SuperSport Schools Plus

Skolerugby uitslae – 11 Junie 2016

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-06-12

NewsG EldoraigneMooi rugby was dit nie, maar die spelers van Eldoraigne se glimlagte na hul sege van 17-10 oor Zwartkop het gesê dat dit nie saak maak nie.

Eldoraigne het met dié oorwinning nie net die bordjies teen sy aartsvyand verhang nie, maar ook sy plek in die uitspeelrondes van die Virseker Beeldtrofee vir Makroskole bespreek.

Zwartkop het die derby vroeër vanjaar tussen die twee spanne met 11-7 gewen. Dit was die Vikings se eerste sege oor Eldoraigne in vyf jaar gewees. Zwartkop se held in die sege Miche Groenewald moes gister vanaf die plaasvervangersbank speel. Sy verskyning in die tweede helfte het meer rigting aan sy span se aanslag gegee, maar kon nie dié keer die knoop vir sy span deurhaak nie.

Eldoraigne se heelagter, Riaan Burger, het met slegs ses minute oor in die wedstryd die wendrie vir sy span gedruk. Hy het dit self ook verdoel om seker te maak dat Zwartkop twee keer sou moes punte aanteken indien hul die kragmeting wou wen. Indien die wedstryd gelykop sou eindig sou Eldoraigne ook tot die streekkompetisie deurgedring het.

Die Hoërskool Waterkloof het met ’n sege van 25-20 oor Menlopark seker gemaak dat hy die streekkompetisie eers in die kwarteindronde sal betree. Klofies sal in die kwarteindstryd teen die Pumas se kampioen te staan. Die Hoërskool Nelspruit en HTS Middelburg spook volgende kwartaal sake in die Puma-eindstryd uit.

Die Hoër Jongenskool Paarl stoom steeds voort, maar moes wel hard werk om Boland Landbou met 31-24 die loef af te steek. Dit was Boishaai se 34ste agtereenvolgende sege op die rugbyveld. Die span se yster kantman Francke Horn het twee van sy kraglopies afgerond.

Brackenfell het op alle silinders gevuur om Hottentots-Holland met 93-0 kaf te draf. Die Brakkies se agtsteman, Sean-Douglas van Binsbergen, en die skrumskakel, Branden de Kock, was die grootste dorings in die verloorspan se vlees.

In Secunda in die halfeindronde van die Pumas se grootskole-liga was daar drama. Die tuisspan en verdedigende kampioen het gelykop teen HTS Witbank gespeel sonder dat enige van die twee spanne daarin kon slaag om punte aan te teken.

Die twee spanne sal mekaar Dinsdag weer die stryd aansê om te bepaal wie teen Ligbron in die eindstryd te staan sal kom. Ligbron het in die ander halfeindstryd vir Ermelo met 34-13 geklop.

Ben Vorster van Tzaneen moes op sy tuisveld hard werk om Frikkie Meyer van Thabazimbi met 46-31 onder te kry. Die Vossies het die wedstryd tussen die twee spanne vroeër vanjaar oortuigend met 72-8 gewen. Die besoekers het gister met nuwe planne in Tzaneen opgedaag.

Die Hoërskool Pietersburg was met 56-12 oor die HTS Tom Naudé in die ander halfeindstryd baas.
Lichtenburg het die bordjies op Olënpark in Potchefstroom teen Potchefstroom Gimnasium met 31-27 verhang.

Gimmies was naelskraaps in hulle ligawedstryd met 31-30 baas. Lichtenburg sal in die eindstryd teen Potchefstroom Volkskool te staan kom wat vir Wesvalia in die ander halfeindstryd met 31-19 die loef afgesteek het.

In die Leeus se grootskole-liga het Linden vir ’n verrassing gesorg deur die Hoërskool Alberton in die halfeindstryd met 13-10 te troef. Linden kom nou in die eindstryd teen Dinamika te staan om te bepaal wie saam met Helpmekaar-kollege se Beeldtrofee sal betree.

Al die uitslae: 

NOORDVAAL

Blou Bulle: Eldoraigne 17, Zwartkop 10; Waterkloof 25, Menlopark 20; Oos-Moot 49, Midstream College 8; Pretoria-Noord 20, Hoërskool Tuine 20; Die Wilgers 61, HTS Tuine 10; Gerrit Maritz 51, Akasia 5; St. Alban’s College 36, St. Charles College 0.

Leeus: Monument 55, King Edward VII 17; Jeppe High School for Boys’ 36, St. John’s College 28; Linden 13, Hoërskool Alberton 10; Fochville 38, Leeuwenhoff 0; Trinityhouse 45, Queens High 14; Carletonville 15, Roodepoort 14; President 20, AHS Germiston 12.

Limpopo: Ben Vorster 46, Frikkie Meyer 31; Hoërskool Pietersburg 56, HTS Tom Naudé 12; Ben Viljoen 51, Louis Trichardt 6; Merensky 35, Hans Strijdom 6.

Luiperds: Lichtenburg 31, Potchefstroom Gimnasium 27; Potchefstroom Volkskool 31, Wesvalia 19; Grenswag 35, Wolmaransstad 19.

Pumas: Secunda 0, HTS Witbank 0; Ligbron 34, Ermelo 13; Penryn College 25, Lowveld High 0; Kanonkop 36, Oosterland 5.

Valke: Kempton Park 30, Marais Viljoen 14; Hugenote (Springs) 23, Dr. Malan 17; Generaal Smuts 22, Voortrekker (Boksburg) 12.

OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL

Dale College 69, Cambridge 0; Kearsney College 53, St. Benedict’s College 24; Glenwood 26, Westville Boys’ High 3; Graeme College 19, Union 14; Kingswood College 21, Hoërskool Grens 8.

WES-KAAP

Hoër Jongenskool Paarl 31, Boland Landbou 24; Rondebosch Boys’ High 15, Bishops 14; HTS Drostdy 27, Tygerberg 19; Brackenfell 93, Hottentots-Holland 0; SACS 24, Wynberg Boys’ High 12; DF Malan 29, Hugenote (Wellington) 26.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.