Trane van trots na Transvalia se laaste tuis-triomf
Die laaste ronde wedstryde in die gewone fase van Sedibeng-liga het weer uitsonderlike spel en indrukwekkende oorwinnings opgelewer, maar óók diep emosie – vernaam vir ‘n aantal Transvalia-spelers wat hul laaste wedstryd op tuisbodem gespeel het.
Hoërskool Transvalia het die dag oorheers met ’n wegholsege van 52-8 oor Vereeniging Gimnasium. Dié wedstryd het egter ’n dieper betekenis ingehou as bloot die telling.
Vir heelparty van Valia se senior spelers was dit hul laaste tuiswedstryd – en die emosies was tasbaar. Met elke gooi, elke doel en elke eindfluit, het die werklikheid begin insink: dit was die einde van ’n era op hul geliefde tuisbaan. Trane het gevloei, drukkies is uitgedeel en daar is opnuut besef hoekom netbal soveel meer is as bloot ’n sport.
Heidelberg Volkskool het kragte gemeet met Hoërskool Dr. Malan in ’n opwindende wedstryd waar Volkies se dinamiese spel en samewerking hulle na ’n stewige oorwinning van 37-17 geneem het. Die span se akkurate aanval en rotsvaste verdediging, met talle onderskeppings, het Dr. Malan van vroeg af onder druk geplaas.
In die derde wedstryd van die week het Hoërskool Driehoek ook oortuigend met 34-12 teen Overvaal Hoërskool geseëvier. Driehoek het van meet af aan met doelgerigte spel hul gehalte tentoongestel en aangedui dat hulle beslis nie ligtelik opgeneem kan word in die Sedibeng-liga nie.
Namate die son gesak het op die laaste ligawedstryde van die seisoen, was dit duidelik: dis nie slegs punte op die telbord wat tel nie, maar verál ook die herinneringe wat vasgevang word in elke wedstryd. Aan ál die matrieks wat vir oulaas hul skoene tuis vasgemaak het – jul passie, trots en vasberadenheid sal altyd deel van die baan bly.
Uitslae:
Volkskool 37, Dr. Malan 17
Transvalia 52, Gimnasium 8
Driehoek 34, Overvaal 12
- Tshwane dra kroon by Telkom Kampioenskap - 2025-07-15
- Delta maak stem dik by SASN All Ages 2025 - 2025-07-03
- Gabby Smith: Die stem van haar pa, die hart van haar span - 2025-06-20