SuperSport Schools Plus

Theresa Prince vat die leisels oor by Pearson

By Charne van der Merwe , in Netball | Featured Netball | News , at 2024-10-01 Tags:

Na ‘n dekade by Hoërskool Despatch, begin Theresa Prince ‘n opwindende nuwe reis as hoof van netbal by Hoërskool Pearson.

Met ’n nuwe seisoen op hande, sien sy uit na die wonderlike uitdagings wat op haar wag.

Netbal het nog altyd ‘n groot deel van Theresa se lewe uitgemaak. Sy het op sowel laer- as hoërskool vir die eerste span gespeel, en ook op provinsiale vlak meegeding.

Haar doelwit in hierdie nuwe rol is om ‘n genotvolle en innemende omgewing vir die netbalmeisies by Hoërskool Pearson te skep.

“Ek wil hê die meisies moet uitsien na naskoolse oefeninge,” sê sy. “Daar behoort groot opgewondenheid te heers oor Saterdag se wedstryde en ons toere moet ‘n onvergeetlike ervaring bied.”

Theresa is vasbeslote om ‘n lewenslange liefde vir netbal by haar spelers te kweek, met die hoop dat hulle sal voortgaan om hul passie vir die spel na te streef lank nadat hulle die skool verlaat het.

Theresa het regdeur haar netballoopbaan hoogte- en laagtepunte beleef. ‘n Beduidende hoogtepunt was om die hoogste skeidsregterskwalifikasie in Suid-Afrika, met ‘n A-gradering, te behaal.

In 2010 het sy internasionale status as skeidsregter verwerf en het sy as mentor op die skeidsregters se assesseringspaneel gedien. Met meer as 120 internasionale toetse agter haar naam, is sy nog die enigste Suid-Afrikaanse skeidsregter wat dié merkwaardige mylpaal kon bereik.

Theresa vetrek middel Oktober na Indië om skeidsregters te mentor en het verskeie Wêreldbeker- en Statebondspele bygewoon.

Sy het egter verlede jaar teleurstelling in die gesig gestaar toe sy as reserweskeidsregter by die Wêreldbekertoernooi in Kaapstad aangewys was. Sy erken dat dit ‘n ervaring was wat haar veerkragtigheid uitgedaag het.

Buiten haar prestasies as ‘n skeidsregter, is Theresa se leierskapsvaardighede duidelik in haar afrigtingsloopbaan. Sy het voorheen die eerste span by haar vorige skool afgerig, en hulle na verskeie Oos-Kaapse kampioenskappe gelei. Sy rig tans die o.21-span van Nelson Mandelabaai af, wat gereed maak vir die komende Suid-Afrikaanse kampioenskap in Johannesburg.

“Ek is trots op ál my prestasies as speler en afrigter,” erken sy.

Met haar uitgebreide ervaring en onwrikbare passie is Theresa gereed om die volgende generasie netbalspelers by Hoërskool Pearson te inspireer.

 

 

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.