29 te laat krimp.
In ‘n titaniese laaste kwart het die spanne alles uitgehaal, met Stellenberg wat uiteindelik met vyf doele kon triomfeer. Die doelskieter, Sibabalwe Tutu, en Owami Mafata (aanvallende vleuel) het uitgeblink vir Stellies.
Die meisies van Stellenberg het hul 2024-netbalseisoen op ‘n wennoot afgeskop toe hulle in Februarie met die louere by die Wes-Kaap se Distrik-netballiga weggestap het.
Dit was waar Stellenberg en Durbanville die eerste twee keer slaags geraak het. In die eerste ontmoeting, tydens die uitspeelrondes, het Durbies ‘n oorwinning van 30-25 behaal, maar in ‘n opwindende herontmoeting, tydens die eindstryd, het Stellies die titel beklink met ‘n telling van 34-27.
Die twee spanne sê mekaar later vanjaar weer die stryd aan, tydens die interskole-byeenkoms in Augustus.